Sondag op Black Rock

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Sondag op Black Rock

ANNELIESE BURGESS groet van ’n misterieuse kolletjie aan die Wildekus met kano-beddens, deel ’n gedig wat hierdie week tot haar spreek, en nog ’n paar ander dit-en-dat-aanbevelings.

  • 29 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 3 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre!

Ek groet vanoggend vanuit ’n ou strandhuis op ’n groen heuwel met ’n uitsig oor ’n klipperige baai. Ek is mal oor Black Rock, die naam van dié kolletjie aan die Wildekus. Dit laat my altyd dink aan die titel van die Australiese roman Picnic at Hanging Rock, wat gaan oor ’n groep meisies wat tydens ’n Valentynspiekniek spoorloos verdwyn. ’n Atmosferiese film is ook later oor die boek gemaak (ek deel onder een van die verleidelike stukke musiek wat in die klankbaan gebruik is).

Black Rock het vir my ook so ’n misterieuse gevoel. Om hier te kom moet jy af met ’n kronkelende grondpad en deur plaashekke waarvoor die sleutels onder klippe gebêre word. Daar is geen selfoonontvangs nie (ek moes die bult agter die huis uitklim om my nuusbrief te file).

Om by die strand te kom, stap jy deur ’n donker melkhoutbos met die son wat in skerwe deur die takke val. Daar’s ’n skuimende swempoel tussen die swart klippe waarna die plek genoem is en ’n rivieroewer wat ruig staan van die Euphorbia-bome. En as jy die voetpaadjie al langs die kurwes van die berg volg, kom jy by ’n baai waar ’n Portugese skip, die Santo Espiritu, in 1608 vergaan het. Die skip het ’n vrag kornalynkrale en Mingporselein aan boord gehad, en as jy gelukkig is, en lank genoeg krap, kan jy nog ’n kraal of ’n skerfie porselein tussen die skulpe vind.

Een van die lekkerste dinge van woon waar ek woon (daar is ook baie onlekker dinge in die uitmekaarvallende stad) is die maklike toegang tot die ongerepte kuslyn. Die plek wat ek en ’n vriend die naweek huur, is ’n ou familiehuis, een van daardie met ’n strooidak, aangelapte kamers, ’n diep stoep en beddens met matrasse wat jou soos ’n kano toevou (die uitsig waarmee ons vanoggend wakker geword het, maak op vir die effense rugpyn).

Dit was sover ’n naweek van vroeg swem en vroeg gaan slaap. En lang ente se stil stap. Ons het dirty martini’s gemaak en vure gestook. En ek het ’n hoofstuk geskryf vir die boek wat waarskynlik nooit die lig gaan sien nie (ek het met ’n sagteware-opdatering einde verlede jaar byna die helfte van my manuskrip verloor, maar ek voel nou die meeste van daardie woorde het verdien om te sneuwel).

En nou het ons het nog ’n hele dag! Die plan vir ’n perfekte Sondag is soos volg: Swem ’n bietjie. Lees ’n bietjie. Gesels baie. Eet oorskietbraaivleis. Skryf ’n bietjie. Maak ’n vuur. Braai ’n hoender (die krag is weer af en as dit eers gebeur, dan kan jy lank wag). Drink iets. Miskien is vanaand se sundowner iets anders as gister s’n. Gooi nog hout op die vuur. Wag vir die son om te sterf. En die donker se lang vingers. Drink wyn. Tot die maan soos ’n silwer deksel bo die see kom staan.

En voor ek groet: Wikkel met julle besprekings vir ons Stilbaai-boekefees. Kliek hier om op die Quicket-besprekingsblad uit te kom. Ek sien uit om julle daar te ontmoet.

Salige Sondag.

AB

Laat weet bietjie wat julle vandag doen!
annelieseburgess@vryeweekblad.com


Hoe om VWB 3.0 heeltemal gratis te lees! 

Vrye Weekblad is voorlopig nog gratis. Al wat jy hoef te doen om dit te kan lees, is om 'n lesersprofiel met jou e-pos te skep. Gaan na vryeweekblad.com. As jy enigsins sukkel, stuur vir my 'n boodskap by hulp@vryeweekblad.com en ek help graag.


My words to you

My words to you are the stitches in a scarf
I don’t want to finish
maybe it will come to be a blanket
to hold you here

love not gone anywhere

Jean Valentine 

(Uit: Shirt in Heaven, 2015)


Lystikel

Sommer 'n klein wat-is-in-en-wat-is-uit-lysie op Instagram van een van my gunsteling-kosskrywers, David Lebovitz.

Lees

Why do we remember what we remember?

Are our brains wired to quiet quit?

Kyk

Na hierdie foto's in Architectural Digest van wat hulle die 53 “mooiste strate in die wêreld” noem. 

Luister

Die temamusiek vir Picnic at Hanging Rock:



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.