Piet Botha, die strandloper

RUS SAG, NKOSI

Piet Botha, die strandloper

Die berugte Soul Drifters-krieketklub het hul mees ervare speler verloor, en die sonlig in die Strand maak jou oë seer, want die rocker Piet Botha is dood en niemand kan dit glo nie. Deur RIKU LÄTTI.

Image: GIDEON BREYTENBACH

VANOGGEND se rit die Strand in voel anders, al ken ek die paadjie so goed. Die spekbome se blare blink helderder geel en groen as normaalweg. Dis eenvoudig te helder vir die wrede besef dat om die draai, aan die linkerkant, in die oranje geboutjie, die klavierstoeltjie leeg is.

Piet Botha. Die ewig jeugdige man sal nooit weer by die klavier sit en country tunes jam nie. Of op die stoep staan, pyp stop en uitkyk see se kant toe, want “daar’s dalk lekker waves vir surf vandag" nie.

Geen goedige gekorswel met sy dogters nie. Geen Piet wat skelm pyp opsteek in die Soul Café nie, onder Ricci se neus, baas van die plaas en ook Piet se lief. Met sy bekende kekkellaggie “O! Ek het net bietjie vergeet!" Als net ’n onskuldige ou glipsie. Sy blink, ondeunde oë wat glimlag vir die liefde en vergifnis.

Piet is dood en niemand kan of wil dit glo nie. Die berugte Soul Drifters-krieketklub het hul mees ervare speler verloor. Piet beteken te veel vir mense om weg te wees. Hy’t miskien gesterf, maar jy voel hom nog hier.

Die Strand se Spur het heel spesiaal lank ná toemaaktyd nog Piet se tunes gespeel vir die hartseer vriende wat mekaar Piet-stories vertel.

Peter Pearlson wys my ’n foto op sy foon van ’n jong Piet en Anton Goosen weerskante van die klankmengbord in die ateljee waar hulle musiek opgeneem het. Dit was op 31 Mei 1990, onthou Peter, dat hy die eerste keer saam met Piet gewerk het.

’n Bewoë Arthur Dennis van die Akkedis Band vertel verhale van toe hulle en Piet op Lyzyrd Kyngs-toere was, en sy tweelingbroer, Rudolph, beaam en vul aan. Valiant Swart sit ook daar, verslae, met 'n koppie swart koffie. Hy luister en vra: “Maar watter version van Suitcase vol Winter speel nou? Want dis anders as die album version.”  

Nkalakatha-skepper Gabi le Roux bel; hy is by die Suid-Afrikaanse Musiekregteorganisasie (Samro) om die Botha-familie te help en wil weet wat kan hy nog doen. Die deernisvolle Spur-bestuurder, Owen Tait, maak almal so gemaklik moontlik. Al die ander mense is lankal weg, maar hy verjaag ons nie.

Ek nooi die Akkedisse na Die Wasgoedlyn se sitkamer-ateljee toe om na ietsie moois te kom luister, maar sê nie vir hulle presies wat nie. Toe speel ek hul eie weergawe van Piet se “Sien jou weer” met ’n laaste kitaarsolo van Piet, wat hy drie dae voor sy dood opgeneem het. Arthur en Rudi kan hul ore nie glo nie. Hulle is aangedaan. Nog ’n bietjie Piet wat vir ewig saam met hulle gaan musiek maak elke keer as daai opname speel.

Image: GIDEON BREYTENBACH

Nee, niemand kan glo Piet is dood nie. Piet is lewensgroot. Sy nederigheid en menslikheid sal 'n mens altyd bybly. Ja, hy het geweet hy is almal se hero, maar hy wou nie hê dit moes ’n big deal wees nie. Maak liewer ’n grap, maak mense gelukkig. Dis wat hy gedoen het.

Piet is een van die Suid-Afrikaanse rockers met die interessantste en kleurrykste lewe. As diplomaat se kind het hy op die dakke van staatsgeboue in Washington in musiekgroepe gespeel met die Hollywood-akteur Billy Bob Thornton op tromme. Hy het al voor Voëlvry in Afrikaans gerock, en tot op sy laaste wou hy net musiek maak.  

Piet het groot en waardig gelewe. Goedhartig, vrygewig, behulpsaam. ’n Mooi woord vir almal, altyd. Van die koning tot die boemelaar. Hy het sy medemens geïnspireer. Hy het 'n gros musikante in hierdie land ’n pad gewys. Mense wat altyd met liefde aan hom sal dink as ’n broer en pa.  

‘In Piet se stem was daar diepte en gesag, maar ook deernis en empatie. Piet was die goeie sonlig in die Strand.'

Piet se nalatenskap vir almal Afrikaans en sommer net almal wat wil luister, is massief. Suitcase vol winter en Middernagtrein is monumentale werke in Afrikaans. Sy talle Jack Hammer- en ander albums ter syde, is dié twee genoeg om sy naam onder die grootste liedjieskrywers van Suid-Afrika te noem.

Maar daai stem? My ma bel my een dag en vertel sy het nou net die mooiste stem in Afrikaans gehoor en RSG sê dis Piet Botha. My ma weet iets van Afrikaans. As jy haar taaltoets geslaag het, is jy in kategorie kuns, steeds ruk-'n-rol met street-cred, maar daai stem maak ordentlike vroue se knieë wankel.

In Piet se stem was daar diepte en gesag, maar ook deernis en empatie. Piet was die goeie sonlig in die Strand, en vandag voel alles omgekrap. Iets is nie lekker nie. Dis asof die son nie lekker skyn nie, effe te helder, effe te veel lig en dit maak mens se oë seer.

Maar wie is ons om te kla, want Piet het nie. Hy het sy laaste dae in pyn geleef, maar jy sou hom dit nooit hoor sê nie. 

Jirre, Piet, rus sag, Nkosi. Vir jou het ons net ewig lief. 


NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.