Beste God, dit is Piet

SOEKE NA LEWE SE SIN

Beste God, dit is Piet

As jy soek na die sin in jou lewe, sal die vraag oor God en sy wil jou verstaan van die werklikheid tot die uiterste toets, skryf PIET CROUCAMP. Hy verwys na sy talle sinvolle ‘gesprekke’ met God, wat vrae oor kwantummeganika en -fisika en gravitasieteorie ingesluit het.

ANGELA TUCK
ANGELA TUCK

EK word dikwels deur teoloë en kerke gevra of ek sinvolle opinies het oor waar die kerk staan in hulle verhouding met die politiek en die mensdom. Die sekularisasie van die mens en die gebrekkige betrokkenheid van gemeentelede beproef die kerk meer as ooit.

Dikwels wys ek hulle daarop dat buiten vir die morbiditeit van landspolitiek, hulle verhouding met God ook aandag nodig het.

“Moenie aan my deurpos klop nie, doen navraag by Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers. Nooi hom na ’n gesprek oor die mens en God wanneer die nood hoog is,” is my raad.

Dis natuurlik nooit te vroeg of te laat om jou persoonlike verhouding met God te bepeins nie; ek doen dit byna heeltyds. Ek loop natuurlik in die diep spore van verskeie gerespekteerde teoloë.

Ek het die Anglikaanse biskop John Shelby Spong jare gelede toevallig by die Universiteit van Johannesburg raakgeloop. Hy was ’n gas van die formidabele akademikus en godsman Hansie Wolmarans. Spong het my begrip van God se waarde in ’n enkele gesprek in ’n nuwe wentelbaan geplaas. Ironies genoeg het sy uitleg van die Bybel se teenstrydighede my ongeloof versterk en die sinvolheid van hy wat Spong is se Christelike geloof bevestig.

Die “post-teïstiese” teoloog Ben du Toit, my geliefde vriend met sy larger-than-life persoonlikheid, toets die genetika van ’n twyfelaar se godsbegrip op ’n intimiderende wyse. En ek het die boek Die slegte nuus van die evangelie: My reis na verlossing uit die pen van God se mees onlangse ateïs, Johan Retief, met ’n gevoel van ongemak gelees.

Terwyl Ben en Johan waarskynlik hulle geloof ná diepe bepeinsing verloor het, was my eie sekularisasie ’n noodwendige gevolg van onbeantwoorde vrae. My eie tentatiewe treë na ongeloof was nie ’n “verlossing” nie, maar eerder ’n gelate onwerklikheid van ewige vervreemding. Maar mettertyd sou my soeke na die waarheid en die werklikheid my tot by die hipotetiese God van die wetenskap geneem het.

Een aand in die Namib

Dog, een soel someraand om ’n braaivleisvuur in die Namib toe ek 15 jaar oud was, vertel God my van sy wroeging met die mensdom se omskrywing en verstaan van sy bestaan en bedoelings.

Die skeppingskarakter wat iewers midde die biljoene sterrestelsels skuil en ons swakhede sistemies en met wrewel in sy hart opteken met die oog op ’n amorfe oordeelsdag, bestaan eenvoudig nie, word ek meegedeel. “Ek wil asseblief nie mense na ’n ewige vlammehel en ’n geween en gekners van tande verdoem nie,” sê God.

“En, terwyl dit nou oor myself gaan,” gaan God voort, “ek beskik ook nie oor ’n ‘vrye wil’ nie. Ek het net per abuis die oerknal afgesit, daarna moes ek die konvensionele gravitasiewetmatigheid verken en leer soos die uitsetting van die heelal geëskaleer het. My begrip van kwantumfisika is tot die uiterste beproef.

“Die voormalige direkteur van die wetenskapprojek wat die menslike genoom gekarteer het, Francis Collins, was dalk reg toe hy evolusie as ‘die handskrif van God’ omskryf het, maar dit beteken nie dat ek volledig bekend was met die resultaat van Darwin se fenomenale gewaarwording nie.”

God verwys my na nuwe eksperimente wat daarop dui dat die frenetiese soektog na ’n bewussyn (consciousness) by mens en dier iewers in die nate en voue van kwantummeganika skuil.

In ons wisselwerking van idees haal ek die navorsing van die teoretiese fisici Roger Penrose en Stuart Hameroff aan, wat daarop dui dat God se verwysing na ’n bewussyn ’n denkfout moet wees. Die wette van kwantummeganika is slegs vaardig teen ontsaglike koue temperature. Kwantumrekenaars funksioneer byvoorbeeld by -272°C. Die mens se brein, daarenteen, funksioneer by kamertemperatuur.

God troef my argument deur te verwys na ’n alternatiewe eksperiment van die teoretiese fisikus Cristiane de Morais Smith, wat bewys het dat die neurone in die brein mikrotubuli bevat wat chemiese stowwe na diverse dele van selle vervoer. Mikrotubuli het ’n fraktale patroonmatigheid wat kwantumprosesse moontlik maak. Ek blaas die aftog en laat God in wysheid begaan.

Almagtig en alomteenwoordig?

Ek weet dat die idee van ’n almagtige en alomteenwoordige gees ’n verskriklike las vir God moet wees.

By ’n ander geleentheid vra ek hom oor teoretiese kwantumfisika en die hipotese dat ’n partikel terselfdertyd op meer as een plek kan verskyn: “Is dit nie hoekom die mens na jou as alomteenwoordig verwys nie? Daar kan tog ’n soort nie-kwantifiseerbare, epigenetiese, institusionele geheue wees wat die mens sinvol tot dié illusie van ’n oënskynlike werklikheid van jou alomteenwoordigheid lei?”

Ek wys daarop dat Einstein sy formulering van E = mc² eers in ’n verbeeldingsvlug veronderstel het voordat sy intellektuele eksperimente uiteindelik die teorie bevestig het. Op soortgelyke wyse was die Higgs-partikel (boson) vir 40 jaar ’n sinvolle intellektuele veronderstelling voor die Groot Hadron-versneller dit in 2012 eksperimenteel bevestig het.

Is dit nie sinvol vir die mens om die alomteenwoordigheid van God se bestaan onbewustelik af te lei van ’n wetenskaplike werklikheid nie?

“Ek weet nie,” sê God. “As die kerk reg is wat dit betref, is dit meer iets soos ’n blinde hoender wat ’n mieliepit raak pik. Ek ervaar nie my eie bestaan as ’n werklikheid van altyd orals wees soos ’n dwalende gees nie.”

God het my in meer as een sinvolle gesprek gelyk gegee dat kwantumfisika ’n logiese verklaring vir die idee van sy alomteenwoordigheid kan bied, maar daarop aangedring dat hy eers self na die bevestigende eksperimente wil kyk.

G’n diktator, psigopaat of narsis

’n MBA-student aan die Noordwes-Universiteit se Besigheidskool nader my eendag tydens ’n informele geleentheid met ’n ortodokse verdoeming van wat hy veronderstel my verhouding met God sou wees. Ek was terdeë daarvan bewus dat ons vanuit twee uiters onversoenbare paradigmas en verklaringsraamwerke na die hede asook die eskatologie kyk.

Nadat ek hom uitgeluister het, spreek ek ’n uiters onverteerbare oordeel oor hom uit: God se woede jeens jou gaan geen perke hê wanneer julle mekaar uiteindelik ontmoet nie. Hy gaan begin deur jou te vra hoekom jy hom as ’n diktator aan niksvermoedende mense voorgehou het. Iemand voor wie elke vermoeide mens sonder twyfel of bedenkinge op hulle knieë moet staan en in nederige erkentlikheid genade afsmeek. Dit is die gedrag van ’n egoïs en ’n narsis; nie dié van ’n liefdevolle en nadenkende God nie.

En God sal waarskynlik die joernalis en outeur van God Is Not Great, Christopher Hitchens, en die neurowetenskaplike Sam Harris aanhaal, wat aangevoer het die God wat toekyk terwyl ’n kind wreed deur kanker doodgemartel word, het óf ’n onvermoë om iets daaraan te doen óf moet psigopaties wreed wees. Aldus jou naïewe relaas is die troostelose wapenrusting wat God aan gelowiges gee ’n siellose “my wil is nie die mens beskore nie”.

Die jong man se oë het stip gestaar terwyl ek die dolk meedoënloos steeds dieper gedryf het. “Toe ek laas met God gepraat het, het hy vir my gesê: ‘Piet, die fisiologie van die mens het as gevolg van evolusie ’n lewe van sy eie gekry. Ek help waar ek kan, maar die wetenskap sal nou die reëlmaat van oorsaak en gevolg verder moet karteer.’”

Deurdagte vrae

God se werkswyse is een waar goeie en tergende vrae baie belangriker is as oppervlakkige trooswoorde en ondeurdagte verbeeldingsvlugte.

Hy vertel my hy drink soms tee saam met Imtiaz Sooliman se God en dat misverstaan ’n gedeelde probleem is.

Hy noem terloops dat Zeus, Apollo, Ares en Hermes nie meer die jaarlikse sinodes bywoon waarna elke ander denkbare God kom om oor die heelal, die wetenskap en die mens te beraadslaag nie. Daar was tydens die onlangse byeenkoms konsensus onder die ongeveer 3 000 afgevaardigdes dat postbakteriese organismes se fisiologie en gedrag ’n ontwikkelende wetenskapsvraag is wat deurlopend ondersoek moet word.

My vraag wat God die mees skepties gelaat het, was oor die eskatologie: “Wat word van ons ná die dood?”

“Ek is onseker,” het God geantwoord. “Wanneer ons weer die jaarlikse sinode hou, sal ek by die ander navraag doen, maar ek wil geen twyfel laat dat die afsterwe van elke organisme my gebroke en bedroef laat nie. Veral dié van kinders wat nie werklik ’n kans gehad het om sinvol en verantwoordelik te lewe nie. Die lyding van mens en dier is vir my ’n verskriklike beproewing. Maar dit is ook ’n wetenskaplike uitdaging wat ek met ywer opneem saam met elke wetenskaplike wat die mens se lot wil verlig.”

Ander terloopse opmerkings en waarnemings wat God met my gedeel het, sluit in: Medemenslikheid, gesonde lewensbeskouings en ’n sinvolle bestaan is nie eie aan enige disposisie wat betref die veronderstelde waardes van ’n God nie; sekularisasie impliseer nie noodwendig die afwesigheid van ’n komplekse begrip van verhoudings tussen die mens, die natuur en hoërorde-verantwoordelikhede nie; meer vroue in die NG Kerk moes hulle verset het teen die “hoof van die huis”-filosofie; en die kinders moes opgestaan het teen diegene wat na aanranding as goddelike tugtiging verwys. 

Ek word deesdae gegrief deur die militante ateïsme wat die indruk skep dat gelowiges mislei word deur die primitiewe gerief van onkunde en intellektuele luiheid. Ek was self daar in al my grootheidswaan, maar dit is ’n liefdelose en onempatiese weg wat net soms na die waarheid lei.

Daar kan weinig twyfel wees dat God my gedrag soms so onverstaanbaar en misterieus vind as wat ek en die afgestorwe Einstein skepties is jeens sy moedswillig-komplekse formulering van gravitasieteorie en kwantumfisika.

As jy soek na die sin in jou lewe, sal die vraag oor God en sy wil jou verstaan van die werklikheid tot die uiterste toets.

Ek weet vir ’n feit dat die idee van “blaam en skuld” ’n politieke strategie is waarmee die kerk God onregverdiglik opgesaal het. In werklikheid hou God hom beslis nie met sulke kleinsieligheid besig nie.

Hy het groot en liefdevolle vrede met my ongeloof, maar hoe moes ek dit in my jeug geweet het?

  • Hierdie artikel is die eerste keer op 11 November 2022 in VWB gepubliseer.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.