Volg jou neus in Marokko

NAWEEK

Volg jou neus in Marokko

ANESCA SMITH geniet vir oulaas die laatsomer in Marokko, en ons kies drie moetleesstories uit die jongste uitgawe.

  • 08 Oktober 2022
  • Daagliks
  • 3 min om te lees
  • anesca smith

Goeiemôre uit Marokko

Onderweg van die lughawe na Casablanca merk jy dit al: Dis so droog dat selfs die kaktusse slap hang. In die sjiek buurte van die stad – die finansiële hart van Marokko – tuimel die bougainvillea se blomme in asvaal pienk oor die villas se ringmure. Brandmaer koeie snuffel op die vullisbestrooide klipgrond na iets om te eet.

Ons is in Marokko om vir oulaas nog van die laatsomer te geniet, want in Nederland het die eerste herfsbuie reeds begin val. Maar in Marokko smag die mense na reën.

Die land is in die greep van die ergste droogte in vier dekades. Dit is die vierde agtereenvolgende jaar met ’n lae reënvalsyfer. Die droogte, gekombineer met inflasie terwyl die land nog sukkel om lug te skep ná corona, het die ekonomie harde klappe toegedien.

Gelukkig kom die busse vol toeriste nou weer aangedruppel. Ek vra ons Nederlandse reisgids, wat al 10 jaar besoekers hier begelei, wat is die grootste verandering wat sy die afgelope dekade in die land gesien het.

“Hoe die kwaliteit van die toerismesektor die afgelope drie jaar weens corona na benede getuimel het. Hotelle en restaurante moes sluit. Sommige plaaslike gidse moes hulle noodgedwonge tot bedelary wend. Dit was wel hartverskeurend om mee te maak,” sê sy oor die onbyttafel in ons hotel waar die ete-aanbod maar karig is hoewel die kelners gaste nog met groot swier soos uit ’n Wes Anderson-film bedien.

Ná ’n warrelwindtoer deur die asemrowende koningstede Rabat en Meknes kom ons in Fes aan.

Die medina in hierdie stad het na berig word meer as 9 000 straatjies – meestal stegies waarvan jy die mure aan albei kante kan aanraak as jy met uitgestrekte arms staan.

Die gids, ’n ratse man in sy 50’s, waarsku ons 1 000 keer om nie agter te raak met die groep nie, want dit sal moeilik raak om iemand wat velore raak hier te vind. Hy lei ons verby sakke speserye, berge ment en mure vol pragtige tapyte.

Dit lyk asof daar meer katte as mense is in die medina en, anders as die droogtegeteisterde koeie en vee, lyk dit nie asof hulle honger ly nie. Ebrahim sê die katte help om die stad skoon en vry van rotte te hou.

Ek kry die gevoel dat jy hier jou neus moet volg. Hierdie kant op word etes berei, daardie kant lê die stinkende leerlooiery. Ek is verlig toe ek skielik om ’n hoek gaan en ’n vars bries my begroet. Ja, hierdie kant op is die uitgang van die medina.


Leeslys

Hiermee vier van my gunstelingstories uit hierdie week se uitgawe. Klik op die onderstreepte skakel om te lees. En onthou, as jy nog nie het nie, sal jy gevra word om opnuut te registreer. Dit gratis en vinnig!

En jy kry daarmee gratis toegang tot Vrye Weekblad 3.0 tot die einde van die jaar!

Op soek na nóg ’n nuwe Suid-Afrikaanse identiteit

In 1989 het Vrye Weekblad stories gebreek wat die gang van die geskiedenis help verander het. Maar, sê Ali van Wyk, sy verhouding met die publikasie het nog altyd meer oor identiteit gegaan.

Boeke | Die rykste man in Babylonstoren, soete weerwraak, en gekaapte kinderjare

Deborah Steinmair, ons nuwe boekeredakteur, skryf dié week oor Koos Bekker en sy goue appeltjies, ’n afgeknoude vrou met weerwraak op haar agenda, asook ’n dogter en suster wat verdwyn en ná 12 jaar weer verskyn.

Marmite op toast – dis die Milnerton-vlooimark

Henk Serfontein verdwaal in die parallelle werklikheid van ’n kattebakmark op ’n Sondag. Dit word bevolk deur mense met tronktatoes, vroue wat verlep soos muurblomme, vreemderige oempamusiek en herinneringe wat van diep uit jou jongdae opwel. Maar dis lekker ook.

Aangaande Athol, Paula en Babyboy Kleintjies

Suid-Afrika se grootste dramaturg groet die teater met Concerning the Life of Babyboy Kleintjies volgende week by die Woordfees in Stellenbosch. Saam met sy vrou, Paula Fourie, het hy die toneelstuk geskryf wat hy 60 jaar gelede belowe het hy sou. Elna van der Merwe het met hulle gesels.

Lekker lees.

Groete
Anesca