EK onthou Adriaan Vlok as ’n fier, harde man met ’n sardoniese glimlag. Van 1986 af, toe hy minister van “wet en orde” geword het, was hy vir my die gesig van die meedoënlose polisiemag van die apartheidstaat, van die veiligheidspolisie wat gemartel en gemoor het, van die moordkommando op Vlakplaas. Hy was die argetipe van ’n PW-man.
Die krom oubasie wat laas Vrydagoggend by my voordeur ingestap het, is nie dieselfde man nie, nie eens ’n ouer weergawe van dieselfde man nie.
Dis nie net sy 82 jaar wat hom klein laat lyk nie. Hy wíl klein wees. Hy wíl homself kleiner, minder maak.
’n Hele klompie polisiemanne, soldate en ander agente het my die laaste 20 jaar of so genader om te vertel hoe hulle my destyds dopgehou en lastig geval het, skinderstories en waninformasie oor my en Vrye Weekblad versprei het, ons werk ondermyn en my selfs probeer vermoor het. Ek was byna meer in die hof as by die koerant, het verskeie kriminele oortredings op my rekord en ons kantoor is met ’n bom aan stukke geblaas.
Ek het maar na al dié ouens geluister en blad geskud of ’n bier saam met hulle gedrink. Ek het nie gedink hulle het juis berou nie. Met party van hulle het ek selfs gedink hulle spog so ’n bietjie. Ander wou my dalk gebruik om hulself te oortuig dat hulle nou regtig deel van die “nuwe Suid-Afrika” is en om hul gewetens effe te sus. Van hulle het selfies saam met my geneem. En dis maar orraait met my.
Adriaan Vlok is nie so nie.
Hy het my vooraf gebel en gevra of hy Kaapstad toe kon kom om “sake met jou reg te maak”. Ek kon kwalik weier, al maak sulke intieme interaksies met vreemdelinge my erg ongemaklik. Hy het boonop my nommer by my dominee-broer gekry, en sy broerskind is met my vrou se suster getroud (hy het dit nie geweet nie).
Hy daag toe saam met ’n predikant op, eerw. Trevor Nthlola van Soweto. Nthlola en Vlok doen saam ’n landwye bediening, as dit die woord is, en Nthlola doen sy doktorale proefskrif oor sy interaksie met “Oom Vlok”. Nthlola is ’n vrolike, charismatiese pastoor wat eens onder my swaer, prof. Willem Saayman, teologie gestudeer het en, sê hy, al my boeke gelees het.
Nee, ek is net Adriaan, sê Oom Vlok vir my toe ek hom nog “Meneer”, en toe is ons sommer ou Max, Adriaan en Trevor. Ons gaan sit in die sitkamer en my vrou, Angela, bring piesangbrood en koffie. Adriaan drink sy koffie baie flou, so ek gaan haal eers nog kookwater om by te gooi.
En dan sit hy reg langs my, vat hy aan my arm, kyk my in die oë en sê hy wil my om vergiffenis vra vir al die onreg wat hy my aangedoen het. Dit is wat Christus hom gebied het om te doen.
Maar nou moet ons Engels praat, want Trevor verstaan nie Afrikaans nie. En Trevor neem net foto’s met sy selfoon. Nou praat Adriaan sommer met Trevor ook. Ek het die man se lewe probeer verwoes, sê hy vir Trevor. Ek het uit my pad gegaan om sy lewe hel te maak.
Kan jy dit in jou hart vind om my te vergewe, ou Max? Dit sal ’n baie spesiale dag in my lewe wees as jy kan. Ek het verskriklike goed gedoen en ek moet dit nou regmaak. Ek lewe nou vir Christus en vir my medemens, nie vir myself nie.
Daar sit ek, half met ’n mond vol tande. Baie goed gaan deur my kop, en nie juis my eie swarigheid nie.
Dis die man wat ’n hele paar keer by Vlakplaas gaan besoek aflê het om Eugene de Kock en sy mede-wreedaards aan te moedig, wat medaljes aan moordenaars uitgereik en aan die bors gesteek het. Dit is die man onder wie se bevel tienduisende mense, onder hulle kinders, sonder verhoor aangehou is; wat toegesien het dat die polisie die Raad van Kerke en Cosatu se geboue opgeblaas het; wat sy naam onderaan dokumente geteken het wat vra dat aktiviste “geëlimineer” word; die man onder wie die stratcom-veldtog geloods is om vals inligting oor mense in die UDF en ANC te versprei; wat sluipmoorde en marteling help geheim gehou het. Hy het die bloed van die Pebco 3, die Mamelodi 10 en vele ander aan sy hande.
Maar dit is ook die man wat die voete van die weduwees en ma’s van die Mamelodi 10 gaan was het en hulle gesmeek het om hom te vergewe; wat vir Frank Chikane gaan sê het hy is jammer dat die polisie hom vergiftig het, en toe ook sy voete gewas het; wat sy hart aan Thabo Mbeki en sy familie gaan oopmaak het.
Ek het ook geweet, en Trevor het my verder daaroor ingelig, dat Adriaan deesdae al sy tyd, energie en bronne daaraan bestee om kinders in die plakkerskampe te voed, dat hy net in twee kamers van sy huis woon omdat die res ’n klomp behoeftige mense huisves.
Adriaan kyk vir my en wag vir my antwoord. Nee, dis reg, Adriaan, as ek iets het om jou oor te vergewe dan vergewe ek jou, en dankie vir die gebaar, sê ek.
Met Trevor daar, en die aard van die gesprek, kom ek nie daarby uit om die vraag te vra nie: Nou wat is dit presies wat jy en jou manne aan my gedoen het, Adriaan? Wat is daar wat ek nie weet nie?
In ’n stadium moet ek hom uit sy stoel help, want sy knie het ingegee. Gaan vir ’n knievervanging, Adriaan, maak ek geselsies. Nee, sê Adriaan half driftig. Die dokters sê vir my as ek ’n knievervanging kry, sal ek vir maande lank nie kan bestuur nie. Dit kan nie gebeur nie, want ek moet elke dag die kinders gaan kos gee.
Trevor praat nou saam. Oom Vlok se optrede en getuienis maak ’n baie groot impak in die swart gemeenskappe wat hulle besoek. Sy eerlikheid en nederigheid tref die mense en laat hulle anders dink, sê hy. Mense is verstom dat ’n ou Afrikanerman en boonop nog ’n apartheidbaas so kon verander en so oortuigend met hulle kan kommunikeer. Hulle glo hom en hulle is lief vir hom, veral die arm en sukkelende gemeenskappe. Hy ráák aan mense se harte.
Ons drie praat oor die waansin van apartheid. Hy het waaragtig gegló apartheid is goed en reg, sê Adriaan, tot Christus die skille van sy oë laat afval het. Hy haal ’n klein Nuwe Testamentjie uit sy sak (hy is ook deel van die Gideons) en lees uit Handelinge 17:26: “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon.”
Één bloed, sê Adriaan.
En toe kom die oomblik wat die outistiese deel van my persoonlikheid gevrees het. Adriaan sak op sy slegte knieë voor my neer en vra: Sal jy my asseblief toelaat om jou voete te was? Dit sal vir my ontsettend baie beteken. Ek moet dit doen.
Ek mompel iets en trek maar my skoene uit. Hy vat ’n botteltjie water en smeer ’n bietjie water met ’n lappie aan albei my voete en droog dit dan af. Dis darem net simbolies, nie ’n hele gewassery in ’n skottel nie. En toe moet ek hom weer ophelp. Ek trek gou weer my sokkies en skoene aan.
Adriaan se hart is duidelik ligter. Hy gee my ’n druk en bedank my weer vir my groothartigheid, en sê weer dat my vergiffenis ’n baie spesiale dag in sy lewe is.
Ek sê: Weet julle dat dit juis vandag presies 30 jaar gelede is dat Vrye Weekblad die bestaan en aard van Vlakplaas onthul het? Adriaan en Trevor kyk verras na mekaar. Dis geen toeval nie, sê Trevor, dis Jesus. Geen twyfel nie, sê Adriaan. Dis Jesus se werk. Daar is nie iets soos toeval nie.
Ons stap uit voortuin toe, want die vliegtuig terug Johannesburg toe vertrek sommer netnou. Eers nog foto’s onder die boom. Nog drukke en bladskud. Adriaan blom; Trevor is in sy noppies.
Ek verstaan nie mooi wat dit alles beteken nie. Maar ek het geen twyfel nie dat Adriaan Vlok opreg en outentiek is. Wat hy doen en hoe hy nou lewe, is buitengewoon. Was daar maar meer Christene wat hul geloof met soveel oorgawe uitgelewe het.
Mooi loop, Adriaan.
- Hierdie artikel is die eerste keer op 29 November 2019 in VWB gepubliseer.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.