Plaasmoorde: Die skimme van geweld wat ons harte oopkloof

ONS KAN ALMAL 'N TEIKEN WEES

Plaasmoorde: Die skimme van geweld wat ons harte oopkloof

Plaasmoorde is weer eens in die kollig ná die grusame marteling van en moord op 'n boer in Bonnievale twee weke gelede, en drie plaasaanvalle in Stellenbosch die afgelope week. Die genadelose aanslag van geweldsmisdaad in Suid-Afrika laat 'n diep spoor van trauma op al ons mense, sê ANNELIESE BURGESS, wie se bejaarde ouers self boere is.

EK ken die plaaspad soos die palm van my hand. Deur die voorhek, af deur die harpuisbosse en rooigras, oor die bruggie by die rivier. Dan om die groot grasplaat, waar springhase se oë snags in die bakkie se ligte gloei.

Al op langs die heuwel met sy gekreukelde rotsformasies (en die bankrotbos wat elke jaar al hoe meer raak). Verby die dam en die dipkraal, en op deur die lang boomlaning tot by die plaashuis, waar my bejaarde ouers nou saans in 'n toegesweisde hok moet slaap.

My pa by sy beeste
My pa by sy beeste
Image: ANNELIESE BURGESS

Op 80 is my pa nog elke dag tussen sy beeste, ry hy met sy rooi motorfiets op lande toe of neem sout kampe toe. Soos wat die jare aanstap, raak die fisieke deel van boer al hoe moeiliker, raak die bekommernisse oor brande, honde wat skape doodbyt, diefstal, en die reën wat nie kom nie, soms te swaar vir 'n ou man om te dra.

Maar vir my pa (en my ma) is die plaas waar hulle wil wees. En in 'n normale samelewing sou dit 'n seëning wees en sou een van ons heel waarskynlik op die plaas terug wees en langs my pa aanboer – 'n volgende generasie op die grond.

Behalwe: Suid-Afrika is nie 'n normale samelewing nie, en 'n plaas is nie meer 'n veilige plek nie. Snags, as die middernagtelike slapeloosheid op my neerdaal, dink ek aan ons ou plaashuis onder die maan, en my ouers wat slaap in hulle hok, en dan voel ek soms asof ek nie kan asem kry  oor die vrees wat my verswelg nie.

Elke dag in hierdie land leef ons met abnormale geweldsmisdaad. As jy nog nie self gekaap is of 'n geweer teen jou kop gehad het nie, of besteel is, of by jou huis ingebreek is, of jy aangerand of verkrag is nie, dan ken jy iemand met wie dit gebeur het. En as dit nog nie met jou gebeur het nie, lewe jy met die wete dat daar 'n hoë waarskynlikheid is dat dit nog met jou kan gebeur. Die skim van geweld is op ons paaie, op ons treine, in ons huise (en selfs in die manier waarop ons met en oor mekaar praat – kyk maar net na Twitter of luister na inbellers op die geselsradio).

En of jy nou in die bodorp of die onderdorp bly, in 'n township of op 'n plaas, elkeen van ons leef met die buitengewone wete dat ons iewers in ons leeftyd die teiken van geweldsmisdaad kan wees.

Van Ravensmead tot Richardsbaai, of jy nou 'n boer of 'n lorriedrywer of 'n paramedikus in 'n ambulans is, lewe jy met die adder van vrees wat in jou kop krioel. En omdat ons so gewoond geraak het aan die abnormaliteit, besef ons meestal nie wat dit aan ons psige doen nie. 

Ons is 'n land van getraumatiseerde mense. Getraumatiseer deur ons geskiedenis, getraumatiseer deur oorlog, getraumatiseer deur apartheid en skuld en woede, getraumatiseer deur ons vrot politiek en onbevoegde politici – en getraumatiseer deur vrees en misdaad.


Die landskap van my hart
Die landskap van my hart
Image: ANNELIESE BURGESS

Boeregemeenskap loop deur

Ek en my broers moes al baie praat oor ons ouers op die plaas – ons val al jare lank rond tussen hulle wens om op die plaas te bly en ons vrees vir hulle veiligheid. Ons is nie histeriese klakouse nie; die klein boeregemeenskap waar ons grootgeword het, het al erg deurgeloop. Jenny Thornton is in haar slaapkamer vermoor, Sokkies Labuschagne in sy plaashuis, Ruben Gouws voor sy voordeur. Henry Potgieter, oom Desmond Cloete, Sarel Pretorius en die De Villiers-familie. Dit is 'n lang lys mense – en dit is maar net dié wie se name ek ken.

Al twee my ouers het ook al die spook van aangesig tot aangesig ontmoet: 'n Inbreker het my pa met 'n mes gesteek, en twee gewapende mans het my ma in haar bakkie by die plaashek voorgelê. Sy het terugbaklei en dit op een of ander manier reggekry om weg te jaag (sy kon later nie veel van die voorval onthou nie, behalwe dat sy besig was om 'n tros druiwe te eet toe die man met 'n pistool uit die gras te voorskyn gekom het). Ons het later 'n lang stuk tou langs die pad gekry waarmee die ouens haar seker wou vasbind. Wat die verdere plan was, wil mens eerder nie dink nie.

Natuurlik is niemand ooit vasgetrek vir hierdie twee gevalle nie. Tussen al die ander gevalle van moord en doodslag en diefstal en brandstigting en rooftogte is poging tot enigiets maar net 'n rede vir jou om dankbaar te wees dat dit nie erger was nie.

Dit is hoe ons oorleef met die abnormaliteit – ons praat onsself sterk, ons minimaliseer die geweld in ons koppe, en ons beweeg aan. “Ek is oukei; dit kon erger gewees het" is 'n donker Suid-Afrikaanse troosritueel. Ten minste is ek nie verkrag of gemartel nie; ten minste was die kinders nie by nie; ten minste is ek nie dood nie.


Verval op die platteland

Die platteland is besig om stadig en stilletjies uitmekaar te val. Die meeste dorpies is verwaarloos en vuil, en die mense is kwaad. Die wyse waarop munisipaliteite wanbestuur word, is goed gedokumenteer. 

Die pad deur Queenstown
Die pad deur Queenstown
Image: ANNELIESE BURGESS

As ek uit Oos-Londen plaas toe ry, vat die pad my eers deur Stutterheim, waar die munisipale kantore in die hoofstraat uitgebrand staan. Die laaste keer toe ek deur Queenstown is, het die vullis soos groot branders langs die pad gelê en het die meentbeeste gekou aan plastiek en vuil babadoeke.

In Dordrecht lyk die stadsaal na iets uit 'n oorlogsone met oopgekapte deure en vensters – hier het inwoners verlede jaar die munisipale kantore leeg gedra en alles, van meubels tot lêers, in die hoofstraat verbrand. In Indwe, my tuisdorp, loop jy deur rioolvullis in die hoofstraat. Die “honeysucker"-diens se prys het die afgelope jaar vervyfdubbel (en boonop is daar nou net een trok oor vir Cala, Indwe en Dordrecht) so nou trap jy maar deur strontwater as jy jou inkopies gaan doen.

Van wet en orde is daar min sprake. Die polisie probeer, maar werk in 'n moeras van moord en doodslag. Niemand is ooit aangekeer vir die aanval op my pa of my ma nie, en diep in jou hart verwag jy dit ook nie, want die polisie verdrink in ernstiger sake.


Geweld soos ’n rooigety

Daar is min werk – behalwe op plase, in winkels en by munisipaliteite is daar min opsies. Werkloosheid staan by die 80%. Mense sukkel maar aan met die geldjies wat hulle by die regering kry. Staatstoelaes hou hulle aan die lewe, en  hulle is arm en kwaad en gebrutaliseer deur swaarkry. En in hierdie konteks is dit oor die algemeen oumense wat die spit afbyt van geweldsmisdaad wat soos 'n rooigety in elke gemeenskap van ons land oorspoel.

Ek en my ma stap op die plaas
Ek en my ma stap op die plaas
Image: ANNELIESE BURGESS

My ma het al 20  jaar 'n winkel in die dorp en het diep wortels in die gemeenskap. Baie van haar klante is bejaarde vroue soos sy, en hulle kom al dekades met mekaar saam. Hulle ken mekaar se stories van vroeër toe hulle almal jonk en sterk gestaan het, met hoop vir hulle kinders en die toekoms.

Die stories wat hulle vandag vertel, is van 'n skrikwekkende uitlewering aan die woedemisdaad van die jongmense. Van die swaard van verkragting en aanranding, die wurggreep van dwelms op gemeenskappe, hoe hulle van hulle karige toelaes besteel word, die moeite waarmee hulle hulle kinders se kinders moet probeer grootmaak in 'n plattelandse wêreld waar daar gevaarlik min wetstoepassing is.

En dít is die konteks waarin plaasaanvalle gebeur en waar die angs oor my ouers se laaste jare my kort-kort oorweldig. As bejaardes in vrees lewe in dorpe en townships en nedersettings, is mense op plase – veral ouer mense – nog meer aanloklike aas.

Boer in Suid-Afrika is oor die algemeen nie meer 'n jongmensding nie. Net gister het ek statistieke hieroor gesien. In 2004 was meer as 60% van Suid-Afrika se kommersiële boere al ouer as 50 jaar. Vandag is dit in die 70%. Slegs 5% van kommersiële boere is vandag tussen 25 en 34 jaar oud. 

Jongmense oor die algemeen wil wegkom uit die platteland, en dit sit agter die meedoënlose migrasie na  Suid-Afrika se stede. Maar die volgende generasie kommersiële boere is ook aan die kwyn. Die onsekerheid oor grond, die verval van die platteland, die vrees oor die toekoms in Suid-Afrika, al hierdie dinge dryf ook jong boere weg na die groener weivelde in die stede en oorsee.

Die platteland is oumenswêreld – die vasbyters, en die die sagte teikens – van 'n Suid-Afrika wat sy mense in die steek gelaat het.


‘Ons negeer mekaar se menswees’

'n Eienaardige Suid-Afrikaanse karaktertrek is ons geneentheid vir wat die Engelse “whataboutery" noem – die geneigdheid om altyd te sê: “Ja, maar wat van ..." wanneer ons iemand se argument probeer ondermyn. Hierdie loefafstekery is 'n onsmaaklike deel van ons nasionale gesprek, veral wanneer dit by geweldsmisdaad kom.

Ons negeer mekaar se menswees deur syfers aan pyn te koppel. Niemand in ons land verdien om geterroriseer en gemartel te word nie – nie die ma's van Bonteheuwel wie se kinders deur bendes doodgeskiet word nie; nie die mense wat by treine uitgegooi word nie; nie die ou antie wie se deur afgeskop word deur 'n betikde jongeling op soek na haar grant-geld nie; en ook nie die ou boer op 'n afgeleë plaas nie.

Ek is bekommerd oor my ouers, want dit is waar Suid-Afrika se gebrokenheid my persoonlik raak. Landelike veiligheid bestaan eenvoudig nie. Dit is 'n roll of the dice of jy 'n teiken gaan word of nie.  Daar het niks gekom van oudpres. Thabo Mbeki se destydse beloftes dat die ou kommandostelsel met ’n nuwe polisiereserwemag vervang sou word nie, en wetstoepassing en polisiëring op die platteland is geheel en al wanfunksioneel.

Ek glo nie vir een oomblik in die mite van 'n wit volksmoord nie, maar dat die opruiende rassepraatjies van sekere politici bydra tot spanning op die platteland (en orals), kan ons nie miskyk nie.

Nes baie Afrikaners 100 jaar ná die Boereoorlog steeds diep sielswonde het, moet ons weet dat daar by swart mense, 25 jaar ná die einde van apartheid, nog diepgewortelde woede, hartseer en pyn is. En as jy magteloos en woedend voel omdat jy arm en werkloos is, is 'n logiese menslike reaksie om iemand daarvoor te wil blameer en straf. Vir die politici is dit gerieflik om die blaam elders te probeer plaas.

Ons moet mekaar se pyn verstaan as ons saam die toekoms wil in, maar dit beteken nie dat ons nie moet opstaan teen die groteske geweld in hierdie land nie.

Ek is woedend dat my ouers in 'n hok moet slaap, en ek is woedend dat miljoene ander Suid-Afrikaners snags moet lê en luister vir vensters wat breek of geweerskote in die straat.

As ons nie kan saamstem dat daar geen regverdiging daarvoor is – nie in die verlede of die hede – om mekaar met messe te steek, of met vuurwapens te skiet of met kookwater en strykysters te martel nie, dan is daar geen hoop vir hierdie land nie.

Tussen al ons struggles met mekaar moet ons ten minste daaroor kan saamstem.

En ek (en jy) mág kwaad wees daaroor en ons regering verantwoordelik hou vir die veiligheid van ons mense. Almal van ons s'n.


NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!


X