- 28 Februarie 2025
- Nuus & Politiek
- 12 min om te lees
- artikel 2 van 28
-
Piet CroucampBydraende redakteur
en ek weet
as die dag verby is
sal ek alleen wees
op hierdie plek van verganklikheid
waar my stem eggo teen die klippe
en my oë kyk na die see
vir tekens van lewe
wat nooit sal kom
– Breyten Breytenbach
DIE Stilbaai-boekefees die naweek van 21-23 Februarie was besonders. Vrye Weekblad was voorheen deel van hierdie geleentheid, maar nou is ons gereed vir die laaste grafskrif van 'n eens lewende instelling. By die meeste Afrikaanse boekefeeste is die gemiddelde ouderdom té bejaard om bemoedigend te wees.
Dalk was dit hoekom Vrye Weekblad ook gestruikel het, die generasie wat woorde en stories bepeins, is oud en afgeleef, of reeds dood. Die Afrikaanse media wat voortleef, is Netwerk24, Maroela Media en Taalgenoot – media waarvan baie lesers ons dikwels doodgewens het. Wie en wat bly oor? Kallie Kriel, Dirk Hermann en Jaco Kleynhans? Hulle wat taal gebruik om 'n politieke komplot teen die res van Suid-Afrika te smee?
Vrye Weekblad was nooit 'n linkse stem nie. Dalk skepties, soms sinies, dikwels weerbarstig, maar byna altyd 'n deurdagte relaas met letterkundige waarde. Die lesersbriewe was soms so goed soos die werk van die joernaliste. Maar nou, ná alles, het ons nog 'n maand waarin ons die heengaan van Vrye Weekblad sal vier.
Die uurwerk kantel
Byna 47 jaar ná ek Marié Heese se Die Uurwerk Kantel as voorgeskrewe roman in standerd 9 moes lees, het ek haar uiteindelik by die Stilbaai-boekefees ontmoet. Saartjie Burger was my Afrikaans-onderwyser in 1979 en haar bemoeienis met kinders en boeke dra ek reeds 'n leeftyd met my saam. Die Uurwerk Kantel is 'n herinneringsroman, en Heese het met publikasie aan haar ma, Audrey Blignault, gesê: “Ma, ek het my hele lewe lank aan dié boek geskryf.” Max du Preez en die baie joernaliste en skrywers wat oor die dekades deel was van Vrye Weekblad het ook hulle lewe lank gewerk aan dit waarvoor die koerant gestaan het.
In 2006 het Nicol Stassen van Protea Boekhuis Heese se boek met enkele veranderings herdruk. Die patriargale stelsel van die verlede moes herskryf word, so ook die baas-kneg-verhouding van die eras waaroor die boek dit gehad het. Die roman het nie die waardes van die tyd gedaag nie, maar ek het ook nie toe ek dit in my laat tienerjare gelees het nie. Ek het veilig gevoel met die Suid-Afrikaanse Weermag in Namibië en Angola, en PW Botha en Magnus Malan in die Uniegebou.
Soos die geskiedkundige Hermann Giliomee later sou argumenteer, dalk moet die “slawerny” en patriargie van die verlede – en by implikasie van Die Uurwerk Kantel – gelees word in die gees en tydsgewrig waarin dit afgespeel het. Maar soms dink ek dalk is 'n ironiese integriteit daarin opgesluit om die geskiedenis te herfraseer, soos wat Stassen gedoen het, want ons kan die wrede verlede tog nie verander nie. Die alternatief is dat Heese se roman van die rakke moet verdwyn, want ons is nou skaam vir wie en wat ons was. Wel, sommige van ons. God's water het destyds, 46 jaar gelede, maar oor God's akker in my en die meeste wit Suid-Afrikaners se onderbewussyn geloop. Tog was Die Uurwerk Kantel 'n boek met 'n outeur wat in my jong gemoed vasgesteek het.
Die sosioloog-aktivis Frans Cronjé het blykbaar by geleentheid opgemerk dat Vrye Weekblad besig is om Afrikaners of dalk Afrikaanssprekendes te vervreem, eerder as om hulle nader trek. Die implikasie van sy woorde was dat ons moet konformeer tot die belange van 'n spesifieke identiteit, ons moes herfraseer. Ons het geweier.
Breyten en Gelyke Kanse
Met verloop van jare het begrafnisse lewensvieringe geword. Die Sondag ná die boekefees ry ek laatnamiddag van Stilbaai via Hermanus na Wellington vir die viering van Breyten Breytenbach se lewe by die Breytenbach Sentrum. In my vroeë studentejare het ek as 'n jong, wit leftie en zoon politikon aan Breyten se voete gesit.
Ná 1994 het baie van ons gekonformeer tot die matige waardes van die Grondwet, die wit sosialiste van die 1980's was nou sosiaal-demokrate. Iewers in die 2000's het ek en Breyten by geleentheid gepraat oor my strewe om Eugene de Kock uit die tronk te kry. Hy het nie laat blyk dat hy kritiek het op my doen en late nie. Ek weet nie of hy die verlede herfraseer het nie, maar hy het beslis daarna gekyk met die welwillendheid en gees van die hede.
Read this article in English
Maar toe Breyten deel word van die “Gelyke Kanse”-groep taalstryders in 2016 het ek en hy 'n baie lelike openbare bekgeveg gehad. Wel, hy was seker nie formeel lid van die groep nie, maar hy het 'n ondersteunende verklaring uitgereik, asook 'n hele rits polemiese skrywes die lig laat sien waarin hy die belangrikheid van Afrikaans as 'n lewende en veranderende taal beklemtoon het.
Giliomee het ook Breyten en Gelyke Kanse ondersteun. Die goedkeurende geneurie van Afrikaanse, volkseie-organisasies wat Breyten vroeër as 'n verraaier verguis het, was oorverdowend. Skielik was die terroris 'n ballingskrywer, en dit het my teen die bors gestuit. Ek was bereid om Afrikaans aan Stellenbosch op te offer eerder as om Afrikaner-nasionalisme se saak te bevorder. Vandag sou ek anders daaroor gedink het, dit was toe.
Anders as Heese wat toegegee het aan Stassen se wysheid, sou Afrikaner-nasionaliste nie hulle woorde wou wysig in nederige erkentlikheid vir die historiese miskenning van andere se menswees nie. Vandag nog weier hulle om te erken apartheid was 'n sonde teen die mensdom. Terloops, my oud-Afrikaans-onderwyser, Saartjie Burger, is steeds deel van my lewe en het onlangs aan my genoem Die Uurwerk Kantel se tydsgewrig het so volksvreemd geraak dat sy dit nie meer vandag as 'n voorgeskrewe teks by skole sal gebruik nie.
Hoesê?
Any case. Ek het in 'n lelike openbare skrywe te velde getrek teen Breyten. Die nasionaliste van Pretoria het opgeruk om my te verdoem, maar so ook die liberale gatlekkers en sikofantiese literati wat enigiets sou doen om aan Breyten se voete te sit. Daar was geen sprake meer van 'n stryd om idees nie, dit was 'n straatgeveg. Die enigste ondersteunende stem waaraan ek my kan herinner, het gekom in 'n WhatsApp van Max du Preez.
Die vrolike, minsame small talk tussen my en Breyten by die Woord- en boekefeeste het skielik 'n siniese trek gekry. Die bloedstryd het gegaan oor die stand en toekoms van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch. Dit was vir my bitter moeilik om met die drogredenasies van die regses te identifiseer. Ek onthou die onmoontlike teenstrydigheid waarin Frederik Van Zyl Slabbert vasgevang was in 1983 toe hy sy party, die Progressiewe Federale Party, moes oortuig om, soos die Konserwatiewe Party van Andries Treurnicht, nee te stem in 'n referendum vir die driekamer-parlement van PW Botha.
Treurnicht wou die parlement wit hou en PW Botha wou die bruin mense en Indiërs verteenwoordiging in die wetgewer gee, maar het verseg om swart Suid-Afrikaners by die proses te betrek, want dit sou stemreg beteken. Van Zyl Slabbert het geweet die Nasionale Party se wil gaan seëvier in die referendum, en toe ek hom meer as 'n dekade later vra hoekom hy nie geagiteer het vir 'n wegblystem nie, het hy mymerend gesê “dalk moes ons”.
Die taal van grafstene
Breyten het midde die droewige jare van apartheid se taalnasionalisme na Afrikaans as die taal van “grafstene” verwys. Hy het selfs by geleentheid die indruk gelaat dat hy nie weer in Afrikaans wil skryf nie, maar hy het. Dalk was hy van mening dat Afrikaans in 1996 met die geboorte van die nuwe demokratiese Grondwet ook verdien het om verlos te word van die wrede ideologieë en politieke letsels van die verlede, en dalk was hy reg. Maar vir my was daar steeds vaandeldraers vir die “wrede verlede” in ons midde en hulle het Afrikaans vir 'n nuwe volksplanting gebruik.
Van agterna beskou, vermoed ek Breyten het nie die behoud van die Afrikaanse taal met taalnasionalisme vermeng nie. Hy het waarskynlik gedink indien die sogenaamde hoër funksies van Afrikaans verskraal, wanneer dit nie meer voortbestaan as 'n wetenskapstaal nie, die oorlewing van sy moedertaal gedoem is.
In die dae daarna sou Robin Renwick en die Nobelpryswenner J.M. Coetzee hulle name by die saak van Gelyke Kanse voeg. Ek het begin twyfel aan my verstaan van dit waarvoor Breyten hom beywer het. Renwick, oftewel Baron Renwick of Clifton, was die Britse ambassadeur in Suid-Afrika tussen 1987 en 1991, en het 'n belangrike rol gespeel tydens Suid-Afrika se oorgang na demokrasie in die laat 1980's en vroeë 1990's. Renwick was 'n sleutelfiguur in die internasionale diplomatieke druk wat uiteindelik tot apartheid se tydige heengaan gelei het. Ek het geen rede gehad om sy integriteit te betwyfel nie.
Coetzee se ondersteunende skrywe vir Gelyke Kanse het my onkant gevang. Ek kon nie Coetzee se steun vir dié saak verstaan nie. Ek het destyds gedink sy betrokkenheid was bloot omdat hy Breyten en Giliomee se oordeel vertrou het. Tog het beide Coetzee en Renwick laat blyk dat hulle bekommerd was oor akademiese vryheid, veral vir Afrikaans en Afrikaanse studente.
So van die Afrikaners gepraat: Giliomee het eendag vertel van 'n interaksie tussen hom en Coetzee, toe beide aan die Universiteit van Kaapstad gedoseer het. Giliomee het oor iemand vir Coetzee gevra: “Is she an Afrikaner woman?” Waarop Coetzee sou geantwoord het: “Yes, but not in an interesting way.” Dalk onthou ek nie die gebeure presies soos dit verloop het nie, maar die algemene strekking is reg.
Ek het al Coetzee se boeke gelees en dit is nie moeilik om onder die indruk te kom dat hy skepties staan jeens 'n taalstryd ondersteun deur Afrikaner-nasionaliste nie. Hierdie Afrikaner-nasionaliste was skielik bankvas agter hom, ten spyte van dekades van sinisme teenoor hom. Was dit dan nie Breyten wat die volgende gesê het nie? “Stellenbosch is die mekka van die Afrikanerdom, dis waarheen die Afrikaners gaan wanneer hulle dom word.”
Terug by die werklikheid
Midde ons taalstryd en boekefeeste probeer gewone Suid-Afrikaners 'n lewe maak in hierdie droewe, misdaadgeteisterde land. In Stilbaai was ek drieuur die oggend wakker toe vriende wat saam met my oorgestaan het by die boekefees my kom opklop. Hulle moes inderhaas terugkeer plaas toe, daar was 'n aanval, die seuns is aangehou. Die wederstrewige jonger seun – getrou aan sy aard vol nukke – het 'n hou teen die kop met 'n geweer gekry, maar hy kon ontsnap en het iewers gaan bel. Terwyl hy met sy pa praat, was hy nog onseker oor waar sy ouer broer was. Uiteindelik was dié ongedeerd, maar watter ouer se gemoed dreig nie om te breek as jy hoor: “Daar was 'n plaasaanval, ek weet nie waar my broer is nie.” Die taalstryd weeg nie op teen gewone mense se werklikhede nie.
’n Lewensviering
Van Stilbaai af ry ek oor Hermanus na Wellington. Ek stop by Dassiesfontein vir pap en kaiings. By die lewensviering van die afgestorwe Breyten praat ek met Antjie Krog. My deernis vir haar is eindeloos. 'n Jaar gelede het ons 'n boekefees soortgelyk aan die Stilbaai-fees in Clarens in die Oos-Vrystaat gehou. Antjie kry 'n staande ovasie nadat sy die mense in die stampvol saal met 'n ritmiese relaas stil-verstom laat. Anneliese Burgess is in trane, en sy is nie die enigste meegevoerde in die saal nie.
Soos almal by die Breytenbach Sentrum, betreur Antjie die afsterwe van Vrye Weekblad teenoor my. John Miles groet en ek kry 'n uitnodiging van hom vir my en Foeta Krige wanneer ons weer 'n sloertoer deur die Noord-Kaap doen. Soos ek, was Miles 'n vriend van die Namibiese joernalis en skrywer Christoffel Coetzee, asook die oudpolitikus Wynand Malan.
Chris het Op soek na generaal Mannetjies Mentz (1998) geskryf en aan 'n gesonde sinisme gely. Hy het my profeties vertel hy beplan om dwarsdeur die Y2K-oomblik om middernag tussen die jare van onse Here 1999 en 2000 te slaap. Hy hét ook, hy is op 17 Julie 1999 in Windhoek dood. Malan het my van tyd tot tyd vertel dat Miles skepties was oor sommige van my politieke opinies, iets wat ek met die groetslag ophaal. As jy nie sy Kroniek uit die Doofpot (1991) en Op soek na generaal Mannetjies Mentz gelees het nie, is jy donners ongeletterd. Maar ons gesels hartlik by Breyten se afskeid.
Agter ’n eland aan
Op Riversdal loop ek en die Namibiese skrywer van Agter 'n eland aan, Piet van Rooyen, mekaar raak oor koffie en 'n pastei. Piet was my dosent in Stellenbosch in die 1980's. Ek beweer teenoor hom die digkuns is besig om weg te sterf, uit te sterf. Digbundels verkoop eintlik nie meer nie, selfs Engelse gedigte het 'n baie klein mark. Digkuns, wat my betref verwant aan filosofie, is ook 'n kunsvorm wat glans by akademiese instellings verloor het.
Piet bevestig my vrese en beweer dat dieselfde vir ander kunsvorme soos die beeldende kunste geld, maar veral ook die visuele kunste. Die heel bekendste skilders en beeldhouers verkoop nog, vertel hy, maar aan die ander kant van faam is die landskap van kennis en belangstelling woes en leeg.
Terwyl Piet sy pastei se inhoud betrag vir besonderhede, lees ek in my geestesoog iets uit Breyten se Om te Vlieg.
kyk hoe braaf is die digter dan
om voort te ploeter in geleende vere
Gaan die herinneringstaal sterf?
Dis 'n cliché-argument, maar dalk is Afrikaans nie bestand teen die aandagafleibaarheid van ons gebroedsels nie. Goeie Afrikaanse skole skop teen die prikkels, maar by tersiêre instellings het Afrikaans die taal van grafskrifte geword, die klasse loop leeg. Die nasate van die Afrikaners verloor belangstelling in hulle taal. Breyten en Gelyke Kanse het uiteindelik bes gegee en Stellenbosch het verengels. Ek is spyt daaroor, soos ek spyt is dat die onlangse saak van Wilgenhof nie meer versoenend beredder is nie. Ek wonder of die herinneringstaal, die fynkuns van die Afrikaanse woord, nie saam met Breyten, Antjie en Daniel Hugo gaan sterf nie.
Mooi loop, Breyten, jy was destyds reg, is steeds reg, en sal in die toekoms ook reg wees.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.