- 07 Maart 2025
- Nuus & Politiek
- 12 min om te lees
- artikel 1 van 23
-
Piet CroucampBydraende redakteur
BUITEN die twee wêreldoorloë in die eerste helfte van die 20ste eeu, kan ek my nie herinner aan 'n openbare politieke verskynsel wat die internasionale opinie so verdeel het as die 45ste en 47ste president van die VSA, Donald J. Trump, nie. Instinktief wil ek dink dat Trump se tweede termyn as die mees destruktiewe en onnadenkende ingryping in die geskiedenis van moderne politiek in die annale beskryf sal word.
Wes-Europa het 'n historiese bondgenoot verloor wat meer as 80 jaar die leiding geneem het in die beskerming van liberaal-demokratiese stelsels. En nou word handelsverhoudings en internasionale ooreenkomste bewapen om die grootste ekonomie in die wêreld teen mededinging te beskerm. Diplomatieke gesprekke in die Withuis het straatgevegte geword. Washington se nuwe vriende is die outokrate, diktators en oorlogsugtiges van die verlede. Internasionale spelreëls het nie net oornag verander nie, die wêreld se meester-patronaat in Washington het 'n god met booswigte vir vriende geword.
Byvoorbeeld, indien Trump in die dae wat kom offensief teen Oekraïne optree deur alle intelligensie aan Zelensky te onttrek, en sanksies teen Rusland afskaf, stel Amerika hom saam met die Russe militêr op teen Wes-Europa, en is die wêreld skielik 'n baie anderse plek.
Die geskarrel onder wêreldleiers, diplomate, akademici en ontleders om sin te maak uit wat in Amerika aangaan, is tragies omdat die gevolge so drasties is. Die openbare konsensus vanuit 'n liberale en Europese perspektief is dat Trump 'n persoonlikheidsversteuring het wat veroorsaak dat hy selfbehep, arrogant en egoïsties sy eie en sy naaste vertrouelinge se belange met 'n deursigtige vernietigingsdrang dien. Die laaste geestesversteurde wat met soveel ywer sy ontsaglike internasionale mag gebruik het, was Adolf Hitler.
Wat 'n demper plaas op die kru veralgemening is dat 54% van Amerikaners vir Donald J. Trump gestem het in 2024, en ten spyte van sy omverwerping van beide binnelandse politiek en die wêreldorde, word sy steun – volgens byna daaglikse meningspeilings – nie beduidend deur hierdie onbestendigheid beïnvloed nie. Dit is asof miljoene Amerikaners dekades lank vir 'n messias gewag het om vir die res van die wêreld 'n middelvinger te kom wys. Daar is 'n werklike kans dat die deursnee-Amerikaner dit eens is met 'n president wat vir Europeërs na 'n ongeletterde, bombastiese narsis lyk en klink.
Hoe verstaan Trump ’n supermoondheid?
Maar dikwels is dinge nie so eenvoudig as wat dit lyk nie, en Donald Trump en sy administrasie is waarskynlik ook nie só eenvoudig nie. Ek het die afgelope week na twee podsendings geluister wat my skynbaar simplistiese begrip van die Trump-administrasie, as destruktief en sonder logika, oneindiglik gekompliseer het. Een was ’n gesprek tussen die podcaster Ezra Klein en Fareed Zakaria, die voormalige redakteur van Newsweek International, redakteur by Time Magazine en rubriekskrywer vir The Washington Post, en dan was daar Sam Harris se gesprek met die Britse historikus Niall Ferguson.
Kom ons begin by Ferguson. Vir hom is die vraag: Hoe moet ons die huidige Amerika se begrip van mag, veral sy eie mag, verstaan? Volgens hom was Amerika se posisie as supermoondheid nooit gesetel binne sy internasionale verhoudings met bondgenote nie, veral nie die Europeërs nie. Die beheptheid van ontleders en die burokrate van die Europese Unie met die gewaande vernietiging – deur die Trump-administrasie – van 'n meer as 80 jaar oue verhouding met Europa is niks anders as 'n soort selfbevredigende mitologie nie. Amerika se begrip van homself as 'n supermoondheid berus op ander faktore, nie verhoudings met bondgenote nie, beweer Ferguson.
Maar voordat ons by sy ontleding van mag en Amerika uitkom, net eers 'n ander punt wat hy ter ondersteuning van sy “strydigheid met die konvensionele wysheid” maak. Moenie nou ophou lees omdat die argument effe tegnies raak nie, ek skinder weer hartlik later.
Die nasionale skuldlas
Ferguson wys daarop dat Amerika se skuldlas 'n kompliserende veranderlike geword het. Daar is taamlik konsensus onder ekonome en beleidsformuleerders in die Withuis dat die VSA se buitensporige nasionale skuldlas 'n strategiese uitdaging vir sy nasionale veiligheid inhou. Sy federale skuldlas (2024) uitgedruk as persentasie van die bruto nasionale produk (BNP) is 98%. Hy bereken dat Amerika in 2024, vir die eerste keer sedert 1934, meer aan rente op die federale skuldlas betaal het as wat aan die militêre begroting bestee is.
Hoekom klink dit vreemd, of as 'n aanduiding van iets belangriks? Ferguson verwys na die Skotse filosoof en historikus Adam Ferguson (nié verwant aan hom) se teorie dat sedert die 16de eeu geen internasionale supermoondheid 'n situasie van rente op skuld groter as die verdedigingsbegroting oorleef het nie. So 'n situasie was vir Adam Ferguson 'n teken dat dié land se internasionale magsmonopolie besig is om tot 'n einde te kom. In die fiskale jaar van onse Here 2024 het die VSA $1,126 triljoen aan rente op nasionale skuld betaal, 'n toename van $251 biljoen op die vorige fiskale jaar. In dieselfde tydperk was die begroting van die Amerikaanse departement van verdediging $849,8 biljoen. En as 'n persentasie van BNP oor die afgelope dekade bereken word, is daar 'n kommerwekkende afname in verdedigingbesteding. In die laat 2000's was dit byna 5% van BNP, in 2024 sowat 3,5%. Trump beoog om dit selfs verder te besnoei.
In 'n artikel in The Wall Street Journal voer Niall Ferguson die argument verder, en wys daarop dat dié statistiek inderdaad van toepassing was op die 16de eeuse Habsburg-Spanje, die 17de-eeuse Republiek der Zeven Verenigde Nederlanden, Frankryk onder Lodewyk XIV (1643–1715), die 19de eeuse Turks-Ottomaanse Ryk, die Oostenryk-Hongaarse Ryk (1867–1918) en ook Brittanje in die 20ste eeu. Ek is doodseker Trump en sy minister van finansies (secretary of the Treasury), Scott Bessent, is totaal onbewus van hierdie akademiese waarneming, maar vir seker is dit nie toevallige statistiek nie. As Adam Ferguson se teorie steek hou in 2025, is die Trump-verskynsel deel van die Amerikaanse hegemonie se laaste stuiptrekkings.
Die groter prentjie
Veranderlikes wat Adam Ferguson se teorie behoort te beïnvloed – en waarna Niall Ferguson nié verwys in sy Wall Street Journal-artikel nie – is dat die Amerikaanse dollar die wêreld se primêre handelseenheid is. Dit is dus moontlik vir die VSA om – as 'n skuldverligtingstrategie – eenvoudig geld te druk, nie op 'n roekelose wyse nie, maar met veranderlikes soos inflasie en rentekoerse in ag genome. Sowat 80% van alle internasionale finansiële transaksies vind in Amerikaanse dollar plaas, wat Washington se invloed en mag 'n sonderlinge reikwydte gee. Die omvang van BNP is dus nie allesbepalend nie.
En die Amerikaanse finansiële markte is die diepste en mees likiede ter wêreld. Die New York Stock Exchange (NYSE) en Nasdaq het 'n gesamentlike markkapitalisasie van meer as $45 triljoen (2024), vergeleke met China se Shanghai- en Shenzhen-beurs, wat sowat $12 triljoen werd is. Ferguson moes dalk meer van hierdie aspekte gemaak het in sy relaas met Sam Harris.
Ferguson argumenteer voorts dat Amerika se ekonomiese en politieke oorheersing ook gedaag word deur 'n meer as waardige teenstander. China se plofbare uitvoerekonomie wat nou stelselmatig in 'n verbruikersekonomie omskakel, haal Amerika baie vinnig in. So onlangs as 2001 was Amerika se waarde toegevoeg deur vervaardiging letterlik dubbel dié van China. Nou, in 2024, is die rolle presies omgeruil: China se syfer is twee maal dié van Amerika. China se ekonomie, op 'n koopkragpariteit-basis (die vergelyking van die werklike koopkrag van geldeenhede, 'n beter maatstaf vir internasionale welvaart en lewenskoste as nominale wisselkoerse) is reeds minstens die afgelope agt jaar groter as dié van Amerika.
Trump: Ons word uitgebuit
So terloops, die gesprek tussen Klein en Zakaria het gefokus op die buitelandse beleid van die tweede Trump-administrasie. Klein begin deur Zakaria te vra om die “Trump-doktrine” te definieer, wat uiteraard haas onmoontlik blyk te wees gegewe Trump se onvoorspelbaarheid. Nietemin identifiseer Zakaria ’n herhalende tema: Trump verwerp fundamenteel die oop internasionale stelsel wat sedert die Tweede Wêreldoorlog bestaan het en wat ontwerp is om stabiliteit, vrye handel en internasionale samewerking te bevorder.
Hy beskou dié stelsel as tot die nadeel van die VSA en glo dat dit Amerika dwing om wêreldwye veiligheid en ekonomiese welvaart te finansier, terwyl ander lande voordeel trek. Die kern van die Trump-doktrine is dus om te heronderhandel oor internasionale ooreenkomste en verhoudings, Amerikaanse belange eerste te stel, en die VSA se waarde- en voorsieningskettings te beskerm of selfs te bevoordeel. America First!
Tegnologie
Amerika se magsbesef en die Trump-doktrine is egter meer gekompliseerd. Vir minstens die afgelope vier dekades definieer Amerika sy magsposisie in terme van tegnologiese superioriteit. Die hart van Amerika se tegnologiebedryf is Silicon Valley in Kalifornië. Dit is die wêreld se voorste sentrum vir tegnologiese innovasie en die tuiste van die wêreld se grootste tegnologiemaatskappye. Apple, Google (Alphabet), Meta (Facebook), Tesla, Intel en Nvidia het almal hul hoofkwartiere in Silicon Valley.
Die VSA is steeds aan die voorpunt van navorsing oor supergeleier-elektronika, veral deur regeringsbefondsde programme soos die Intelligence Advanced Research Projects Activity (IARPA) se Cryogenic Computing Complexity-program, wat in 2014 van stapel gestuur is. Hierdie inisiatiewe het Amerika se leierskap in supergeleier-elektronika – veral sedert 2016 – net verder verwortel.
Trump se ekonomiese adviseurs vertel hom van die toenemende sofistikasie van China se waarde- en voorsieningskettings en die eksponensiële tegnologiese vordering wat China net die afgelope vyf jaar gemaak het. Amerika se monopolistiese beheer van supergeleiers mag 'n remmende effek hê op tegnologiese innovasie in China, maar inhibeer nie die progressie beduidend nie en Duitsland en Japan is besig om baie vinnig in te haal. Hierdie voorsprong is egter voorlopig vir Amerika deel van sy definisie van homself as 'n supermoondheid.
’n Verrassende versagting van verhoudings
Een van die verrassendste aspekte van Trump se tweede termyn is sy veranderende houding teenoor China. Gedurende sy eerste presidentskap het Trump ’n handelsoorlog met China begin en pres. Xi Jinping daarvan beskuldig dat sy land die Amerikaanse ekonomie doelbewus probeer ondermyn. Maar Trump het nie noodwendig sy ekstreme tariefdreigemente teen China uitgevoer nie. Om die waarheid te sê, dit lyk tans of hy eerder ekonomiese ooreenkomste deur 'n soort détente met China probeer sluit. Volgens dié ooreenkomste moet China onderneem om meer Amerikaanse goedere en dienste te koop, wat die handelswanbalans tussen die VSA en China sal aanspreek.
In 2024 het die VSA 'n handelstekort in goedere en dienste van ongeveer $295 biljoen met China gehad – die VSA het $295 miljard meer in goedere van China ingevoer as wat hy na China uitgevoer het. Hoewel hierdie syfer aansienlik is, bly dit steeds laer as die rekordhandelstekort van $418 biljoen in 2018. Vergelyk ook hiermee Amerika se negatiewe handelsbalans van $235,6 biljoen met die EU. Die VSA se totale handelstekort was $918 biljoen, die tweede grootste in die geskiedenis.
Hierdie beleidsverskuiwing jeens China weerspreek Trump se aanvanklike retoriek en dui daarop dat hy nie ’n volstrek vyandige verhouding met China wil hê nie. Zakaria bespiegel dat Trump aangetrokke is tot die idee van ’n persoonlike verhouding met Xi, soos in sy eerste termyn toe hy hom na Mar-a-Lago genooi het. Trump se skynbare ondersteuning van TikTok – ondanks sy vroeëre poging om dit te verban – illustreer hoe sy beleid dikwels verander op grond van persoonlike en politiek-van-die-dag-oorwegings.
Oekraïne en Rusland
Klein en Zakaria bespreek ook Trump se houding teenoor Oekraïne, wat veral die afgelope maand drasties verander of selfs versleg het. Zakaria voer die argument aan dat Trump eenvoudig Oekraïne as onbelangrik vir Amerikaanse belange beskou. Hy is duidelik simpatiek jeens Rusland se territoriale aansprake op Oekraïne en gaan waarskynlik poog om die VSA se beleid te rig op ’n ooreenkoms wat Oekraïne sal dwing om grondgebied prys te gee en neutraliteit te aanvaar. Hierdie houding van die Amerikaanse president stem ooreen met sy behoefte om die VSA se territoriale belange na Kanada, Groenland en selfs Gaza uit te brei.
Trump het 'n byna natuurlike aanklank by outoritêre identiteite soos Rusland se Vladimir Putin, Xi Jinping, Indië se Narendra Modi en Recep Tayyip Erdoğan van Türkiye, terwyl hy Europese demokrasieë met ooglopende minagting bejeën. Hierdie voorkeur is nie net gebaseer op mag nie, maar ook op wat Trump veronderstel die VSA se gemeenskaplike waardes sou wees. Putin, soos Trump, posisioneer homself sonder omhaal téén Westerse liberalisme en veroordeel met ongebreidelde wrewel die erkenning van diversiteit, geslagsregte en die oop samelewing wat tipies van 'n liberale demokrasie is.
Ten slotte
Die VSA se dominansie, selfs in terme van sy eie maatstawwe, kan dus nie meer as vanselfsprekend geag word nie. Indien China byvoorbeeld besluit om Taiwan ekonomies en logisties te isoleer van die internasionale ekonomie, is daar waarskynlik weinig meer wat die VSA kan doen as om met Xi te onderhandel. China is nie net ekonomies magtig nie, maar het ook wat Ferguson as “betekenisvolle militêre kapasiteit” beskryf. Amerika kan eenvoudig nie 'n militêre konflik met China bekostig nie. En beslis nie een wat gelyktydig in die Midde-Ooste, Oos-Europa en die Verre Ooste afspeel nie.
Donald Trump en die meeste redelike en intelligente Amerikaners het 'n volledige besef van die tanende internasionale mag van die Star-Spangled Banner. In hierdie benarde algoritme is Volodymyr Zelensky en Oekraïne 'n politieke laspos, eerder as 'n bondgenoot wat ongeag die koste beskerm moet word. Trump se behoefte om met die Russe en China “deals” te maak, het dus daarmee te doen dat Amerika eenvoudig nie meer die kapasiteit het om dié lande met magspolitiek uit te daag nie.
Trump se politieke bondgenote in Washington toon ook 'n waarneembare vyandigheid teenoor Europese leiers en staan simpatiek teenoor outoritêre figure soos Putin, Viktor Orbán van Hongarye en selfs Xi. Trump se ambivalensie stuur ’n duidelike boodskap aan Wes-Europa dat hulle nie meer op Amerikaanse beskerming kan staatmaak nie. Europese leiers, insluitend Duitsland se kanselier Friedrich Merz, bespreek nou openlik 'n strategiese onafhanklikheid van die VSA – iets wat minder as ’n dekade gelede ondenkbaar was.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.