LESERSBRIEF | Regering maak duidelik ekonomie sal staatsgedrewe wees

OU LAAI

LESERSBRIEF | Regering maak duidelik ekonomie sal staatsgedrewe wees

Die president brou heerlik aan sy heksebrousel van beheer oor die ekonomie

  • 05 Julie 2019
  • Daagliks
  • 4 min om te lees
Image: 123RF/ULRICH MUELLER

KORT op die hakke van die bekendmaking van Suid-Afika se nuutste (katastrofiese) ekonomiese inkrimpingstatistiek – naamlik die negatiewe ekonomiese groeikoers van 3,2% in die eerste kwartaal van 2019 – roep ons president die leiers van ons staatsondernemings bymekaar om hulle volgens Business Day onder andere te verseker van “... the critical role of the state companies in meeting social needs and driving economic growth. (The president) also reaffirmed the government’s will to strengthen these entities and ensure their sustainability."

Daarna volg die president se skokkende aankondiging tydens sy staatsrede dat nóg meer geld in die bodemlose put van die skuldbelaaide en onvolhoubare Eskom gestort gaan word. Die minister van finansies sal volgens die president op die een of ander wyse sorg dat addisionele geld beskikbaar gemaak word, hoewel die detail van die finansiering deur 'n bankrot staatskas nog bekend gemaak moet word.

Geld vir Denel

Ons minister van staatsondernemings, Pravin Gordhan, volg toe kort daarna sy president se voorbeeld en kondig aan dat geld wel gevind sal word om die volle salarisse van die bankrot Denel se personeel ook te betaal, al het Denel aangekondig dat dit net 75% van die personeel se salarisse sal kan bekostig.

'n Duidelike prentjie begin te vorm, wat in die parlement bevestig is deur die president tydens sy repliek op die staatsrede: Suid-Afrika se ekonomie sal staatsaangedrewe wees. Hy stel dit dat diensverskaffing in die privaatsektor nie meer effektief is as staats-diensverskaffing nie. Daar sal volgens hom ook geen privatisering van staatsondernemings wees nie.

Nou ja, daar het ons dit uit die spreekwoordelike perd se bek: Ons president brou heerlik aan sy heksebrousel van staatsbeheer en intervensie in die ekonomie.

Waar gaan die geld vandaan kom?

Dit laat natuurlik die vraag ontstaan waar die geld vandaan gaan kom om die veelheid van bankrot staatsondernemings van ondergang te red en te transformeer tot “super-effektiewe diensverskaffers" wat privaatsektor-instansies na sukkelende en oneffektiewe burokratiese welvaartvernietigers sal laat lyk?

Ongelukkig kry ons toe weer 'n blik op wat ons president uit sy heksebrousel wil optoor om die geld te laat inrol om staatsondernemings se magdom skuldlaste te besweer en hulle te transformeer tot koste-effektiewe leweransiers van alle dienste wat die publiek nodig het om menswaardig te kan lewe: voorgeskrewe beleggings.

Ja, mede Vrye Weekblad-lesers, die waarskynlikheid word by die dag groter dat ons regering weer soos in die apartheidsdae die bevolking en die privaatsektor deur wetgewing gaan dwing om 'n sekere persentasie van hul pensioen-, spaar- en beleggingsgeld aan die regering toe te vertrou om te verseker dat ons staatsondernemings nie 'n gebrek aan befondsing sal ervaar nie.

Pensioenarisse word armer 

Vir die jonger geslag of vir diegene met 'n kort geheue, laat ons kortliks voorraad opneem van wat die gevolge van voorgeskrewe beleggings deur middel van wetgewing in die apartheidsjare was. Die ergste gevolg was dat pensioen- en beleggingsfondse se opbrengste begin daal het. Die voornemende pensioenarisse en beleggers het dus geleidelik armer geword.

Die rede is nie moeilik om te verstaan nie, maar was blykbaar tog irrelevant vir 'n apartheidsregering wat alles en almal wou beheer. En blykbaar is dit ook irrelevant vir ons demokratiese regering wat toenemend die ekonomie deur middel van die staat wil domineer.

Hier is die rede: Beleggings in die privaatsektor is eenvoudig meer winsgewend as beleggings in staatspogings om die winsgedrewe en risikodraende privaatsektor-inisiatiewe te probeer nadoen, ten spyte van wat ons president blykbaar glo die geval is. En ten spyte van ooglopende bewyse daarvan soos vergestalt in mislukking na mislukking van ons staatsondernemings.

Privaatondernemings het eenvoudig nie 'n bron van staatsgeld (lees belastingbetalersgeld) om hulself kunsmatig mee aan die lewe te hou nie. Óf 'n privaatonderneming dek sy kostes en maak wins vir uitbreiding en verdere beleggings, óf dit gaan onder.

Big Daddy is altyd daar

Daarenteen is daar geen aansporing vir 'n staatsonderneming om op eie stoom te oorleef nie: "Big Daddy" (die staat) is altyd daar om op te maak vir 'n gebrek aan koste-effektiewe dienslewering.

Hou dus die debat oor voorgeskrewe beleggings wat deur wetgewing afgedwing kan word, noukeurig dop. Persoonlik glo ek, geskoei op die tendense wat ek hierbo uitgelig het, dat dit net 'n "debat" in die vorm van oëverblindery is of gaan wees. Ons president en sy party-kamerade het klaar besluit hoe hulle staatsoorheersing wil finansier as deel van die heksebrousel van toenemende staatsintervensie wat die ou apartheidsregering se inmenging na 'n Sondagskoolpartytjie kan laat lyk. - Piet du Plessis


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.