’n Eeu van dieselfde rasdeuntjie

EERS NIE WIT GENOEG, NOU NIE SWART GENOEG

’n Eeu van dieselfde rasdeuntjie

Sy ma was 'n bruin vrou wat stadig en pynlik dood is in 'n agterkamer op die Kaapse Vlakte. Die las wat sy deur die lewe gedra het, was nie toevallig nie, dit was die gevolg van beleid, skryf ISMAIL LAGARDIEN in reaksie op 'n groep navorsers se bevindinge oor bruin vroue se “kognitiewe funksionering”.


DIS op beste van tye moeilik om objektief en intellektueel eerlik te bly en nie persoonlik te raak oor maatskaplike, politieke en ekonomiese kwessies nie. In reaksie op onlangse bevindinge oor “kleurlingvroue” deur 'n span navorsers van die Universiteit Stellenbosch het ek aanvanklik 'n stuk voorberei wat woedend, uitlokkend en beskuldigend was.
Ek het gedaal tot aaklige neigings van vingerwysery en die retoriek van wit bevoordeling. En ek hou regtig nie van identiteitspolitiek nie. Ek is 'n outydse sosiaal-demokraat wat glo in wat die Palestynse akademikus Edward Said beskryf het as nie-identitêre humanisme. Hierdie tipe humanisme is beslis nie die soort wat gesmous word deur mense soos Jordan Peterson nie.
En wat versprei word deur instellings wat moed gekry het danksy Donald Trump se presidentskap en die opkoms van etniese nasionalisme nie, veral in Europa, waar daar gevrees word vir “die agteruitgang van die Westerse beskawing”.
My eerste gedagte oor die Stellenbosch-span se navorsingsbevindinge was rondom gesetelde mag, van hoe institusionele kaping opgedis word in akademiese instellings (veral Stellenbosch), waar die ou garde (ek probeer baie hard om nie “wit Afrikaner” te sê nie) geskuif word tussen universiteite deur netwerke van baantjies vir boeties.
My begrip van hoe hierdie stelsels werk, illustreer sterk bande tussen historiese manlike Afrikaner-oorheersing en die navorsingsbevindinge oor “kleurlingvroue”.
Ek het gekyk na die bewyse (wat ek op legger het), en besef hoe (sommige) akademici wat vir dekades deel van die stelsel was (veral organiese intellektuele met bande met Stellenbosch), hulself nou voorhou as onmisbaar – selfs ook as agente vir “transformasie” of “verandering”. Ek het ook gekyk na bewyse van hoe (sekere) nuwe personeellede te bang is om hul werk te verloor of om hul eie opgang te belemmer, en dus verkies om stil te bly…
Vir die rekord
Vir die rekord wil ek drie punte stel: Eerstens, toe ek bedank het as uitvoerende dekaan van sake- en ekonomiese wetenskappe aan die Nelson Mandela-universiteit in Oktober 2017, het ek 'n vertrouensooreenkoms onderteken wat my verhinder om presies te vertel hoekom ek geloop het. Toe ek weg is, het die universiteit darem my verbintenis tot transformasie in 'n verklaring geprys.
Die tweede punt is dat ek nie belangstel in 'n pos op Stellenbosch nie. Ek het voorheen vir 'n betrekking daar aansoek gedoen, en aanvaar ten volle dat ek nie die kortlys gehaal het nie. Ek verwag nie van hulle om enigiets wat hier geskryf is, te aanvaar of begrip te hê vir die geslepe maniere waarop hulle manlike Afrikaner-oorheersing en wit bevoordeling bevorder het nie. Dit word kortliks hieronder vertel deur die verhaal van my ma.
Derdens, ek hou regtig nie daarvan om te hamer op wit bevoordeling nie, maar dit beteken nie dat dit nie bestaan nie. Ek verag identiteitspolitiek. Dit was die grondslag vir apartheid, vir die Nazi’s se haat vir Jode en vir etniese suiwering in die voormalige Joego-Slawië, en vir die volksmoord in Rwanda. Hierdie haat en slagting begin gewoonlik met die noem van name.
Bevoordeling
Terug na my eerste indruk van die bevindinge oor “kleurlingvroue” deur die navorsers verbonde aan Universiteit Stellenbosch.
Ter wille van goeie oordeel en  joernalistieke praktyk het ek uit my aanvanklike stuk die name verwyder van mense wat geïnstitusionaliseerde (wit Afrikaner-) bevoordeling verteenwoordig het, en hoe hulle stelsels van kennis gevestig en aangebied het as vasstaande en vir ewig geldig.
Sommige van hulle, wat dalk, of dalk nie, sterk bande met die ou Broederbond het, verteenwoordig Suid-Afrika vandag nog by internasionale kongresse oorsee. Hulle is deesdae gerespekteer.
Hierdie aansien herinner aan hoe die Italiaanse fasciste hulself ná die Tweede Wêreldoorlog herskep het as Christen-Demokrate en naatloos aanvaar is sonder om hul kernwaardes prys te gee. Dink vir 'n oomblik daaroor.
My ma se storie
Laat my toe om kortliks die storie te vertel van my oorlede moeder, 'n “kleurlingvrou” wat volgens sekere Stellenbosse akademici (is ek seker) “'n groter risiko van lae kognitiewe funksionering, weens lae opvoedingsvlakke en ongesonde leefstylgedrag” gehad het.
In vele opsigte is my ma se storie nie ongewoon nie. Dit is gevorm deur die gemeenskap waarin sy gebore is en waarin sy geleef het. Geen deel daarvan was toevallig of natuurlik nie, ongeag wat die slim mense van Stellenbosch jou mag vertel.
Ek sou natuurlik die problematiek rondom die navorsing se dieper filosofiese, teoretiese en metodologiese kwessies kon bespreek. Maar nou ja, ek is nie 'n akademikus nie.
Tot haar dood ses jaar gelede het my ma, Kulsoom Lagardien, byna 90 jaar van haar lewe as 'n tweedeklasburger deurgebring.
Sy was 'n tweedeklas-burger met 'n tweedeklas- sosiale stand. Sy het slegs toegang gehad tot tweedeklas-opvoeding en tweedeklas-gesondheidsorg. Hierdie status is met geboorte gevestig deur die staatsbestel van die Unie van Suid-Afrika, onder leiding van genl. Barry Hertzog, 'n Stellenbosch- graduandus.
Dis ook bevestig deur die Nasionale Party-regering van 1948, gelei deur Daniël Malan ('n Stellenbosch-graduandus). En dit is ingehamer deur Hendrik Verwoerd toe die land in 1961 'n republiek geword het. Verwoerd was 'n Stellenbosch-graduandus.
Verplasing en gedwonge verskuiwings
My ma is gebore in wat bekend was as Maleierkamp in Johannesburg en het haar kinderdae in Fietas (vandag Pageview) deurgebring. Daar het sy getrou met my pa, 'n konstruksiewerker van die Oos-Kaap, en ek is daar gebore.
My ma was 'n Maleier (of kleurling), deel van 'n laer klas wat die naaldwerksters, wasvroue en huishulpe van die wit setlaar-kolonialiste was. Vir die res van haar lewe het “die stelsel” haar, en ons familie, geskuif van een uithoek van die land na die ander, met ons in 'n konstante staat van verplasing. Ons was nooit hier of daar nie, nooit deel van iewers nie en ewig in wording.
Kort ná my geboorte, toe my ma 29 jaar oud was, is ons gedwing om te skuif uit 'n tweeslaapkamerwoning in Fietas, waar 'n enkele putlatrine en een waterbron omtrent tien families moes bedien.
Kort ná my geboorte, net nadat ek dood verklaar is deur die mediese professie (dit was 'n wonder dat ek ouer as 12 maande geword het) het ons getrek na die Oos-Kaap, waar my oupa aan my pa se kant, Moegamat Lagardien, 'n pragtige ou Victoriaanse huis besit het. Hy was een van die waarlik talentvolle snyers in die Maleise gemeenskap van Port Elizabeth, Uitenhage en Grahamstad. Ek was gelukkig in Grahamstad. As kind het ek my verwonder aan die sonstrale wat deur die gebrandskilderde glasvensters geval het, en het vye geëet van die boom in ons agterplaas. Teen die middel-1960’s is ons (weer) “gevra” om te trek.
Terug na Fietas
Die kern van Grahamstad is uitgehou vir wittes. Ons (daar was nou agt van ons) het teruggetrek na Johannesburg en  'n enkelkamer in Fietas, net voordat die laaste golf van gedwonge verskuiwings mense geneem het na Eldorado Park, Noordgesig, Bosmont, Lenasia en ander dele van die suidwestelike townships.
Hierdie keer het vier van ons kinders 'n enkelbed gedeel. Op 'n kis tussen twee beddens was 'n Primusstofie. My ouers het op 'n tweede bed geslaap. Twee van my broers het saans geslaap by my oom Omar se huis oorkant die straat.
Ook oorkant die straat, agter my oom se huis in 25ste Straat, was twee toilette en twee krane wat sowat 30 mense bedien het. Om by die toilette te kom, moes ons loop deur 'n gangetjie langs 'n veld waar sorghumbier in gate gebrou is.
Die plek het gestink na pie, stront en bier. Dit was waar my ma ons kos gegee het, en waar my voortdurende brongitis verander het in brongiëktasie omdat ek nooit ontslae kon raak van kinkhoes nie. My familie was te brandarm vir ordentlike mediese sorg.
Ons bly aan sweef
Aan die einde van die 1960’s – daar was nou nege van ons, asook my oupa aan ma se kant (hy was eens 'n gesiene imam in Johannesburg) – het ons na Eldorado Park getrek.
Omdat ons huis oorvol was, is ek gestuur na Kaapstad se Distrik Ses om by een van my ma se niggies, Antie Jawaya, te gaan woon. My ouers moes ons uitdeel onder die uitgebreide familie. Een van my broers het 'n groot deel van sy kinderdae by 'n gesin in Noordgesig deurgebring. Kort nadat ek in Distrik Ses aangekom het, is my tannie en haar familie, en my beste vriende, “gevra” om te trek na Retreat, Manenberg of Hanover Park, en later na Mitchells Plain.
Hierdie verskuiwings was nie toevallig nie. Dit was beleid. My swak gesondheid was as gevolg van die feit dat ek gebore is in 'n donker, klam, koue vertrek sonder lopende water of elektrisiteit. En my ma moes daardie las dra.
Hande-arbeid
Teen die tyd toe ek van Distrik Ses af terug is na Eldorado Park, was ek verpolitiseerd. Die Bevolkingsregistrasiewet, die Groepsgebiedewet (ek glo dit het gesorg vir veilige, lekker behuising vir ouskoolse Broederbonders en Stellenbosch-alumni) en mislukkings in Kleurlingsake-opvoeding het my gedryf na hande-arbeid voor die ouderdom van 17 – eers op 'n bouperseel en daarna die dokke.
In die middel-1970’s het ek van die huis af weggeloop en in vreemde plekke beland, hier en daar stukkies opvoeding bygekry, teruggekeer en verskeie los werkies gedoen (ook by 'n karwassery) terwyl ek gelees en geleer en 'n geldjie kon verdien as junior verslaggewer.
Op 'n manier het ek by die London School of Economics beland. Baie jare later, in 2011, het ek my na my ma se sterfbed gehaas. Sy is stadig en pynlik dood in 'n agterkamer op die Kaapse Vlakte. My pa het haar 'n jaar later gevolg.
Doktorsgraad
Ek het uiteindelik 'n doktorsgraad behaal. En toe kom Universiteit Stellenbosch in die prentjie. Ek het aansoek gedoen vir 'n pos daar en is afgekeur op suiwer akademiese gronde. Hoewel ek die besluit aanvaar het, kon ek nie help om te dink aan 'n storie wat destyds die rondte gedoen het ná my vertrek van Nelson Mandela-universiteit nie. Dit is versprei deur die skindernetwerk van ou Afrikanerboeties – dat ek “nie van wit mense hou nie”. Ek word kontraktueel verhinder om my kant van die saak te stel.
Dan was daar 'n ander onsmaaklike ervaring met Stellenbosch. Gedurende die winter van 2011 is ek vertel (ek het nog die kommunikasie) dat ek nie voldoen aan die universiteit se diversiteitsvereistes nie.
Vreemd hoe dinge werk. Die Afrikaners het my tydens Apartheid vertel ek is nie wit genoeg nie, en nou het hulle my vertel ek is nie swart genoeg nie.
Om billik te wees: ek is ook deur 'n wit akademikus van die Universiteit van Kaapstad vertel dat ek as 'n bruin man weinig kans het om 'n pos daar te kry, en dat 'n Afrikaan van die kontinent die gekose kandidaat sou wees. Dis seker maar reg so ...
Een kwessie wat my verbyster het, was dat in dieselfde kommunikasie van Stellenbosch, waarin ek (deur 'n wit professor) vertel is ek voldoen nie aan hul diversiteitsvereistes nie, ek ook gevra is of ek 'n lesing oor kritiese politieke ekonomie sou aanbied.
Ek het ingestem en dit gedoen sonder betaling. Swart (oukei, bruin) studente het ná my twee uur lange lesing en bespreking die volgende gesê: “Ons is bly dit was 'n persoon van kleur wat gekom en ons verstom het.”
Wit (Duitse en Noorweegse) studente het gesê: “Hierdie twee uur was die mees insiggewende en opwindende gebeurtenis van die jaar.”
So, volgens Stellenbosch het ek die verkeerde velkleur, maar my verstand is piekfyn.
Waarheen is dit alles op pad? Nêrens – die maniere waarop mag op Stellenbosch geanker word, maak dit maklik om die bevindings van die onlangse navorsing te begryp: dat bruin vroue werklik nie baie slim is nie. Bruin vroue soos my ma. Van Hertzog tot Malan en Verwoerd, oor bykans 100 jaar het Universiteit Stellenbosch ten minste dieselfde deuntjie bly fluit.
Hooffoto: Gedwonge verskuiwings ... Swart mense van Sophiatown in Johannesburg moes in die apartheidsera plek maak vir die wit voorstad Triomf (Sydney Sheshibedi)

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.