’n Fabelagtige versameling onderhoude oor Amerikaners se...

GEVLEUELDE WOORDE

’n Fabelagtige versameling onderhoude oor Amerikaners se dooslike onnooslikheid

KERNEELS BREYTENBACH, ons Neelsie, skryf vir oulaas oor die lewe en oor 'n boek wat hom laat nadink het.

ANGELA TUCK
ANGELA TUCK

ROBERT REDFORD het ’n gunstelingaanhaling wat hy onder enige omstandigheid gebruik. T.S. Eliot se woorde: “There is only the trying. The rest is not our business.”

Hier in die weke voor Vrye Weekblad se hemelvaart moet ek ’n boek kies vir my laaste storie. Ek soek gevleuelde woorde. Ek wil afskeid neem met ’n diep insig. Maar elke gedagte hardloop weg soos ’n kat wat pietersielie gevoer kry.

Uiteindelik besluit ek op Maureen Dowd se Notorious. Dit is ’n fabelagtige versameling onderhoude wat sy deur die jare vir die New York Times, Financial Times, Vanity Fair, Rolling Stones en GQ gedoen het. Baie gevleuelde woorde (soos Redford se gunsteling-aanhaling hierbo) en prima diepe insigte.

Dowd weet veralgemenings is ’n doodsonde in die formele logika. Tog laat glip sy dit breedweg deur in verskeie observasies wat almal dieselfde geïmpliseerde uitgangspunt het: Amerikaners is ontsaglik onnosel.

As mens kyk hoeveel klonterige skittery ronddryf in die jacuzzi van Yankee-denke, kan jy saam met Paul Newman en Dowd ’n traan stort oor die onbetaamlike gedrag van mense wat dink hulle verdien almal se aandag. Sy praat met sterre en pioniers en denkers in haar onderhoude.

Haar keuses vir die boek is netjies – Dowd wil nie onthou word vir kletsery met voetganger-filosowe soos Bono of Britney Spears nie. Sy praat oor die menslike kondisie en die sluimerende waansin onder mense vir wie die regte medikasie nog nie ontwikkel is nie.

Ja, dis lekker om uit Jane Fonda se eie argitektonies gerekonstrueerde mond te hoor dat sy wens sy kon by Marvin Gaye geslaap het. Saam met haar – en óór haar – kan jy net die stommiteit herleef van ’n gesprek oor ekologie met Ivanka Trump. Fonda sal enigiets vir Quentin Tarantino doen – dieselfde man oor wie Uma Thurman kla nadat sy amper die lewe gelaat het in ’n ongeluk wat hy veroorsaak het.

Laat ek egter nie die idee wek dat Dowd met kla-gatte chat nie. As Jane Fonda sê dat Marlon Brando teleurstellend was en dan sy toneelspel loof, dan weet jy dis geen klagte nie. Dis ’n fynproewer aan die woord oor ’n onderwerp waarvoor sy al die regte meetinstrumente het.

Daarom dat dit so gerusstellend is om te weet dat Marilyn Monroe – ’n gereelde leser van Proust en Dostoevsky en Freud en Thomas Mann, f.f.s.! – altyd by partytjies ingestap het, die mans se koerasie laat styg het en dan met die verlepte rosies gaan gesels het. Mensch!

En so aan en so voorts.

’n Boek soos Notorious ontwikkel ’n gesprek met die leser. Jou houding oor mense verander. Jou insig in die bakermat van die Westerse beskawing raak meer gefokus as die aanloopbaan van ’n Brazilian wax. Dowd, stel ek my voor, sal niks plaas wat haar eie skadukant sal openbaar nie. Dié het sy. Niemand kan met Aaron Sorkin en Michael Douglas deurmekaar wees sonder om sekere toegewings aan die beperkings van jou eie verbeelding te maak nie.

Wat sy wel doen, is om ten einde laaste haar onderhoude met Elon Musk en Peter Thiel te plaas. Twee manne wat aanvanklik nie dieselfde oor Donald Trump gedink het nie, maar nou só hand om die blaas met die wêreld se beste gholfspeler is dat dit die grense van fatsoenlikheid verskuif.

Dowd het in April 2017 met Musk gesels. In die dae toe Musk nog die groot teenstander van AI was. Dowd verklap dat Musk ’n irriterende manier het van giggel. Maar sy vergelyk hom met Hank Rearden van Ayn Rand se roman Atlas Shrugged. Op daardie punt begin ek haar onderhoud stiplees, met ’n angstigheid wat van my besit neem. Sê nou net Dowd is nie ’n satiris nie? Dat hierdie hemelse manier om die onderste stink by die boonste blink uit te bring glad anders bedoel is?

Maar sy maak uiteindelik haar draaie, en relativeer alles, insluitende Musk, met ’n aanhaling uit H.P. Lovecraft se werk: “From even the greatest of horrors irony is seldom absent.”

Daarna takel sy Peter Thiel, een van die mense wat daarmee kan spog dat Donald Trump na hom luister. Thiel het deel van sy opvoeding in Swakopmund ontvang, en ook in Suid-Afrika skoolgegaan. Hy het PayPal begin, met die Musk-moer as een van sy beleggers.

Dowd se benadering tot Thiel (die onderhoud kom ook uit 2017) is een van eerbied en stille afwagting. Sy dra hom op die hande tot by die punt waar sy weet een van die dinge wat hy sê, gaan hom totaal ontmasker. Dié oomblik kom wanneer hy verklaar: “And what I wonder is, whether maybe pro wrestling is one of the most real things we have in our society and whats really disturbing is that the other stuff is much more fake. And whatever the superficialities of Mr. Trump might be, he was more authentic than the other politicians.”

Notorious wentel af met onderhoude met Jann Wenner, die walgvogel wat Rolling Stones-tydskrif begin het, en Cindy Adams, Dowd se direkte teenstander by die New York Post. Adams jaag haar by die huis uit.

En hiermee gee ek pad. My dank en bewondering aan almal van die onvolprese Saveur-span. Die eerste span. Ons het geprobeer.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.