LIEFDE en welwillendheid is dalk verniet, maar niks anders nie. Uiteindelik betaal iemand.
As jy Vrye Weekblad tot nou geniet het en voel dit voeg waarde tot jou lewe by, wil ons jou vra om van 2 Februarie af 'n maandelikse bydrae te maak om te sorg dat ons kosbare “markplein van idees” oorleef en groei.
Ek kan my nie indink dat jy tevrede gaan wees om jou vir menings, ontledings, idees en briljante skryfwerk op sosiale media en/of die ander voorspelbare aanbiedings te verlaat nie.
Meer as enige ander publikasie behoort Vrye Weekblad aan jou, die leser. Julle is ons gemeenskap, ons familie. 'n Klein bedraggie elke maand gaan beteken ons gaan gesond bly en net beter en beter word.
Lesers kan van Maandag af op Vrye Weekblad begin inteken. Die huidige uitgawe gaan tot Donderdagnag gratis leesbaar wees, maar ons volgende uitgawe, op 2 Februarie, gaan net vir intekenare leesbaar wees. Ons Daagliks-bulletin sal steeds gratis aan geregistreerde lesers gestuur word.
'n Uitgawe van Vrye Weekblad gaan jou minder as een liter petrol of 'n enkele cappuccino kos: R18,75, of R75 per maand. ('n Enkele McMeal by McDonalds kos R80.)
Maar ons spring weg met 'n baie spesiale aanbod: teken vir ses maande in, en betaal net R275, dus R11,45 per uitgawe, amper R4 minder as 'n brood.
(Ai, hoe voel ek dan nou soos 'n verkoopsman. Maar ek wil net seker maak jy besef hoe bekostigbaar dit is.)
Soos ons laasweek verduidelik het, wil Vrye Weekblad sy verbintenis tot 'n beter samelewing ook op 'n praktiese vlak dien, en gaan ons jou vra of jy bereid is om R5 per maand ekstra te betaal wat ons dan aan Ladles of Love en Gift of the Givers gee vir noodleniging aan behoeftiges of om honger en ondervoede kinders kos te gee.
As jy ja sê vir die R5, betaal jy dus R80 per maand. Die R5 is reeds ingereken in die spesiale aanbod van R275 vir ses maande.
En dan is daar ons Staatmakers, lesers wat al aangedui het hulle wil graag meer as die minimum-bedrag betaal om ons gesonde oorlewing te verseker. Staatmakers kry 'n hele paar byvoordele:
- Hulle kan kies of hulle 5 artikels per maand aan vriende en kennisse wat nie intekenare is nie, wil stuur; en of hulle iemand wil borg wat nie kan bekostig om in te teken nie.
- Staatmakers word deel van 'n WhatsApp-groep en kry elke week 'n vars video van my en kollega Anneliese Burgess, plus ander binne-inligting en insae.
- Staatmakers kan al ons boeke- en ander feeste gratis bywoon.
- Staatmakers kry 'n wapentjie langs hulle name wat hulle statuse reflekteer as hulle in ons kommentaarseksie kommentaar lewer.
- Staatmakers word uitgenooi om ons te laat weet watter soort artikels of onderhoude hulle graag sou wou sien.
Die Staatmakertarief is R180 per maand, wat die maandelikse R5 vir honger kinders insluit.
En, les bes, as jy dalk net nie R75 per maand kan bekostig nie maar tog elke week wil lees wat ons aanbied, vra ons jou om 'n boodskap aan Theuns Venter by theuns@vryeweekblad.com te stuur, wat ons hoogs vertroulik sal hanteer, en ons sal jou via die Staatmakers se bydraes borg.
'n Laaste woord aan my vriende wat dit breër het as die meeste van ons: julle kan gerus vir 'n jaar lank inteken vir R960, of R2 160 in die geval van Staatmakers.
Ja, jy kan per EFT betaal as jy nie jou kredietkaart of debietorder wil gebruik nie.
Ek weet ek raak skoon senuagtig as ek voor my rekenaar moet gaan sit en goed invul om op iets in te teken. Ek kan jou verseker ons proses is baie eenvoudig en baie maklik, met 'n spesiale WhatsApp-nommer (071 170 8927) waar jy vir Theuns kan raad vra as jy vasbrand.
Ek hoop van harte elkeen van julle wat ons tot sover gelees het, gaan inkoop.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.