’n Fees vir smulpape

AGTERBLAD

’n Fees vir smulpape

Die Fomolistas is liries oor heerlike kos en drankies, maar hou 'n gesonde lewenstyl in die oog.

  • 05 April 2024
  • Vrye Tyd
  • 4 min om te lees
  • artikel 15 van 27

Aanhaling van die week


Read this article in English:


Name om dop te hou

Ontmoet Nokx Majozi, 'n Suid-Afrikaanse sjef en hoofpasteimaker by The Pie Room by die Holborn Dining Room, 'n bekroonde restaurant in Londen se Holborn-omgewing. Majozi het haar tuisstad, Durban, in 2001 op 22-jarige ouderdom verlaat om 'n liefde vir kook na te streef wat sy van haar oorlede pa geërf het. Sy woon nou in Londen saam met haar man en dogter.

Hier is sy in aksie:

Gesien op Instagram

As jy obsessief is met beeldmateriaal en die nuutste mode- en kosmetiekstyle, hoef jy nie verder te soek as hierdie radikale platform by die “intersection of Art, Culture, Ancestral AI & Neuro-Design" nie. Volg @Samaritual.

Die Suid-Afrikaanse stylghoeroe Neville Trickett het 'n aanlyn winkel waar jy van die beste vondste kan koop wat hy oor die jare heen versamel het. Hierdie een is immergroen. Volg @SaintVerdesurplus.

Vonds(te) van die week

Hello Asia! in Seepunt in Kaapstad is Laureen en Anneliese se gunsteling- Oosterse supermark. Die netjies gestapelde rakke in hierdie winkeltjie het alles van bamboes-kombuisware en lieflike glasware tot elke denkbare spens-stapelvoedsel vir Oosterse kookkuns (en selfs Anime-beeldjies en -produkte). En die pryse is briljant.

Ons beveel hierdie bekostigbare, maar fantastiese sojasous aan (R145 vir 'n 1,9 liter), asook Lao Gan Ma Crispy Chilli, die oorspronklike handelsmerk van chilli crisp (R58). En ons kan die Kuki Naturally Pressed Sesame Seed Oil (R95) hoog aanbeveel.

Voorts kos 'n 1 kg-hervulpak van Kewpie-mayonnaise net R155.

Die Wang Korea Kimchi is fantasties (R153). En Tiger Balm (R82). 'n Absolute classic. En Bonito-flokkies, wat mens nie sommer in die hande kry nie.

Ons ander vondste sluit in 'n Ichiro Japannese sasjimi-mes (R576) en hierdie wonderlike slypsteen (R202) vir messe.

Hierdie en baie ander items is aanlyn beskikbaar en word oor die land heen afgelewer.

In die winkel het ons ons voorrade van pakkies ryspapier en groot sakke bevrore, bekostigbare edamame-boontjies aangevul (vergeet daardie klein duur bakkies van Woolworths), asook glashouers met bamboesdeksels (pryse vanaf slegs R32!). Ons hou daarvan om dit vir speserye te gebruik. Ons het ook skropborsels met houthandvatsels (R18 elk) gekoop – ideaal vir die skoonmaak van kleefvrye kookware, en die handige langsteelsiffies (R48).

Die glasteepotte is te mooi vir woorde. Maar ons werklike groot vonds? Die Beauty Cosme-gesigmaskers. Hulle kos slegs R22 elk en is so goed soos dié van die bekende Payot-handelsmerk waaroor ons al voorheen liries geraak het.

Kos

Ken jy die ander bossietee?

Hier en daar is ’n mens in die wêreld wat Suid-Afrika se stiefkind-fynbostee, heuningbos, bo sy wêreldster, rooibos, verkies. Heuningbos kan enige van ’n hele klomp Cyclopia-spesies wees, maar dit is net Cyclopia subternata (vleitee) en Cyclopia genestoides (kustee), wat kommersieel verbou word. Dis ’n soet en geurige inheemse kruietee, selfs lekkerder as rooibos, maar die statistiek sê dat almal dit nie weet nie, of dat smaak erg verskil.

’n Paar jaar gelede is volgens Landbouweekblad slegs sowat 500 t heuningbostee geoes, teenoor die sowat 12 000 t rooibos. Dis moeilik om heuningbostee in die hande te kry. Hier en daar kry jy dit by ’n Kaapse padstal, maar dan is dit gewoonlik nie goedkoop nie.

As jy in die Kaapse Skiereiland bly, kan jy dit by Dried Fruit for Africa by die Okavango Junction-sentrum in Brackenfell teen ’n redelike prys van R44 vir 125 g en R122 per 500 g kry. Jy kan dit ook aanlyn by driedfruitforafrica.co.za bestel.

Leef gesond

Vyf gesondheidsvoordele van kaneel:

Kaneel word gemaak van die binnebas van kaneelbome en word al duisende jare medisinaal gebruik om toestande soos koors en inflammasie (die verborge gevaar) te behandel, verkoue en diarree te voorkom en metaboliese gesondheid te verbeter. Maar die grootste voordeel is die regulering van glukose en insulien in die bloed.

Volgens Forbes Health kan die daaglikse inname van slegs klein hoeveelhede kaneel help om mense met vetsug se bloeddruk te verlaag.

Sprinkel oor jogurt met appel en heuning vir ontbyt of oor roosterbrood. Oranje groentes en kaneel is vir mekaar bedoel. Sprinkel oor geroosterde patats, of probeer hierdie geroosterde botterskorsie met bruin botter en kaneel. Of geroosterde pruime met kaneel? Heerlik met dik, ongegeurde jogurt.

Bou spiere met rekbande

Gebruik rekbande om jou kardiovaskulêre oefening aan te vul. Dis goedkoper as gewigte.

Ilse Bigalke, een van ons Fomolistas wat onlangs haar bo-arm gebreek het, kan nie uitgepraat raak oor die rekbande wat sy vir haar rehabilitasieprogram gebruik het nie. Sy het nie net ten volle herstel nie, maar spog nou met 'n paar meer spiere.

Volgens 'n artikel in The Conversation help rekbandoefeninge om krag op te bou, metabolisme te bevorder, spieragteruitgang te keer en spiermassa te laat toeneem.

En dis bekostigbaar. 'n Stel van vyf weerstandsterktes by Takealot kos byvoorbeed net R149. Kyk ook by alle sportwinkels en sommige apteke soos DisChem.

Kook

Maak hierdie Koreaanse wrappers met die ryspapier wat jy by Hello Asia! gekoop het! (Hoewel hulle geredelik by Oosterse winkels beskikbaar is, hou Woolworths dit ook in voorraad.) Ons gebruik graag die kleiner weergawe. Jy kan hoender of garnale byvoeg as jy 'n nie-vegetariese element wil hê.

Video van die week

Songs wat hierdie jaar 50 jaar oud word.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.