Miskien is Cyril toe nie ons mini-Moses nie

MAANDAG MET MAX

Miskien is Cyril toe nie ons mini-Moses nie

Daaglikse bulletin: 26 AUGUSTUS 2019

  • 26 Augustus 2019
  • Daagliks
  • 4 min om te lees

SA se wa is nog in die woestyn

Het die gety vir Cyril Ramaphosa gedraai? Het hy sy kanse verspeel en daarmee self soveel skade aangerig dat hy nie ons nasionale wa deur die drif sal kan trek nie?

Ek ken vir Ramaphosa al van 1983 af, toe ek 'n jong verslaggewer by die Financial Mail en hy 'n vakbondleier was. My respek vir sy talente en integriteit het oor al die jare heen staande gebly, en toe hy verlede jaar by Zuma oorneem, was ek daarvan oortuig dat hy ons mini-Moses sou kon wees om ons uit die woestyn van Zuma en staatskaping te lei.

Ek begin vir die eerste keer daaraan twyfel. Dis nou 18 maande sedert hy president geword het, en Suid-Afrika is nog in die woestyn en die pad uit is nie in sig nie. Dalk, net dalk, het Cyril se befaamde “long game” toe nie gewerk nie.

Ek het lesers in dié tyd gedurig daaraan herinner dat Ramaphosa veel bereik het: wat betref die skoonmaak van die staatsondernemings, die nasionale inkomstediens, die nasionale vervolgingsgesag en die kabinet self.

Maar hy – en waarnemers soos ek – het die skade van die Zuma-tsoenami, en die potensiaal van sy dampkring om die skoonmaakproses teë te gaan, hopeloos onderskat. En dalk het Cyril die innerlike staal en drif waarmee hy Cosatu help skep het, die mynbase in die laat-1980’s gekonfronteer, en FW de Klerk en Roelf Meyer uitoorlê het, verloor in die jare wat hy 'n sakeman was.

Dalk is Ismail Lagardien korrek wanneer hy in sy ontleding in die laaste uitgawe van Vrye Weekblad sê: “Dit is 'n groot stelling om te maak, maar dalk is Ramaphosa te lig in die broek om president te wees – ten minste op dié spesifieke punt van die demokratiese era. Dalk is hy uit sy diepte. Dalk is die één prys wat hom meer as 20 jaar ontwyk het, 'n taak waarvoor hy nie uitgeknip is nie.” 

>> LEES DIT HIER: Het presidentskap vir Cyril geknak?

'n Hele klomp “dalks”, want Ramaphosa het sekerlik nog die kans om sy staal te wys. Maar die nasionale sentiment is besig om teen hom te draai. Die gemors rondom sy verkiesingsfonds, en die feit dat hy nie oop kaarte speel en dié situasie ontlont nie, help hom ook nie juis nie.

Ek kyk die naweek hoe gemaklik Ramaphosa by die byeenkoms van die G7 in Biarritz tussen die wêreld se topleiers beweeg, en ek wonder hoe dit werk dat hy hom in Suid-Afrika self nie sterker kan laat geld nie. Het hy bloot nie die maag om in die getjommel van die binnepolitiek van die ANC sy man te staan nie?

Ek wil in Vrydag se uitgawe dié tema dalk verder ontwikkel en met van Ramaphosa se vriende en vyande gesels.

Planeet hyg na asem

Ek sien uit na my ou vriend Jan Horn se stuk, bestem vir die volgende uitgawe, oor wat die brande in die reënwoude van die Amasone werklik vir die planeet beteken en wat daaragter sit. Die lugfoto’s van die vernietiging van ons planeet se “longe” het my erg swaarmoedig gestem.

Gepraat van Jan: soms publiseer Vrye Weekblad briljante artikels wat nie genoeg gelees en gewaardeer word nie. Jan se stuk, met verskeie skakels na video’s, oor die mites en mistiek van die musiek van ons land is 'n absolute juweel. As jy dit nog nie gelees het nie, doen dit nou.

Glimlag ’n bietjie

As jy vandag of môre 'n paar minute vry het, lees gerus ook Deborah Steinmair se heerlike stuk oor haar ervarings in Hartenbos, en Viv Vermaak se loslit-storie oor Zoeloe en jiu-jitsu.

>> LEES DIT HIER ... Om binneboud lepel te lê met die boere

>> ... EN HIER: Ek het gedink ek leer Zoeloe, toe leer Zulu mý

Ek is baie trots daarop dat die herleefde Vrye Weekblad 'n nis in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse medialandskap gevind het waar ons skryfwerk van 'n hoë gehalte pleeg en insigte bring wat nie elders beskikbaar is nie.

Dalk is dit tyd dat jy wat hier lees, 'n paar minute moet opsy sit om in te teken? 'n Uitgawe van Vrye Weekblad kos soveel soos 'n koppie koffie: R25 (dis nou Kaapstad se koffiewinkelpryse). Ek het laas week vir die eerste keer in 'n lang tyd die Mail & Guardian gekoop – vir R45!

Kom, word deel van ons Vrye Weekblad-familie.

Gegroet tot Vrydag

Max

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.