DIE veelbekroonde dramaturg en regisseur, Athol Fugard, is die naweek op 8 Maart op die ouderdom van 92 oorlede by sy huis in Stellenbosch. Hy word beskou as Suid-Afrika se grootste teaterman en beklee 'n ereplek in die internasionale teaterlandskap as 'n grensverskuiwende dramaturg, regisseur, skrywer en akteur wat daarin geslaag het om 'n kenmerkende styl te skep wat Afrika- en Westerse opvoeringstegnieke vermeng het.
Hy was op 'n tyd die mees opgevoerde lewende skrywer en dramaturg in die wêreld en het bekendheid verwerf as 'n baanbreker in die apartheidsjare wat apartheid sonder ophou in die toneelwêreld en elders teengestaan het. Maar sy stem strek veel wyer: Sy toneelstukke verdedig en verteenwoordig 'n fundamentele universele menslikheid wat fokus op die alledaagse bestaan van gewone, soms arm mense van alle soorte.
Fugard is in 1932 in Middelburg in die Karoo gebore en het hoofsaaklik in die destydse Port Elizabeth grootgeword. Hy het meer as 40 dramas geskryf, in 'n hele paar gespeel en ook rolle in films soos Gandhi vertolk. Die pryse, doktorsgrade en ander vererings wat hy ontvang het, strek oor 'n wye spektrum, en sluit in 'n Kunste Onbeperk-toekenning vir lewensbydrae tot die teater in 2019.
Vir meer as 'n halfeeu het hy sielsopenbarende toneelstukke geskryf met rolle vir alle rasse wat gehore in Suid-Afrika en regoor die wêreld diep geroer het deur die onmenslikheid van apartheid in sy werk te ontbloot. Dit sluit in stukke soos The Blood Knot, Boesman and Lena, Master Harold and the Boys, The Road to Mecca en The Train Driver.
Mannie Manim, stigter van die Markteater en Fugard se jarelange vriend en kollega, het oor hom gesê: “As extraordinary and gifted as Athol is as a writer and director he is as a human being. When he speaks to you, and I have also seen him do this with perfect strangers, he makes you feel that you are the most important person in the world to him at that moment.”
Dit was nie maklik vir Fugard om sy radikale visie te kommunikeer nie, aangesien die apartheidswette dit nie toegelaat het dat mense van verskillende rasse met mekaar in wisselwerking tree nie; en vir 'n tyd lank is hy verbied om buite Suid-Afrika te reis. Ten spyte van sensuur deur die staat het Fugard se werk internasionale lof verwerf, en het hy ’n leidende stem in die anti-apartheidsbeweging geword.
I am deeply saddened by the passing of my dear friend Athol Fugard. May his soul rest in eternal peace. Elder 🌹 pic.twitter.com/BVrKRczUxB
— JOHN KANI OIS OBE (@KANI_ELDER) March 9, 2025
“Athol Fugard will undoubtedly be remembered across the globe as one of South Africa’s greatest contributors to this century’s theatre-writing. His plays are a testimony of how humanity unravels itself when brutal conditions determine people’s existence. In his quest for delving into the human experience Athol Fugard’s plays offered hope where there was despair, courage where there was dismay and resilience when all else seemed to be getting lost,” sê Ismail Mohamed, wat as hoof van die Grahamstadse kunstefees etlike van sy stukke laat opvoer het.
Fugard se dilemma was dikwels dat hy oor die vernedering van swart en die bruin mense geskryf het terwyl hy self die voorregte van Suid-Afrikaanse wittes geniet het – hy was vanuit die staanspoor bekommerd oor vraagstukke soos kulturele toe-eiening en het daarom die praktyk van werkswinkels van sy stukke saam met die akteurs ingevoer. Hy het hulle dikwels as medeskrywers aangedui en die loketinkomste gedeel. Ná die val van apartheid het hy steeds oor temas soos versoening, herinnering en identiteit geskryf.
In 2011 het hy uiteindelik erkenning van die wêreld se mees prestigeryke teatergemeenskap ontvang: 'n Tony-toekenning in Brittanje vir lewenslange prestasie in teater. Hy is ook die skrywer van vier boeke en verskeie draaiboeke. Baie van sy werke is verfilm, met regisseur Gavin Hood se Tsotsi, gebaseer op sy 1980 kortverhaal met dieselfde titel, wat die 2005 Academy Award vir beste buitelandse taalfilm gewen het – Suid-Afrika se eerste Oscar.
Die aktrise Cintaine Schutte sê: “Natuurlik het Athol Fugard se oeuvre 'n hele wêreld in my oopgebreek en my verbeelding oopgevlek. Sy stories is so universeel maar tog eietyds Suid-Afrikaans – ek het natuurlik as student baie van sy werk in diepte studeer. Ek sal nooit vergeet nie, ek het 'n opvoering by die Woordfees van Reza de Wet se Drif gedoen: Ek het op die verhoog gestap en dit was theatre-in-the round, en daar het hy gesit – reg voor in die gehoor.
“Ek onthou dit het my 'n lang ruk geneem om te besef, jy mag nie nou dink aan Athol Fugard nie, jy moet nou werk, jy moet nou speel – maar dit was net vir my so 'n groot eer dat hy daar gesit het in die gehoor, bucket-list stuff. Daar is nie genoeg woorde om te beskryf hoe ongelooflik hy was nie, maar ek weet hy het 'n diep indruk op my gelos. Hy het dit regtig reggekry om die psige van mense vas te vang.
“Ek weet sy stories gaan nog lank voortleef. Ek stuur my innige simpatie vir sy vrou en sy familie. What an amazing product of imagination and storytelling.”
Die aktrise Rolanda Marais sê: “Ek het Athol Fugard se werk ontdek in my eerstejaar toe ek drama studeer het en ek 'n gedeelte uit The Road To Mecca gedoen het. Hy is vir my 'n baken in Suid-Afrikaanse teater en ek kan byna nie my landskap sonder hom indink nie – dit is soos die digterswêreld wat nie sonder Ingrid Jonker kon bestaan nie. Hy was prolific, hy het nooit opgehou om toneelstukke te skryf nie en gewoonlik is dit net so een of twee goeie werke wat uit 'n pen kom, maar sy werke het altyd iets uniek gehad. Hy het ook so baie gedoen vir die teaterwêreld.”
Die dramaturg Hans Pienaar skryf: “Athol Fugard was 'n uitsonderlike figuur, nie net omdat hy van die beste toneelstukke van die 20ste eeu geskryf het nie, maar weens sy diep kreatiewe omgang met die Engels wat mense op straat in Suid-Afrika praat. Hy was 'n brug tussen mense wat die magshebbers nie wou raaksien nie, en diegene wat die land waarin hulle gewoon het probeer verstaan anderkant die versperrings van apartheid en sensuur.
“My eerste kennismaking met Fugard was met die opvoering van een van sy ‘armblanke’-stukke, Hello and Goodbye of People are Living There, ek kan nie onthou nie. Die Engelse deel van my familie was ook gewortel in armblankedom, inwoners van rowwe buurte in Pretoria soos Mountain View. Ek het my onmiddellik herken in hierdie karakters, wat in kleurvolle taal en sinne deurtrek met 'n diep hunkering na lewe, geworstel het met die praktiese kwessies van voortbestaan, en tegelykertyd die groot vrae: Wat beteken ons met ons onbelangrike lewens?
“Hierdie stukke het my laat besef dat Engelse mense nie maar net toevallig hier is nie, maar ’n eie identiteit het, ’n sonderlinge en kragtige manier om na Suid-Afrika te kyk wat jy nie elders op aarde in enige ander Engelstalige gemeenskap sou kry nie. Eers hierna het ek sy anti-apartheidstukke begin sien, en ontdek hoe breed en sinkreties hierdie identiteit is. Want net soos Fugard se wit karakters uithouers en aanhouers was, het dieselfde gegeld vir alle Suid-Afrikaanse karakters wat uit sy pen gevloei het.
“Boesman and Lena het vir my eens en vir altyd uitgemaak dat die teater van die absurde, wat sulke wonderlike werk gelewer het via Samuel Beckett, Eugène Ionesco en Luigi Pirandello, nie universeel is nie, maar telkens plaaslike eienskappe vertoon. En so het Fugard ook soos geen ander dramaturg in die 20ste eeu, 'n brug verskaf tussen die abstraksies van die absurdistiese uitkyk op die lewe, en die absurde wêrelde wat magshebbers geskep het vir gewone mense om in te probeer regkom.
“Die protagoniste van sy ‘township plays’, worstel uiteindelik met dieselfde epiese vraagstukke as enige ander mense, net met die karige middele van armoede en onderdrukking – wat hulle van absurde kreature in helde verander.
“As daar ’n Engelse identiteit hier te lande is, het Fugard dit een gemaak wat oor alle soorte, rasse en klasse heen geldig is. Op die ou end bly hy een van die belangrikste figure op wie se werk ons 'n gesamentlike Suid-Afrikanisme kan bou."
Athol Fugard word oorleef deur sy vrou, Paula Fourie (ook 'n dramaturg), hulle jong kinders Halle en Langian, asook sy eerste vrou, Sheila Fugard, en hul dogter, Lisa Fugard (skrywer).
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.