Die bloedprys van weet

HOE LYK JÓÚ BAGASIE?

Die bloedprys van weet

Vir iemand wat 'n T-hemp wou laat druk met die woorde ‘die feit dat ons familie is, is 'n genetiese toevalligheid’, was dit tog interessant om meer oor haar erfenis uit te vind. Maar al weet sy ná haar stamboomnalopery dat haar bloed ook ander flentertjies en flertsies in het, is ‘my bloed steeds myne’, skryf MARINDA KOLEV.

EK het nog nooit swaar gedra aan nalatenskap en ’n gevoel dat ek iets moet agterlaat wat ’n merk op die wêreld maak nie. Ek is baie bewus daarvan dat ek een van meer as agt biljoen mense op aarde is en dat nie almal van ons merkwaardige lewens hoef te lei nie. Die meeste van ons hoef net ons bes te doen en moet probeer om so min as moontlik skade te maak. Maar 'n paar weke gelede het ’n stuk bagasie swaar op my skouers kom lê.

My ma het ’n swart boks bo uit ’n kas gehaal. Die deksel het nie mooi op gepas nie en dit was met ’n stuk lyn vasgebind. Die boks kom van die plaas in die Vrystaat waar my ma groot geword het en was maar een van 'n paar goed wat uiteindelik in my ouerhuis beland het lank nadat die plaas verkoop is. Binne-in was klere en ’n paar ander stukkies herinneringe wat uit die Brandfort-konsentrasiekamp kom. ’n Kinderrokkie met ’n fyn blompatroon. ’n Swart rok met kantwerk. ’n Onderjurk. ’n Paar swart-en-wit foto’s met strak mense. ’n Poskaart sê in my ouma se geliefde handskrif aan wie die klere in 1901 behoort het en dat een van die persone in die kamp dood is. In die boks is ook ’n lappoppie so lank soos ’n man se hand. Op die ruggie is in pen geskryf: “Christie 6de geslag”. Christie was my ouma. Dit maak my die agtste geslag.

Die klere is in ongelooflike goeie toestand. Soveel te meer as mens in gedagte hou dat dit 120 jaar oud is. Dit het dekades lank in 'n boks bo in 'n kas gelê en minstens drie keer in verhuisingslorries getrek. Nou, in die jaar 2021, het my ma besluit daar moet iets mee gedoen word. Die Voortrekkermonument het nie plek nie. Die Vrouemonument het nie 'n museum nie. Maar die Oorlogmuseum in Bloemfontein klink opgewonde oor die klere. Ek skryf die inventaris neer terwyl my ma die klere versigtig opvou en in 'n stewige kartonboks pak. Stukkies materiaal, iets wat dalk 'n kussingslopie was, babaklere wat met die fynste stekies reggemaak is. Dis pragtig, maar niks in my hart roer eens 'n klein bietjie nie. Hierdie goed is niks van my nie. Al wat vaagweg wink, is vrae .....

Slegs Vrye Weekblad-intekenare kan hierdie artikel lees.

Teken nou in vir volle toegang tot alle Vrye Weekblad-inhoud.

Reeds ’n intekenaar? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.