Koerant wat die skaam kon versag

MIN DAE

Koerant wat die skaam kon versag

Dinge kom en gaan, dis ’n feit soos ’n koei, reken CARSTEN RASCH. Maar Vrye Weekblad se jop is nog nie gedoen nie, dus wag hy in spanning op wat hopelik volgende kom. Intussen bied hy 'n speellys om hierdie totsiens te eerbiedig.

DIE afgelope paar weke al voel ek bewoë elke keer as ek ’n comment maak op ’n VWB-storie, want ek weet, ons dae is getel.

Ek onthou die dag so helder soos gister toe my vriend Chris du Plessis my vertel het van die nuwe Afrikaanse koerant waarop hy gaan werk. Ene Max du Preez was die redakteur. Chris sou die kunsredakteur wees. Hy was erg opgewonde en het my aangesteek. Toe die debuut-uitgawe ’n paar weke (maande?) later op straat verskyn het, het ek een gaan gekoop. En daarna. Elke week.

Ou Chris het later ’n song geskryf vir sy band, Die Radiators – Sy’s Afrikaans (maar sy wil net Engels praat). Ek vermoed hy spot met ons klomp, want ek was ook een van daai. In die sirkels waarin ek beweeg het daai tyd, as ’n punkmusiek-promotor en muso, was daar nie plek vir Afrikaans-wees nie.

Die taal was die vyand, saam met al die boere wat apartheid onderskryf het. Vrye Weekblad het dit tot ’n groot mate vir my op ’n persoonlike vlak verander. Ek kon minder skaam voel oor my mense, want hier was ’n koerant wat die regering en die Natte en sommer hele kaboedel verkramptes beetgekry het daar tussen die groottone, en sommer hárd gesqueeze het. Toe ek in 1989 Nederland toe is as ’n informele vlugteling om in Amsterdam ’n anti-apartheid-filmfees te reël, kon ek tot my groot vreugde VWB by Athenaeum Boekhandel op De Spui koop. Ek kan met trots sê dat ek nooit ’n uitgawe van VWB gemis het as ek dit kon help nie.

Boudbytende joernaliste

Ek was sad toe VWB destyds in 1994 genoodsaak was om te sluit, maar ek het ook gevoel die koerant het sy doel gedien. It punched way above its weight, tipies Afrikaans, vir baie jare. Hy het sy jop gedoen, met oorgawe. Maar ek was verheug toe Max en kie besluit het om dit te laat herlewe. Dit was broodnodig om weer ’n hardegat-keffertjie met skerp tande in die lewe te roep om die regering in die boude te hap. Die land was in ’n haglike toestand en sy mense meer verdeeld as ooit tevore.

Nie elke artikel was na my smaak nie. Sommige van die stories was té nostalgies, ander weer té middle-of-the-road, party het my net nie geïnteresseer nie. Maar VWB het twee van die heel beste politieke kommentators in die land gehad in Max du Preez en Piet Croucamp; die mees left-field en eiewillige sportskrywer in Louis de Villiers (toe hy nog vir hulle geskryf het);  bytende humor en die mooiste woordspel deur Willem Kempen; dikwels provokatiewe meningstukke deur Issy Lagardien; boekresensies par excellence deur Deborah Steinmair (ek sweer sy lees in haar slaap); en laaste, maar nie die minste nie, Fred de Vries se eklektiese musiekrubriek. Ek het hulle almal gelees, elke week, en dit was genoeg vir my.

Nou ja, drie jaar later is dit al weer tyd om goodbye te sê. En hierdie keer voel ek die jop is nog nie gedoen nie. Dis wat dit so tragies maak. As daar ooit ’n tyd was vir ’n oopkop-dink-vir-jouself-koerant, dan is dit juis nou …

Fred se rubriek het my geïnspireer om ook ’n playlist van goodbye songs bymekaar te sit. Liedjies oor koebaais … eisj. Daar is baie, baie van hulle en meeste is ongelooflik kak. Soetsappig, druppend van emosie en verlore liefde, só soet my tande pyn. Gelukkig nie almal nie.

So, hier is my lysie: vier liedjies, nie drie nie, want ek kon nie kies watter een om uit te laat nie.


“Closing Time" (Semisonic). Ek weet amper niks van hierdie drieman-band van Minneapolis af nie, en ek kan nie onthou dat ek al ooit ’n ander song van hulle gehoor het nie, maar fokkit, ek hou van hierdie een. Baie mense het blykbaar ook, want dit het 2 miljoen plate verkoop. Ek hou ook van die naam van die band; dit klingel lekker. En ek hou ook van hoe Jacob Schlichter dromspeel – los en tight terselfdertyd. Dis geen maklike taak nie, glo my, om so tight te speel, maar so los te lyk nie.

Closing time, you don’t have to go home, but you can’t stay here.” Die song gaan natuurlik oor ’n generiese kroeg wat elke aand moet toemaak. As ’n voormalige kroegeienaar ken ek hierdie tyd baie goed, en ek kan uit eerstehandse ervaring sê dat daar elke aand mense is wat nie ’n fok huis toe wil gaan nie. Hulle sal sit en sit en nog langer sit, die last call ignoreer, die waiter se al-harder wenke miskyk, en sit en kekkel in die groeiende duisternis soos wat die bartender – nou nie meer so tender  nie – die ligte een vir een afsit. Het hulle nie huise nie? Maar hierdie liedjie gaan eintlik meer oor die verwagting van wat daarna kom.


“When Ye Go Away"(Waterboys). Wanneer ek na die Waterboys luister, gebeur iets met my. Dis vreemd. ’n Swaarmoedigheid kom oor my  – nie ’n treurige een nie, maar ’n amper vreugdevolle melancholie wat dalk iets te doen het met nostalgie. Die verlange na ’n verlore tyd, dalk. Dit is regtig weird, want dit gebeur ongeag  my bui. Hier sit ek, nou net na Semisonic geluister, lekker gestoeldans, my kop probeer swaai Schlichter-style, en dan BOEM! skielik droefgeestig sodra ek “When Ye Go Away" speel. Onverklaarbaar …

Ek is egter mal oor die Waterboys ten spyte van hierdie eienaardige buiewisselings. Ek het twee jaar – of was dit drie? – gewag vir hul Kirstenbosch-konsert, nadat hulle die oorspronklike datums gekanselleer het. Op hierdie stadium was Mike Scott die enigste oorblywende lid van die Waterboys wat die seminale album Fisherman’s Blues opgeneem het. Steve Wickham was toe die band se gereelde vioolspeler en het verskeie liedjies saam met Scott geskryf, maar hierdie song het die tradisionele vioolspeler Charlie Lennon op, een van die mees gesogte begeleiers in die besigheid. Iers, natuurlik. Teen die einde van die liedjie speel hy ’n manjifieke stuk wat die hart uit die song uit skeur en dit op jou mou sit vir almal om te sien.


“My Friend Kevin" (Dax Butler) is ’n song wat ook my hart gryp en met beide hande omklem, sagkens maar terselfdertyd met geweldige druk. Dit is omdat ek vir Kevin geken het. Trouens, ek het hom deur Dax ontmoet. Hulle was goeie tjommies. Ek was nie naastenby so tight met Kevin nie, maar ons het heelwat uitgehang en saam amfetamien gesnort – sy gunsteling drug.

Hy het ’n lakoniese, gemaklike manier gehad, maar jy het geweet daar is ’n edge, ’n moenie-met-my-nie-fok-nie gedeelte van hom, wat, gekombineer met ’n kort humeur en ’n lyntjie speed, nie altyd goed kon eindig nie. Die speed het hom volspoed laat rammel soos ’n weghol-LP op die verkeerde setting. Op ’n stadium was die enigste ding wat hom kon stilmaak ’n “act of God". God was natuurlik afwesig, besig met makliker teikens.

Kevin was lank, aantreklik en effe te maer vir 'n mens se gemak. Hy was ’n volbloed-biker, hart en siel, maar het op die ou end ’n Mini Minor bestuur. Hoe hy homself in hierdie klein Mini gevou het, was niks minder as ’n wonderwerk nie. Hoe hy homself daaruit gelig het, was altyd verstommend. Hy het sy musiek vinnig verkies, nes sy meisies en sy bike  – maar dis hier waar Dax die streep getrek het.

Die liedjie begin as ’n slenterende shuffle, met ’n kitaar tremolo wat bewend bygeskaar word, dan ’n baskitaar wat stadig te-dum-dum-dum bykom – al drie instrumente gespeel deur die legendariese Willem Möller, vervaardiger van die album Drink in Everything, waarop die snit eerste verskyn. Tonia Selley se minimalistiese background vocals en Lutz se brokkies orrelspel met Möller se perfek geplaaste kitaarsnitte is ’n meesterlike vertoning van beheersing. Dit versnel nooit, word nooit luider nie, rol net vorentoe in ’n stadig ontvouende golf van rou gevoel terwyl Dax steunend en kreunend, amper kermend, in ’n stem wat kraak van emosie, sy goodbyes sê vir sy vriend Kevin, wat besluit het tot hiertoe en nie verder nie …


“Hit the Road Jack" (Ray Charles) is seker meer van ’n weg-is-jy! as ’n totsiens. Ek het dit ingesluit – of eerder, moeilik gevind om dit uit te laat – omdat dit die perfekte noot is om ’n goodbye-lys mee af te sluit, hahaha. Dit is ook duidelik dat ou Ray regtig, regtig nie hierdie of enige ander pad wil vat nie. ’n Bietjie soos VWB. Nie regverdig nie, nè?

Die liedjie is oorspronklik geskryf (en gesing) deur Ray se goeie vriend, Curtis Mayfield, maar dit was Charles se weergawe wat dit in 1961 na #1 geneem het en dit daar vir ’n paar weke gehou het. Die storie is voor die hand liggend: Ray is in gesprek met sy meisie, wat hom duidelik laat weet dat wat hulle ook al gehad het, nou verby is. Die feit dat die “meisie", Margie Hendricks, nie net een van die Raelettes (sy background-sangers) was nie, maar ook sy minnares, sit ’n sê-nou-maar?-spin daarop. Daar is ’n toneel in Taylor Hackford se fliek Ray, waar hul interaksie live op die verhoog daarop dui, maar natuurlik is dit Margie wat uiteindelik die pad vat – swanger met sy kind. Sy vat dit hard, so hard dat sy nooit daarvan herstel nie.


Dat dinge kom en gaan – geliefdes, vriende, ouers, kinders, motors, honde, selfs koerante – is ’n feit soos ’n koei. Soos Dan Wilson, sanger en lead kitaarspeler van Semisonic, ons meedeel in die verrassend filosofiese laaste reëltjie van sy song “Closing time, every new beginning comes from other beginnings’ end”: ’n brokkie wysheid en ’n belofte van dít wat (dalk) nog kom.

Ek wag in spanning op die volgende episode …

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.