“EK is klaar met Afrikaans," lees ek so as subteks in van die begrafnisbriewe vir Vrye Weekblad se derde teraardebestelling.
Ek verstaan dit nie.
Maar dan is ek nie 'n etniese Afrikaner nie. Ek sien myself nie as een nie. En ek noem myself nie een nie. Ek is Suid-Afrikaans. Maar ek is ook 'n Afrikaanse.
Afrikaans is nie vir my 'n byproduk van 'n etniese en kulturele identiteit nie.
Die verwerping van 'n taal as weerstand teen 'n spesifieke kulturele (of politieke) wêreldbeskouing is nie iets wat ek kan doen nie, want dit is nie my kultuur om te verwerp nie. Daar is geen krag in so 'n verwerping vir my nie. Die taal bevat nie vir my die emotiewe brandgoed wat so 'n weerstand laat sin maak nie.
Die teenoorgestelde is waar. Afrikaans ís my weerstand.
Hiërogliewe en hart
Ek kan myself verstaanbaar maak in Engels.
En Duits.
En Xhosa. (Min of meer. Minder as meer, maar dit is 'n taal in my arsenaal.)
En Afrikaans. Ek praat Afrikaans met my man en Engels met my dogter. (Hy praat weer haar hele lewe lank net Afrikaans met haar, want ons wou hê sy moet die taal behou toe sy op vier sê twee tale maak haar deurmekaar.) Met my broers is dit 'n deurmekaar mengelmoes wat soms bietjies van alles bevat. Ek en my ma het altyd tussen Duits en Engels gespring (Duits meestal as ons nie wou hê ander moet ons verstaan nie).
Afrikaans het in Stellenbosch in my hart kom lê. Ander mense se moedertaal het my kom soek. En gevind.
Dáár, waar ek al my akademiese skryfwerk in die skoon, emosielose hiërogliewe van Engels gedoen het (ja, dáái tyd al was Engels 'n klaskamertaal in Stellenbosch), raak Afrikaans die taal waarin ek begin droom en dink en skryf.
Losgemaak van die Nasionale Party se grysskoene deur die alternatiewe Afrikanerbeweging, deur Vrye Weekblad, Voëlvry en die bruisende studente-opstand in Stellenbosch teen apartheid.
Ek begin skryf vir die studentekoerant, Die Matie. In Afrikaans. En die taal self begin weerstand word. Teen engheid. Teen onregverdigheid en ongeregtigheid en onderdrukking.
In die jare ná ek afstudeer (my laaste jaar op Kaapstad Universiteit, lang storie) werk ek in Afrikaans.
Eers as die koördineerder by Ons Leer Mekaar, 'n tydskrif vir nuut geletterde mense. Ons skryf vir grootmense wat oral, veral op die platteland, in aandklasse leer lees en skryf. Ons tydskrif is waar hulle in hulle moedertaal op 'n eenvoudige, toeganklike manier kan leer en lees, sonder om hulleself hoef te wend na boeke wat vir kleuters of skoolbeginners bedoel is.
Daarna is dit Die Suid-Afrikaan (DSA). Jakes Gerwel is een van ons trustees. Eers is Antjie Krog my redakteur en daarna Sandile Dikeni, Xhosa-skrywer en digter van Victoria-Wes. Ryk Hattingh is die teksredakteur. Ek word aangemoedig om diep te grawe, om beeldend te skryf. Om woorde te laat spring en sing en sug.
DSA begin met 'n gemeenskapsprojek in die Karoo – 'n koerant, Die Karoostem. Ek bring weke op 'n slag in Victoria-Wes deur, in 'n ou huis met 'n paar rekenaars, en drie jong swart joernaliste wat ek oplei. Ons fladder deur die Karoo. Oral praat mense Afrikaans. En die taal is 'n wag-'n-bietjie-bos. Hierdie is nie in die taal van die onderdrukker nie, maar die taal van amandla.
Die dag van die Springbokke se Wêreldbeker-eindstryd in 1995 kyk ons die game in 'n sjebeen in Vic-Wes. Die helfte van die mense ondersteun die All Blacks. Maar toe die Springbokke wen, toi-toi die mense in Afrikaans in die strate. Die All Black-ondersteuners ook.
'n Jaar later (of was dit twee?), maak Die Suid-Afrikaan toe. Stomp. Klaar. Verby. Soos Vrye Weekblad nou. Dieselfde sadness. Dieselfde verslaenheid. Dieselfde wat-nou?
En my Afrikaans loop vir twee en 'n half dekades droog.
Vrye Weekblad 2 en toe ... 3
In 2019 nooi Max my om deel te word van 'n moderne, digitale inkarnasie van die trotse strugglekoerant van die 1980’s.
My Afrikaans is verroes. Ek skryf aanvanklik my stories in Engels en vertaal dit dan moeisaam. Ek moet elke tweede woord opsoek. Ek kan glad nie in Afrikaans formuleer nie. Ek dink in Engels. Dit frustreer my, die stompheid van my woordeskat, die luiheid van my brein om vatplek te kry aan woorde wat nog iewers lê, maar waarvan die spiere lamgelê is deur ongebruik.
En toe, op 'n dag is my Afrikaans terug. Met dié storie oor plaasmoorde en my ouers wat in 'n hok op die plaas woon.
Dit is asof 'n waterpan reën gekry het. Die woorde spring uit om my gedagtes te vorm. 'n Ondergrondse fontein wat weer deur 'n blinde oog begin loop. Die woorde raak gedagtes, eerder as andersom.
Soos die Kanadese antropoloog Wade Davis dit stel:
“Every language is an old-growth forest of the mind, a watershed of thought, an ecosystem of spiritual possibilities."
Die afgelope ses jaar se skryf in Afrikaans was die grootste geskenk van my lewe. Daarsonder sou die ander-mense-se-taal-van-my-hart net 'n praattaal gebly het, deurvreet met al hoe meer Engels soos my brein minder en minder fiks geraak het om woorde te onthou of te wil soek in die leksikon van die alledaagse.
Hier is wat ek nou wéét, ná ses jaar se Vrye Weekblad: 'n Taal kan net aanhou lewe en groei en vernuwe as jy daarmee verf. Of dit nou is in die musikale mondelingse tradisie van die Xhosamense wat verf met sang, of deur te skryf en lees in Afrikaans. Kombuis-Afrikaans is hiërogliewe vir die uitspreek van woorde. Kommunikasie.
As dit nie vir VWB was nie, het die diep, liriese rivier van Afrikaans vir my doodgeloop in 'n lekkende ou modderdam (met 'n paar verwese eende wat raas tussen die riete).
Ek is nie klaar met Afrikaans nie.
Afrikaans is vir my die gesuis van 'n boom in die donker. Die glimmende groen van 'n woudpapegaai se vere. Die swart en wit van 'n tarentaaltjievlinder. Afrikaans is vir my berge en veld. Afrikaans is my venster op vreugde en verlies. 'n Heilige algoritme waarmee ek sin maak van die derde hoofstuk van my lewe. Afrikaans is vir my poësie en betekenis en weerstand. Hamer en kwas en skalpel.
En daarvoor sê ek dankie.
Dankie, Vrye Weekblad. En dankie, Max.
Ek is nie klaar met Afrikaans nie.
En ek wil aanhou om my hande te kan druk in die skoon water van die nou-nie-meer-blinde fontein, daar waar dit uitsypel in stilte, tussen rooigras en harpuis. Ek wil my voete kan dompel in die koel watervoor van betekenis. En my lyf laat lê in die vlak water van die rivier wat wegvloei onder donker reënwolke en die ruig koepel van 'n wag-'n-bietjie-bos.
Afrikaans is nie klaar met my nie.
Ons praat weer. Op Binne+Land.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.