Autshumao: Monopoliekapitaal al van 1652 af

SAKEVERNUF VAN DIE "STRANDLOPER"

Autshumao: Monopoliekapitaal al van 1652 af

ʼn Baanbreker-entrepreneur soos Autshumao verdien veel meer respek in ons geskiedenis as hoe sy rol tans vervlak en onderskat word, sê JEREMY VEAREY.



DAAR is ʼn storie te vertel oor die ondernemingsgees en sakevernuf van Autshumao van die Goringhaikona wat al vanaf die 1630’s aan die voet van Hoerikwaggo die eerste posdiens hier bestuur het.
Nie net van sy posklip-kantore vir Nederlanders en Engelse skeepvaarders se posstukke nie. Maar ook dat hy hierdie geleentheid winsgewend ontgin het om as bemiddelaar in veehandel met die plaaslike bevolking op te tree.
Hy was egter veel meer as net bemiddelaar. Hy was ook die waardasie-agent vir alle goedere in daardie wedersydse handel. En dis hier waar sy sakevernuf deur hegemoniese geskiedskrywing onderskat word.
Kan jou jou indink wat dit van ʼn enkele entrepreneur sou verg om ná 1652 te beding teen teen Jan van Riebeeck, die Kaapse konsessiebestuurder van die destyds grootste handelsmonopolie in die Europese wêreld – die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) – met takke in Batavia, Ceylon, Indië, Indonesië, ensovoorts?
Eerste arbeidsmakelaar
Dis dan ook veral ná hierdie VOC-konsessievesting in die Kasteel die Goeie Hoop wat Autshumao flinkweg ʼn nuwe sakegeleentheid ontdek. Hy word ons land se eerste arbeidsmakelaar en bedryf ʼn suksesvolle onderneming in die verskaffing van indigene arbeid vir tolkdienste en veewagtery.
As bemiddelaar tussen die VOC-konsessie en die plaaslike bevolking rondom die Soutrivier slaan hy later ook munt uit die begin van die Kaap se eerste groothandelskaal-soutbedryf.
Wat nog te praat van sy seminale rol in koperhandel tussen die VOC en die “Saldanhars” van die binneland, en ander plaaslike groepe in diervelle. En wat van sy rol in die grootskaalse versameling van skulpe wat vir kalk gebrand is vir die VOC se bouwerk?
Is hy regtig waardig hiervoor vergoed? Is hy ooit met ʼn opspoordersloon vergoed vir sy uitwysing van die bosryke gebiede in “Kirstenbos” wat vir brandhout, of vir die mosselryke inhamme wat as aanvullende voedselbron deur die VOC-konsessie ontgin is?
Inteendeel. In 1659 is hy getref deur wat ons in vandag se sakewêreld ʼn vyandige oorname sou noem. Die bestuurder van die Kaapse konsessie van die VOC, Jan van Riebeeck, stuur hom na Robbeneiland, waarvandaan hy ʼn jaar later as die eerste gevangene in die geskiedenis van dié tronk ontvlug.
Bedryfsvaardigheid
Die “Hadah” of “Herrie die Strandloper” van die VOC se bloumoer. ʼn Baanbreker-entrepreneur soos Autshumao wat onder die magtige handelsmonopolie van die VOC kon doen wat hy bereik het, verdien veel meer respek in ons geskiedenis as hoe sy rol tans vervlak word.
Hiervan spreek sy ondernemingsgees en bedryfsvaardigheid met karige kweek- en bedryfskapitaal boekdele in sy stryd teen die monopoliekapitaal van die VOC in die 17de eeu.
Dan is daar nog dié wat vra van waar die “skielike” beheptheid met monopoliekapitaal. Ons ondernemingsgees en bedryfsvernuf is al vanaf 1652 af hierdeur met vyandige oorname ingeperk. En dit geld ook vir dié wat later geglo het dat hulle regtig “Vryburgers” onder die VOC was.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.