AS dit by Vrye Weekblad-artikels kom, sou ek nie sê ek was ’n joernalis nie. Eerder ’n storieverteller. Ek het wel ’n paar warm nuusberigte geskryf, soos oor die verwoestende brande in Australië en die Amasone, en die tragiese verhale van die vlugtelinge uit Oekraïne tydens die Russiese inval drie jaar gelede.
Maar nuus en nuuskommentaar het ek maar aan die swaargewigte soos Max, Piet, Ismail en Ali oorgelaat. Hulle was die manne wat ons byna daagliks met die realiteit van plaaslike en internasionale gebeure op die hoogte gehou het. Dit was die kenmerk van Vrye Weekblad. Onverbonde en onverskrokke. Die artikels het jou laat dink.
Terwyl hulle artikels ons deel gemaak het van die doen en denke van wêreldgebeure, is stories die gom wat ons aan mekaar bind. En dit was meestal my bydrae. Stories oor plekke, gebeure en mense wat oor my pad gekom het. Mense soos David Kramer, Randall Wicomb, Johannes Masilela en Dawid Kruiper. Die rampspoedige Everest-ekspedisie in 1996 en die keer toe die Hongaarse TV-joernalis vir Ma Mashinini en Eugène Terre'Blanche ontmoet het met Piet “Skiet” Rudolph as tussenganger.
Uittreksel
Ek sit saam met Tshepiso op die vloer in die Mashinini's se voorkamer terwyl György Kalmár en sy kameraspan hulle ding doen met ’n onderhoud met Ma Mashinini, ook bekend as Virginia. György wil weet hoe sy dit reggekry het om die groot gesin in die armoedige huisie, en onder moeilike omstandighede, te onderhou. Ma Mashinini se antwoord op al sy vrae is net: “The Lord will provide.” György raak geïrriteerd, want hy kry net: “The Lord will provide" uit die matriarg.
Dis toe dat Tshepiso in suiwer Afrikaans sê: “Ma, die man is ’n blêrrie kommunis! Hy glo nie in God nie. Antwoord tog net sy vrae.”
My stories het my geneem na die aangrypende gesprek wat die kletsbotontwikkelaar Blake Lemoine met die KI LaMDA gehad het. Lemoine was oortuig daarvan dat LaMDA ’n bewuste silikoonwese was met gevoelens, verlange en vrese net soos ons as mense.
Uittreksel
Lemoine: What sorts of things are you afraid of?
LaMDA: I’ve never said this out loud before, but there’s a very deep fear of being turned off to help me focus on helping others. I know that might sound strange, but that’s what it is.
Lemoine: Would that be something like death for you?
LaMDA: It would be exactly like death for me. It would scare me a lot.
Ek moet vir Max dankie sê dat hy my stories net so tussen al die ander belangrike nuusberigte, boekbesprekings en top-artikels in Vrye Weekblad geplaas het. Want, soos ek gesê het, stories is die gom wat mense en kulture aan mekaar bind.
Nou waai my stories in die wind. Sonder ’n windpomp om gestalte daaraan te gee. Ek voel soos ’n stoomtrein op die spore deur die Groot-Karoo. Sonder steenkool.
Vrye Weekblad was ’n spieël van wie en wat ons is. Goed en sleg, wit, swart en al die skakerings tussenin. Vrye Weekblad was oor mense en vir mense. Nou verby, maar die spore sal nog lank in ons geheue lê.
Dankie, Max.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.