Tussen doodsangs en vraatsug aan die Kaap van Onheil

Onhersiene geskiedenis

Tussen doodsangs en vraatsug aan die Kaap van Onheil

Die verhaal van die botsings tussen Jan van Riebeeck se mense en die bewoners van die Kaapse skiereiland is een van doodslag en gierigheid, maar ook van waardigheid en leierskap, skryf JEREMY VEAREY.


DIE skrikbeeld wat Jan Van Riebeeck en sy Kompanjie-amptenare een vroeë herfsoggend in 1658 vanaf die fort se wagtorings in Tafelbaai begroet het, moes seker insgelyks gevoelens van doodsangs en vraatsug onder hulle wakker gemaak het. 'n Eendragtige gewemel van duisende wit langhoringbeeste en skape, Kochokwa-krygers en reusevuurbakens wat die land vanaf die Eersterivier in die ooste tot anderkant die Tygerberg in die weste die afgelope drie dae beset het, het nou op hul drumpel gedreig.
Autshumao en Krotoa van die Goringhaikona het hulle al vertel van Oedasoa en sy krygsheer Ngonnemoa van die veeryke Kochokwa-mense, wat aan die land vanaf Saldanhabaai langs die Bergrivier tot in Valsbaai behoort het. Maar in sulke groot massas en só naby die fort is hulle nog nooit in volle gang gesien nie. Soveel so dat een gulsige Kompanjie-amptenaar daardie dag die Kochokwa se vee beskryf het as “ 'n groot menigte fraai beeste, oor die 100 000 in totaal, en omtrent 200 000 skape.”
Sersant Jan Van Herwaerden, 'n Kompanjiesoldaat, was meer bekommerd oor wat hy gesien het. Hy skryf soos volg oor daardie dag: “So 'n oorvloed van beeste dat daar geen einde te sien was nie, wat ook in 'n halwe dag al die weiveld sou kaal maak van die hele omgewing van hierdie Kaap met alles wat die Kompanjie en die vryburgers besit”. 
Gelukkig was die Kochokwa nie daar vir die fort se mense nie, en behalwe vir die stroop van besette weivelde het Van Herwaerden geen rede tot kommer gehad nie. Oedasoa kon hulle geensins gewaar nie, want dié se hoofkraal was ver buite bereik langs die Mooibanksrivier wes van Perdeberg. Nie eens toenadering deur die tolk Krotoa, wie se suster Oedasoa se vrou was, het geslaag om direkte kontak of veehandel te bewerkstellig nie. Hierin het Oedasoa geensins belanggestel nie, want hy was hier vir 'n groter doel.
Van Ngonnemoa was daar baie te sien, want dié en sy geraamde 8 000 krygers het die skiereiland gepatrolleer en aanvalle geloods teen die Goringhaikona in die suide, Chainokwa na die ooste en Autshumao se verwesterde Khoi. Dieper noord het die Gurikwa en Namakwa ook om dieselfde rede deurgeloop. Hierdie handel in vee met die fort was onaanvaarbaar. Volgens Oedosoa en Ngonnemoa is die fortbewoners, namate hul veegetalle deur sulke handel gegroei het, gedryf om meer weiland vir hulself ten koste van ander stamme toe te eien. 
Skrikgedaante met 'n swartgeverfde gesig
Ngonnemoa se strafoperasies om die skiereiland se stamme onder Kochokwa se gesag te bring, het gelei tot die oorlog van 1659 tot 1660 teen die geallieerde skiereilandstamme, met die fort as laasgenoemde se rugsteun. Dis in hierdie tyd dat die fortkommandos Ngonnemoa uitgekryt het as die “Swart Kaptyn”, 'n skrikgedaante met 'n swartgeverfde gesig. Min te weet dat hierdie roetverf-verfraaiing alledaags onder Kochokwa-mans was en niks met slagveldsieraad te make gehad het nie. 
Ná 1660 het die fortkommandos en geallieerde stamme se skermutselinge met die Kochokwa meestal die vorm van veestrooptogte tot diep in die Bergriviervallei aangeneem. Hier is vee aan beide kante gebuit en het meestal veewagters en vryburgers gesneuwel. So het dit voortgeploeter tot in 1773 met die aanvang van 'n nuwe geallieerde oorlog teen die Kochokwa, nou met die fortkommandos as voorvegters.
In die herfs van 1773 sneuwel sewe Kompanjiemans toe hulle tydens 'n jagtog op seekoeie en renosters in die Bergriviervallei bots met die Sankwa (“Boesmans”), die Kochokwa se genote en verkenners. Vir die Sankwa, wat toe al sedert 1652 van hul gewone jagvelde in die skiereiland verjaag is, moes hierdie voorval so diep in die Bergriviervallei seker erg onstel het. In die opeenvolgende strafekspedisie deur die fortkommandos word vier Kochokwa gevang en na die fort gebring. Hier word hulle voor die hoofingang deur omtrent 'n honderd Khoi-mans met knopkieries doodgeslaan. 
In die oorlog wat gevolg het, is daar geen rekord van Kochokwa- of Sankwa-gesneuweldes nie. Fortkommandos kla wel dat hulle gewoonlik net klein hoeveelhede agtergelate vee vind, sonder enige teken van Ngonnemoa of Oedasoa. Laasgenoemde se intelligensienetwerk blyk ook so goed te wees dat hulle gewoonlik lank voor die tyd van enige beplande aanval weet. 
Disenterie-epidemie uit fort
Oedasoa en Ngonnemoa is nooit op die slagveld verower nie. Dit het 'n disenterie-epidemie wat in die fort begin het geverg om hulle gevegsvermoë stelselmatig te verteer. Dit sowel as veerooftogte aan ʼn wye front deur die fortkommandos en hul geallieerde Khoi-bondgenote. So, die afgevaardigdes van Oedasoa en Ngonnemoa wat op 25 Junie 1677 'n vredesverdrag by die fort gesluit het, was nie dié van 'n verslae Kochokwa nie. In Augustus 1677 lewer Oedasoa en Ngonnemoa elkeen 'n vredestoespraak aan die politieke raad van die Kompanjie. Bowenal, dié pragmatiese maar beginselvaste leier van die Kochokwa-volk en sy krygsheer het uiteindelik onoorwonne en waardig uit die stryd getree.
Oedasoa en Ngonnemoa is albei in 1689 aan natuurlike oorsake dood, en nie lank daarna die land waaraan die Kochokwa behoort het, van onnatuurlike oorsake. En sonder daardie land om aan te behoort, kwyn hul ontologiese spore in ons. Die Sankwa maak wel vandag nog hul eie ontologiese spore, maar dit is beperk tot die afgebakende jagvelde van die staatsbeheerde Kgalagadipark.
En die vredesverdrag wat hulle onderteken het? Wel, kort daarna het die Kompanjie dit verydel en stropers ingespan om seekoeie en renosters te jag in die land waaraan die Kochokwa behoort het. Die ironie is dat dit gedoen is om die groeiende slawebevolking van die kolonie te voed. Die res, soos hulle sê, is onhersiene geskiedenis.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.