EEN van die beste voorbeelde van die siek kultuur in die Nasionale Loteryekommissie (NLK) is dalk Phillemon Letwaba, sy bedryfshoof, wat in die 2020-'21-boekjaar ’n prestasiebonus van byna R1 miljoen verdien het – al was hy glad nie daardie jaar by die werk nie omdat 'n dissiplinêre ondersoek teen hom aan die gang was. Hy was van Februarie 2020 tot Julie 2021 met verlof, ’n tydperk van 17 maande.
Die bonus was boonop bykomend tot sy basiese jaarlikse salaris van R2.46 miljoen vir die 2020-’21-boekjaar, van 1 April 2020 tot 31 Maart 2021. Sy “prestasiebonus” van R976,000 het sy totale pakket vir die tydperk op R3.98 miljoen te staan gebring, wat meer as R500,000 méér was as die vorige jaar, toe hy R3.39 miljoen betaal is.
Letwaba word deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) vir beweerde korrupsie ondersoek.
Nog 'n voorbeeld is Thabang Mampane, die kommissaris van die NLK wie se tienjaar-ampstermyn op 30 September vanjaar eindig. Sy het in die 2020-'21-boekjaar byna R4.54 miljoen gekry, insluitend toelaes en ’n prestasiebonus van R1.25 miljoen. Dit verteenwoordig ’n toename van meer as 20% vergeleke met die pakket van sowat R3.74 miljoen wat sy in die vorige jaar gekry het.
Haar verdienste in 2020-’21 was meer as die salarisse van pres. Cyril Ramaphosa, wat R3,079,540 per jaar verdien, of adj.pres. David Mabuza, wat R2,910,234 per jaar verdien.
GroundUp het vroeër onthul hoe miljoene rande se loterygeld wat bedoel was om 'n skool in Limpopo mee te bou, in werklikheid bestee is aan 'n huis vir Mampane in 'n luukse gholflandgoed naby Hartbeespoortdam in Noordwes. Die transaksie is gekanaliseer deur Upbrand Properties, 'n privaat maatskappy wat verbind word met Letwaba en sy familie en waarvan die naam gereeld in NLK-verwante bedrywighede opduik. Die huis van R3.6 miljoen in Pecanwood Estate is in die naam van die Mojakgomo Family Trust geregistreer. Mampane en haar man, Solomon, is albei trustees van die trust, volgens amptelike rekords.
Mampane se opvolger as kommissaris sal aansienlik minder as sy verdien. Die proses om ’n nuwe kommissaris aan te stel het ’n paar weke gelede begin toe die pos geadverteer is. Die nuwe kommissaris sal na verwagting teen 1 Oktober aangestel word. Die aanstelling is vir vyf jaar, volgens 'n advertensie vir die werk. Die nuwe posbekleër se “allesomvattende” vergoedingspakket sal tussen R2,008,212 en R2,262,252 per jaar wees.
Dié kleiner salaris vir die volgende kommissaris dui daarop dat die nuwe NLK-raad ’n einde wil maak aan die hoë salarisse wat aan sy bestuurders betaal word.
Saam het die NLK se sewe bestuurders in die 2020-'21-boekjaar sowat R23 miljoen verdien, insluitend ruim bonusse en toelaes. Dit was R3.5 miljoen meer as die vorige jaar.
In totaal is die uitvoerende gesag R5.8 miljoen in prestasiebonusse betaal, ten spyte daarvan dat die NLK deur korrupsie verswelg is en deur die Valke sowel as die SOE ondersoek word.
Mothibi Ramusi, die kommissie se inligtingshoof, het R3.96 miljoen verdien, wat ’n prestasiebonus van R973,000 ingesluit het.
Xolile Ntuli, finansiële hoof, is R2.68 miljoen betaal, met byvoordele wat ’n prestasiebonus van R655,000 ingesluit het.
Pap reën vir raadslede ook
Dit was nie net die voltydse NLK-bestuurders wat groot geld gekry het nie. Miljoene is ook betaal ook raadslede, wat almal deeltydse, nie-uitvoerende amptenare is en nie salarisse betaal word nie.
Pleks van 'n salaris word raadslede betaal vir die bywoning van raadsvergaderings, en in die 2020-’21-boekjaar is hulle ook betaal om vergaderings oor die toekenning van ’n nuwe loterylisensie by te woon. Die termyn van die huidige lisensiehouer, Ithuba, wat op 31 Mei volgende jaar sou eindig, is tot 31 Mei 2025 verleng.
Vyf NLK-raadslede het in die 2020-'21-boekjaar altesame R7.67 miljoen verdien vir die bywoning van vergaderings en werkswinkels. Dit het reiskoste en ruim selfoontoelaes ingesluit. ’n Sesde raadslid, wat deur die minister van handel, nywerheid en mededinging genomineer word, word nie deur die NLK betaal nie.
Die voormalige raadsvoorsitter Alfred Nevhutanda, wie se ampstermyn van 11 jaar in November 2020 geëindig het, het in dieselfde boekjaar byna R1.44 miljoen verdien, waaronder R996,000 vir die bywoning van raadsvergaderings, hoewel hy die NLK vier maande voor die einde van die verslagtydperk verlaat het.
Boonop, het Groundup berig, het 'n privaat maatskappy, Neo Solutions, R2 miljoen bygedra tot Nevhutanda se luukse herehuis. Neo Solutions is dieselfde maatskappy wat vroeër meer as R26 miljoen verdien het as 'n diensverskaffer aan die NLK.
Verlede maand het die Spesiale Tribunaal 'n bevel uitgereik waarvolgens Nevhutanda se herehuis en die inhoud daarvan bevries is. Die bevel is toegestaan teen Nevhutanda en Vhutanda Investments, 'n privaat maatskappy in wie se naam die eiendom geregistreer is. Nevhutanda is die enigste direkteur van Vhutanda Investments, volgens amptelike maatskappyrekords. Ook ingesluit in die bevel was vyf nie-winsgerigte entiteite en twee privaat maatskappye, sowel as 20 mense wat by dié ondernemings betrokke was. Tussen hulle het dié nie-winsgerigte organisasies sowat R100 miljoen in loterytoewysings ontvang, en hulle het op hulle beurt volgens die SOE regstreeks of onregstreeks miljoene rande bygedra om te help betaal vir Nevhutanda se uitspattige huis.
Intussen probeer die NLK se nuwe raad steeds om teen Letwaba op te tree. Hy is verlede maand in kennis gestel dat hy wéér geskors gaan word nadat 'n vroeëre interne ondersoek hom onskuldig bevind het aan geldwassery en dat hy sy posisie misbruik het om homself en sy familie te verryk. GroundUp het verneem dat die nuwe NLK-raad Mampana gevra het om Letwaba te skors, maar dat sy nie gehoor gegee het nie. Die raad het gevolglik besluit om Letwaba self te skors.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.