- 21 Maart 2025
- Vrye Denker
- 5 min om te lees
- artikel 14 van 37
-
Anastasia de VriesVoormalige bydraende redakteur
ASOF dit net gister gebeur het, sien ek my ma op die hoek van De la Rey- en die destydse Modderdamweg, nou Robert Sobukwe, digby die skool waar sy ’n juffrou was. In haar hande, hoog bo haar kop, ’n plakkaat wat haar stille protes in bloedrooi hoofletters uitgil: OBE (staan vir) ONLY BENGU IS EXCITED. Ek onthou nie die presiese jaar of die proteswoorde op die ander onderwysers se plakkate nie, maar dit was in die tyd van mnr. Sibusiso Bengu, minister van onderwys, en die begin van uitkomsgebaseerde onderwys. Ek onthou net die woorde van my ma. Sy het dit die vorige aand in sulke dik hale op karton op die kombuistafel staan en verf en toe met verwoede hamerhoue weerskante aan twee stokke vasgespyker.
In haar leeftyd as juffrou het sy genoeg van verandering aan leerplanne gesien om haar in dié stadium teen nog verandering te wil verset, het sy haar verweer teen die waarskuwing van my oudste suster, toe ook al ’n juffrou, dat onse ma die volgende dag saam met haar kollegas opgesluit sou word. Dan moet “hulle” haar maar opsluit, het my ma gesê, want “hulle” mis in elk geval die punt as “hulle” dink onderwysers, selfs ou hande soos sy, is bang om te verander. Maar diese verandering vir veranderingsonthalwe? Aikôna. Dis die kinders wat gaan aftjop.
Ja-nee, het ’n kollega voorspel toe ek later die oggend die tafereel van my-ma-met-plakkaat vir hom terugspeel, binnekort sit ons met ’n land vol analfabete wat kwalik kan lees of skryf of spel, wat nog te sê dínk. Vandat ek hom ken, bestudeer hy elke verandering aan die skoolkurrikulum tot in die fynste besonderhede om die uitwerking daarvan op die hoër onderwys te bepaal. En dan sê hy: “Ons moet ons voorberei, ons staal.”
Hoeveel keer het ek in die jare daarna my ma hoor sê “so lyk OBE” wanneer onse voorhuis keer op keer ’n multigraad-, tweetalige klaskamer geword het vir kinders wat nóg in Afrikaans nóg in Engels met begrip kon lees en skryf. Hulle is gewoon nie toegerus om hulle kinders, van wie sommige al in graad 8 was, te help nie, het van die ouers in onse buurt my ma om hulp kom vra.
Dié vertel ek vir ’n vriend wat ’n klomp e-posse aangestuur het met versoeke van onderwysers en ouers dat hy in sy koerant oor die onderwys moes skryf. Dít nou na aanleiding van berigte dat die regering Covid en die ouers blameer vir die swak prestasie van die land se graad 4’s in die onlangse toetsing van geletterdheidsvlakke in 50 lande. Ai, en hier moet sy eie vrou nou vandeesweek aan “die direkteur” loop verklaar hoekom amper al haar graad 12’s Afrikaans gedruip het. Soos hy sy vrou ken, gaan sy g’n niks verklaar nie, maar gaan die direkteur aan haar moet verklaar hoe dit gekom het dat leerders wat nie eens op graad 12-vlak in hul huistaal kan funksioneer nie, tot dié graad kon vorder. En dan gaan sy dalk haar werk verloor, het hy gesê, maar soos hy dit sien, het niggie nou genoeg gehad. Sy kan gewoonlik selfs die ongeskikste kind in ’n klas tot ander insigte bring, maar sy is moeg van baklei teen ’n kurrikulum wat middelmatigheid inskerp en dit ’n prestasie, ’n gesukkel maak om ’n kind wat dit dalk nodig het, te laat druip. Hy is bevrees sy gaan dié alles aan die direkteur verklaar en dan haar boeksak net daar in sy kantoor voor hom uitpak. Vort!
Haar oudonderwyspa sê the chickens are coming home to roost, skryf ’n ouer in een van die e-posse wat ek later lees. Hy’t bedank toe OBE (ek sien my ma en haar plakkaat) ingekom het en hy kinders, en nou ook haar eie twee in graad 4 en graad 5, van die huis af begin help het. Aan kinders oorsit en oorsit asof jy maar net die probleem soos ’n vuurpatat van hand tot hand aanstuur, kan hy nie met ’n skoon gewete saamwerk nie. Eendag gaan hierdie land ’n kinderprys betaal vir sy onderwys, het hy altyd vir sy eie kinders gesê, en nou is eendag hier.
Daar was ’n jaar toe die graad 8’s internasionaal getoets is, en as sy reg onthou, het van hul skool se graad 9’s deelgeneem en steeds het Suid-Afrika byna laaste geëindig, lui nog ’n e-pos.
Eers was dit die skole se skuld, eggo etlike ander, en nou word dit verskuif na Covid en die ouers, volgens die minister van basiese onderwys (me. Angie Motshekga) op ’n onlangse mediakonferensie. Koop vir julle kinders boeke vir hulle verjaardag, nie lekkers en koek en speelgoed nie. Hoe ligsinnig in ’n land waar sommige (die meeste?) mense nie eens hul daaglikse brood kan bekostig nie en sowat 4,4 miljoen volwassenes in 2019 nog ongeletterd was, sê ’n skoolhoof. Ja, hy weet van die talle leesprogramme van die onderwysdepartement en van soveel burgerlike organisasies en sakeondernemings en ander groepe se betrokkenheid in gemeenskappe, by skole en veral die heropleiding van onderwysers om die ongeletterdheid teen te werk. Maar, vra hy, is dit nie tyd om eerlik te kyk na ’n kurrikulum wat juis nie die nodige lees-, skryf- en denkvaardighede kweek wat dit kwansuis wil bevorder nie, maar in die meeste gevalle eintlik niks anders is as die memorisering van kennis en papegaaiwerk nie?
Wys my die ouer wat haar kind se verdomming wil vier met lekkergoed, koek en ’n speelding, wat, soos die minister met die wysheid van ’n ma opmerk, binne die kortste tyd gebreek eenkant sal lê. Maar as ek my ma en die e-posse van onderwysers en ouers moet glo, gaan dit duidelik nie meer net om ’n politieke wil of lus om die skrif te sien aan ’n muur wat verder strek as die onderwyser, die skool, selfs Covid nie. Onse onderwys faal onse kinders. Die verraad. Daaroor het die haan al toeka gekraai en meer as net drie maal.
- Hierdie artikel is die eerste keer op 30 Junie 2023 in VWB gepubliseer. Anastasia de Vries is verlede jaar oorlede.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.