’n Drolletjie in watte toegedraai in ’n boksie

KRITIEK

’n Drolletjie in watte toegedraai in ’n boksie

JOAN HAMBIDGE was al aan die gee- en ontvangkant van negatiewe kritiek en reken 'n skrywer kan daaruit leer.

I

Kritiek sal daar altyd wees. Elke skrywer het waarskynlik ’n legger van gemene, persoonlike, aanvallende resensies.

Die bekende anekdote van die digter Craig Raine, Britse kritikus oor Saul Bellow se More die of heartbreak, is oorbekend. Bellow was op besoek in Engeland, wou Raine ontmoet en ná sy kritiek waarin Raine sy teks as “winsome” beskryf het, ontvang hy ’n brief wat die afspraak kanselleer: “You win some; you lose some!”

Daar is die beroemde brief van Hettie Smit van Sy kom met die sekelmaan-faam wat Frans Malherbe uitskel sonder om een keer ’n vloekwoord te gebruik. ’n Kragtoer in sluimerende woede. In 1940.

Onse André P. Brink kon ’n digter in een verwoestende paragraaf uithaal.

Sandra Prinsloo wat vertel hoe Barry Ronge (saliger) ’n toneelstuk geresenseer het sonder om een keer na haar te verwys. ’n Aktrise wat tydens ’n solo-produksie van ’n ander gesiene aktrise opstaan en die deur hard toeklap.

Diana Rigg se versamelbundel van negatiewe kritiek is hartverwarmend. Snaaks en heerlik. Humor is maar altoos die beste wapen. Dit heet: No Turn Unstoned: The Worst Ever Theatrical Reviews (Elm Tree Books, 1982).

Elke resensent het al ’n e-pos ontvang van ’n skrywer wat ongelukkig is. Gevul met beledigings en persoonlike aanvalle. Wat meer verraai van die sender as die ontvanger. Altyd beter om nie te reageer nie, want dit kan voete kry op Facebook en op die e-pos-sisteem.

As jy nie kritiek of ’n negatiewe resensie kan hanteer nie, is jy helaas in die verkeerde bedryf.

Selfs die mees onsinnige, belaglike tersyde kan altyd vir die skrywer van nut wees. Help om beter te skryf.

In my resensie van Jan Rabie se Johanna se storie het die sub dit (per ongeluk?) verkort. Net die negatiewe laaste sin is behou, wat alles skeefgetrek het. Life is a bidge.

Wyle W.E.G. Louw, digter, professor en op sy dag kunskritikus by Die Burger, het met ’n heerlike lag vertel hoe hy eenkeer ’n anonieme boksie ontvang het. Binne-in ’n drolletjie toegedraai in watte. En ’n rooi strikkie om die boksie.

’n Literator saliger was woedend oor Brink se ’n Vurk in die pad en toe word dit in sy repliek ’n Vark in die pad.

In ’n resensie oor ’n Ernst van Heerden-bundel het digters per ongeluk dogters geword en die professor was woedend. Sy student Lucas Malan se ’n Bark vir die ontheemdes het ’n Vark vir die ontheemdes geword.

Was die subs onskuldig?

II

Diana Rigg het die versamelbundel met kritiek saamgestel ná ’n persoonlike aanval op haar oor ’n produksie waarvan die resensent nie gehou het nie. Hy het dit gehad oor haar, wel, groot voorkoms.

Sy was eers kwaad en toe het sy gelag.

In die 1982-film Evil Under the Sun speel Rigg teenoor Maggie Smith.

Smith is die hotelbestuurder, ene Daphne Castle. Rigg is Arlena Stuart Marshall (wat in die film vermoor word).

Maar wanneer die twee ou girls mekaar weer sien, sien jy hoe hulle kamp humor inspan. Arlena, nou skatryk, stel haar eggenoot voor aan Daphne. (Hulle was voormalige danseresse.)

“She could always kick higher!” en dit word getroef deur Daphne, die briljante Maggie, met ’n one-liner: “And she could kick wider…”

En die heerlike Cole Porter-musiek met Peter Ustinov as Hercule Poirot is ’n geeltrui vir ’n wenner.

III 

Skoonheid vergaan, maar deug bly staan. Inderdaad. Resensente en kritici verdwyn. En dis die werk wat ewigheidswaarde het. Om met ander te kompeteer is ’n futiele daad. Kompeteer eerder met jouself en maak elke boek beter en vergeet van pryse, die simboliese plengoffers. Dit word uitgedeel deur mense, nie gode nie.

’n Jong J.M. Coetzee se eerste werk is deur ’n kollega verminder.

En kyk nou.

By ’n bekendstelling van ’n boek van my sit ek op ’n verhoog. ’n Ander skrywer sit in die gehoor en besef nie ek kan die negatiewe reaksie op die gesprek tussen my en Coenie de Villiers oor Stasies sien nie. Ag, op watter stasie het ek het ek jou verloor, my ding?

Ek lees elke jaar weer Sy kom met die sekelmaan, ’n fantastiese belydenisroman. Die hoofkarakter, die enigmatiese Sonja Verbeek in Swart koring is eweneens bekoor deur Maria/Marié.

Hierdie skrywer is (as we speak and read) besig met ’n vervolg op Swart koring.

Omdraai op Kromnaai.

Asseblief: ek kan nog nie meer verklap nie. Juffrou Verbeek is beseer deur ’n resensie van Blikbroek Du Toit-Human wat haar jongste roman afgemaak het as studentikoos en ou doos.

Dus: Hef aan!

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.