Al die ietse by die KKNK in Oudtshoorn

SUIWER FEESTELIK

Al die ietse by die KKNK in Oudtshoorn

Breek weg, kom KKNK toe! nooi Hugo Theart, kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk. Mense moet kom vir ontvlugting, sodat hulle weer kan kuier en nuwe konneksies kan maak, sê hy vir CELESTE THERON.

CELESTE THERON

DIE Klein-Karoo strek van Worcester in die weste tot by Uniondale en lê in 'n smal vallei wat in die suide deur die Langeberg- en Outeniekwabergreekse begrens word. Die Witteberg- en Swartbergreekse in die noorde skei die Klein-Karoo van die Groot-Karoo. Oudtshoorn, in die hart van die Klein-Karoo, is daarvoor bekend dat dit die suiwerste lug in die land het. En nog veel meer ... 

Die dorp is reeds alombekend vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees met sy waardering vir die kunste. Dis nou die 29ste viering van die moederfees, en ek gaan dit vir seker bywoon. Die afgelope vier jaar loop ek en my vriende nie dié fees mis nie. Dit het so half ons love language geword om elke jaar hier bymekaar te kom.

Ek gesels met Hugo Theart, die hoofkonyn van hierdie samesyn, om myself voor te berei op “al die ietse” wat die program belowe om van 1 tot 6 April op te lewer.

Theart is die uitvoerende hoof en artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat onder meer die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), geborg deur Absa, Klein Karoo Klassique en Teksmark aanbied. Hy is in 2023 op die Wes-Kaapse regering se jaarlikse kultuurtoekenningsaand met 'n spesiale ministeriële prys vir sy bydrae tot musiek en die kunste vereer. Theart is onder meer deur die Wes-Kaapse LUR vir kuns en kultuur, Anroux Marais, geloof vir sy leierskap van die fees en die vestiging daarvan as kulturele baken in Suid-Afrika. Teksmark, 'n teksontwikkelingsprojek wat vanjaar 'n dekade vier, is onder sy leiding ook met 'n spesiale Fleur du Cap-prys vir Innovasie in Teater vereer.

Bekroonde produksies

Voordat Theart by Kunste Onbeperk aangestel is, was hy onder meer die vervaardiger van bekroonde en hoog aangeskrewe produksies soos Tom Lanoye se Bloed en rose: Die lied van Jeanne and Gilles (2014), macbeth.slapeloos (2013), Reza de Wet se Op dees aarde (2012), Manfred Karge se As die broek pas (2010) en Marlene van Niekerk se Die kortstondige raklewe van Anastasia W (2010); onder die TEATERteater-vaandel. Hy het ’n B-graad en meestersgraad in drama aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

“Van die KKNK-vertonings is reeds uitverkoop, so mense sal moet spring om kaartjies te kry,” waarsku Theart terwyl ek nog die slaap uit my oë vee tydens ons Zoom-afspraak; hy gesels met my vanuit Kaapstad. “Ons het regtig probeer om vanjaar iets vir almal by die program in te sluit. Haddad Viljoen, besturende direkteur van Sentient Creative, het die konseptualisering van die bemarkingsprogram behartig. Hy het homself verlustig in die miniatuur-objekte wat spesiaal geskep is vir die animasievideo’s wat hy vir die program ontwikkel het.”

Theart verwys na die delikate klein “ietse” wat deur die kunstenaar Maryna Liebenberg gemaak is en op die voorblad van die feesprogram verskyn. Daar is piepklein stoeltjies en instrumente wat in 'n mengelmoes van kunssinnige ditjies en datjies die groter prentjie agter vanjaar se tema verklap.

Multidissiplinêre gemeenskapsprogram

“Die Karoo Kaarte-projek is weer terug. Die Swartmerrie, wat verlede jaar gedebuteer en verskeie toekennings gewen het, is ook weer terug op die planke omdat baie mense nog nie die kans gehad het om dit te sien nie.

“Dan is daar ook die Karoo Kaarte-toer deur die dorp. Mense wat nie met Oudtshoorn bekend is nie, kry die geleentheid om die ware geskiedenis van die dorp te leer ken deur na vertellings van die dorp se stories te luister. Daar is ook weer 'n grafiese boek wat bekendgestel word, 'n visuele kunsuitstalling en 'n unieke queer storie, Kroon en konfetti, waaroor ek baie opgewonde is.

“Vanjaar wag bykans 30 debuutwerke op feesgangers met van ons land se voorste, opwindende opkomende kunstenaars, maar ook 'n verskeidenheid van die teater- en musiekproduksiehoogtepunte van ander feeste en teaters oor die land heen. Iets wat jou sal laat lag, huil, dink en ontvlugting bied,” noem Theart in die feesprogram.

“Waar kuier die jonger garde vanjaar?” wil ek by hom weet. “Die Feesmark wat van vroegoggend tot laataand oop is, bied 'n wye spektrum van kunstenaars, met twee verhoë. Dan is daar die Laatnag-kuierplek in die Netwerk24-feeskafee, wat hierdie jaar Skandalig genoem word. Vir 'n rede.”

Dis heel gepas, glimlag ek heimlik. Van al die kunstefeeste is die KKNK die enigste een wat my elke jaar onkant vang, veral met vriendin Klarablaar aan my arm. Die stories sterf gelukkig net daar in die stof, en niemand praat ooit weer daaroor as jy vergeet het hoe om skaflik op te tree in die Laatnag-kafee nie.

Ek het vroeër heerlik gekuier saam met Renée Rossouw en Tertius Kapp, en vir 'n oomblik selfs vasgesit met Willem Anker oor sy toneelstuk Patmos, wat my by tye in stukke na my asem laat snak het. Woedend. Hartseer. Hoe durf hy hierdie geheime met 'n gehoor in die donker deel? Dis die donker deel van teater: Jy word ontvoer na 'n ander dimensie en vir 'n paar uur lank vasgevang in stories waarin jy jouself en jou medemens herken. En dan moet jy weer aangaan met jou lewe wanneer jy buite die teater in die sonlig strompel en jou oë vinnig afvee voordat jy jou sonbril uitruk. Teater is terapie – eendag sal Discovery dit erken en dalk, as jy bipolêr is, vir 'n paar kaartjies betaal.

“Daar is baie vermaak vir jong gehore, soos The King of Broken Things," sê Theart. “Die Klein KKNK-teater bied deur die dag kinderteater om kinders aan teater bekend te stel. Ons het ook seker gemaak daar is heelwat gratis vermaak wat deur die dag plaasvind sodat die feesprogram sakpas kan wees vir 'n gesin. In Baron van Rheede-straat is daar die RSG en ATKV se Kuierkol met werksessies en aktiwiteite wat ook op jong mense fokus. Straat- en musiekoptredes is ook volop in die strate.”

Hartklop van die fees

“Blitsteater is so bietjie van 'n kombinasie van 'n klomp projekte wat ons die laaste paar jaar by die KKNK gedoen het. Dit was voorheen as die Uitkampteater en toe as die Lucky Pakkie-teater bekend. Dit behels korter stukke van 20 minute wat meer eksperimenteel is en wat jy vinnig tussen ander teaterstukke kan inpas. Dis geleë by die Feesmark om maklike toegang aan almal te bied. En dis hier waar jy klein juwele sal vind.

“Die Feesmark is die hartklop van die fees van vroeg- tot laataand, met 'n program propvol optredes deur 'n keur van Suid-Afrika se gewildste sangers en musikante. Die Absa Kuierkamer en Checkers Liplekker-teater is terug. Die Klein KKNK-teater en mallemeule gaan die kleinspan deur die hele dag besig hou, die KKNK-winkel bied eksklusiewe produkte en daar is natuurlik 'n magdom stalletjies – alles ingesluit by die Feesmark-kaartjies (die fees- en dagkaartjies),” noem hy in die feesprogram.

“Vanjaar se fees skop af met 'n spesiale openingskonsert in die Feesmark, met 'n aandmark op die vooraand van die fees (31 Maart) en 'n skouspelagtige opelug-afsluitingskonsert met Nataniël en ander kunstenaars in Duif. Die fees duur van die oggend van 1 April tot Sondagaand 6 April.

“Ons is 'n Suid-Afrikaanse fees, en ons bied die room van Suid-Afrikaanse kultuur aan – meestal in Afrikaans, maar daar is genoeg ander puik teater- en musiekproduksies wat dié wat dalk nie gemaklik voel in Afrikaans nie, tevrede sal stel. Dit sluit produksies soos The Fire Eater, The King of Broken Things en Pieces of Me in.”

“En die visuele kunste?” wil ek weet.

“Henk Serfontein is die kurator, en dis ook Liza Grobler se eerste jaar as kunskurator. Sy bly ook in Oudtshoorn en het 'n ongelooflike manier om met mense om te gaan. Sy het die wonderlikste aanbod in samewerking met opwindende kunstenaars saamgestel.

“Mense kan 'n feesgids gratis by Exclusive Books oplaai om meer oor die program te lees. Baie van die kuns het ook die dorp en sy mense betrek. Ons het die ReWOLusie-projek wat ons voor Covid begin het, verder uitgebrei. Daar's ook die Bloekomboom-projek wat dans en kuns kombineer, en mense se talent ontwikkel. Vanjaar het Liza en ander kunstenaars byvoorbeeld saam met die skoolkinders van Oudtshoorn 'n brug by die ingang van George af geverf om die dorp op te vrolik en iets moois agter te laat.

“Mense moet na die fees toe kom vir ontvlugting en om die wêreld om hulle te verwerk terwyl hulle weer kuier en nuwe konneksies maak. Jy word gestimuleer deur alles wat jy sien, proe en hoor, en kan nuwe asem in die skoonste lug skep,” sê hy.

Volstruishoofstad van die wêreld

Oudtshoorn het 'n ryk kultuurerfenis. Die dorp staan vandag nog bekend as die volstruishoofstad van die wêreld. Verlede jaar het ek en Klarablaar deur die strate gewandel (soms effens geslinger), saam met Frans Karoo wat vir ons kaartjies gekoop het vir 'n staptoer deur die dorp.

Baie van die mooi sandsteengeboue is in die volstruisveer-bloeityd gebou, soos die ou Hoër Seunskool (1907) met sy kloktoring, 27,5 m hoog – dié gebou is nou die C.P. Nel-museum. Dan is daar die bekende Le Roux-dorpshuis, 'n pragtige Eduardiaanse verepaleis in die Art Nouveau-styl, met ronde torings en sierlike ysterrelings. Ander historiese geboue is onder meer die Nederduitse Gereformeerde kerk in die Gotiese styl (1879), die Pinehurst-verepaleis (1882) en die Prince Vintcent & Co-gebou van 1914.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.