Te arm vir die EFF, en ’n geskenk anderkant woorde

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Te arm vir die EFF, en ’n geskenk anderkant woorde

DEBORAH STEINMAIR vind ’n alternatief vir geykte medelye, WILLEM KEMPEN hou van ’n plan wat hopelik meer atletiekmedaljes vir Suid-Afrika beteken, en soos gewoonlik is daar sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 29 Augustus 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

1. Min of meer al die partye wat verteenwoordiging in die Johannesburgse metroraad het, stry nou van voor af oor 'n moontlike mosie van wantroue in die huidige burgemeester, Kabelo Gwamanda van Al Jama-ah. 'n Mosie hieroor deur ActionSA sou Donderdag op die agenda gewees het, maar is gister teruggetrek, onder meer omdat die DA 'n alternatiewe mosie verkies waarin gevra word vir nuwe verkiesings in die stad.

2. 'n Boete van R20 000 of twee jaar tronkstraf is gister in die streekhof in Bloemfontein opgelê aan die 49-jarige Kobus Klaassen nadat hy ingevolge 'n pleitooreenkoms skuld erken het aan poging tot moord ná 'n voorval by die Maselspoort-vakansieoord op Kersdag verlede jaar toe 'n 18-jarige meisie onder die water in 'n swembad gedompel is. Die voorval is op video vasgelê en wyd op Twitter versprei. 'n Verdere vonnis van vyf jaar tronkstraf is in geheel opgeskort. Klaassen is ook gevonnis tot drie jaar korrektiewe toesig weens die aanranding van 'n 13-jarige seun wat hy tydens dieselfde voorval aan die nek gegryp het.

3. Sindisiwe Chikunga, nasionale minister van vervoer, het die spoorlyn tussen Leralla en Germiston aan die Oos-Rand amptelik geopen nadat dit sedert Julie weer in gebruik is. Dis deel van 'n Prasa-projek ter waarde van meer as R2 biljoen om Gauteng se spoor-infrastruktuur te herstel of op te knap. Die treine op dié lyn stop ná Leralla ook by die Limindlela-, Tembisa-, Kempton Park-, Rhodesfield- en Germiston-stasies en vervoer daagliks sowat 10 000 mense.

4. Die afgedankte EFF-LP Vusi Khoza, een van die meer as 200 van die party se openbare verteenwoordigers wat hulle werk verloor het omdat hulle glo nie in Julie genoeg busse vol ondersteuners na die EFF se 10de verjaardagvieringe kon aanry nie, het aan News24 gesê hy is sy pos kwyt omdat hy uit ’n arm kiesafdeling in eThekwini kom wat nie kon bekostig om busse na die partytjie te reël nie.

5. 'n Ondersoek deur amaBhungane het gevalle gevind waar die Gautengse departement van gesondheid tussen R7 en R8 aan tussengangers betaal het vir plastiekhouers wat gebruik word om bevrore kos vir pasiënte in sekere hospitale en klinieke te verpak, maar dat een van die goedgekeurde vervaardigers dieselfde houers vir R2,03 per eenheid verkoop.

6. Ángeles Béjar, die ma van die Spaanse sokkerbaas Luis Rubiales, wat die naweek uit sy amp geskors is nadat hy Jenni Hermoso, 'n lid van die land se seëvierende vrouespan, op die lippe gesoen het tydens die Wêreldbeker-prysoorhandiging vroeër vandeesmaand, het haarself in 'n kerk toegesluit en met 'n hongerstaking begin uit protes teen die behandeling wat haar seun gekry het.  Hermoso sê sy wou nie gesoen word nie en dat dit ongevraagd en onvanpas was.

7. Nestlé gaan produksie van sy eens gewilde pienk en bruin “Hasiemelk" staak, het die maatskappy aan eNCA gesê. Dié aanmaak-melkdrankie het glo die laaste tyd 'n aanhoudende daling in verkope beleef.


Hittegolftoestande word in dele van die Noord-en Oos-Kaap verwag en daar is 'n waarskuwing oor 'n hoë brandgevaar in dele van die Kaapprovinsies. KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo is vandag deels bewolk, met ligte reën wat in die laasgenoemde verwag kan word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 23°C • Johannesburg 22°C • Mahikeng 24°C • Mbombela 19°C • Kaapstad 31°C • Durban 24°C • Kimberley 25°C • Bloemfontein 24°C • Polokwane 19°C • Upington 27°C • Gqeberha 29°C • Oos-Londen 27°C.


Willem Kempen | Die verskil tussen nul en baie medaljes kan bitter klein wees

Dis nie lekker om vergeefs na Suid-Afrika te soek op die lys van lande wat medaljes by die afgelope Wêreldatletiekkampioenskap in Boedapest gewen het nie, maar dit was so hittete of dinge het heel anders gelyk.

Die wêreldklas-naelloper Akani Simbine was betrokke by twee van die grootste teleurstellings, eers toe hy weens 'n vroeë wegspring in die 100m-halfeindstryd gediskwalifiseer is, en toe weer toe hy as lid van die 100m-aflosspan moes toekyk hoe twee van sy spanmaats die oorgee verbrou en daarmee saam die goue medalje in die VSA se hande laat val.

Akani Simbine van Suid-Afrika in aksie in die 4 x 100 m-aflos vir mans in die Wêreldatletiekkampioenskap op 25 Augustus 2023 in Boedapest, Hongarye.
Akani Simbine van Suid-Afrika in aksie in die 4 x 100 m-aflos vir mans in die Wêreldatletiekkampioenskap op 25 Augustus 2023 in Boedapest, Hongarye.
Image: GALLO IMAGES/ANTON GEYSER

Die noodlot het die 400m-wêreldrekordhouer Wayde van Niekerk 'n ewe groot streep getrek. Ná ses jaar van 'n knaende kniebesering en die ontwrigting van Covid het hy uiteindelik weer gelyk na 'n medaljewenner, maar dinge het toe nie so uitgedraai nie.

Ten minste kan Van Niekerk “voormalige wêreldkampioen" agter sy naam skryf, maar die tyd het Simbine waarskynlik nou ingehaal. Hy was al Afrikarekordhouer en gouemedaljewenner by 'n rits kleiner byeenkomste, en kon al groot name soos Yohan Blake, Justin Gatlin en Fred Kerley klop, maar die werklike groot titels bly ontwyk hom.

Oor die aflos-fiasko wys Simbini die vinger na Atletiek Suid-Afrika (ASA) en dat die vier lede van die span net drie keer saam kon oefen nadat hulle in Hongarye aangekom het:

Wayde van Niekerk kon nie 'n oorwinning behaal nie.
Wayde van Niekerk kon nie 'n oorwinning behaal nie.

“I’m a person who always keeps quiet, but now it’s gotten to a point where South Africa needs to know that the federation does not help us and does not bring us together [as a team].

“We are expected to run, and we’re expected to be at our best, but we don’t have training camps together as a relay team, and [ASA] have to figure that out.”

Die goeie nuus is dat ASA pas aangekondig het dat 'n nasionale o.23-kategorie heringestel gaan word, wat hopelik die ou probleem gaan help oplos van talentvolle jongelinge wat ná skool verlore raak wanneer hulle skielik teen senior atlete moet deelneem. Dis die soort plan wat – met 'n bietjie geluk daarby – dalk net kan beteken dat Suid-Afrika iewers in die toekoms weer nader is aan Kenia se vyfde plek op die medaljelys in Boedapest, en Ethiopië se sesde plek.


Image: ANGELA TUCK

Daar’s altyd iemand wat swaarder kry as ek

Geen ruimte, nie eens virtueel, is groot genoeg vir alles wat ek oor boeke wil sê nie. Daarom loop dit oor in die nuusbrief, want boeke is my nuus.

Partykeer kry iemand ’n blink ingewing en jy dink: Hoekom het ék nie daaraan gedink nie? Dis gewoonlik so voor die hand liggend.

Frieda van den Heever het ’n digbundel saamgestel, Die lewe is ’n asem lank: Gedigte oor verlies en vertroosting. Dis die ideale geskenk vir iemand wie se geliefde dood is (soos Frieda s’n).

Wanneer ’n mens radeloos krabbel en gryp na woorde om te troos, gaan leen by die groot digters, want wie kan die absurde tragiek van die lewe beter verwoord as byvoorbeeld Breyten? Ek haal graag T.T. Cloete aan: “Dis iets wit en stil en allerliefliks wat weg is. Die liefde bedek niks.”

Image: ANGELA TUCK

Wie kan vergeet, in die rolprent Four Weddings and a Funeral, waar ’n naasbestaande by 'n begrafnis W.H. Auden se gedig “Stop all the clocks, turn off the telephone” voorlees. Johann de Lange het dit in Afrikaans vertaal:

Hy was my Noord, my Suid, my Wes en Oos,
my werksweek en my Sondagstroos,
my middag, my middernag, my gesels, my lied;
ek dag die liefde duur vir ewig: dit het nié.

Ek gaan my eksemplaar nie geskenk gee nie, maar hou; want daar is altyd iemand wat swaarder kry as ek. Dan stuur ek ’n gedig. Wanneer iemand se kind doodgaan, eerder as om geyk en irriterend op te merk dat God sy mooiste blom kom pluk het, dat dit Sy wil was, want sy was te goed vir hierdie aarde, haal ek Charles Fryer aan, uit “Begrafnis van ’n kind”:

O buikvol aarde, rus sag op haar;
haar voete het jou skaars geráák;
Koester haar in die omhelsende donker –
sy’t altyd maar vroeg gaan slaap.

Ook ingesluit is Fanie Olivier se roerende gedig wat só eindig: “beauty douglas was born/ she died”.

Daar is soveel bekende eggo’s, soos Breyten Breytenbach wat sal sterf en na sy vader gaan, Wellington toe met lang bene, Jeanne Goosen wat die Here vra om Sy genade en ook Sy soort apartheid aan haar pa, Bibberende Piet, by Sy poorte duidelik te maak. Antjie Krog wat vir haar ma sê: “ons laat jou gaan liewe Ma / ons kameraad/ op die psalms van ons ontoereikende liefde.” Ná haar ma se dood, vertel Ronelda S. Kamfer: “eerste het die hekke afgeval / en die gras het doodgegaan / die plante het ophou groei / die vensterbanke het wit geword.” Petra Müller spreek haar oorlede man aan: “Ek gaan ’n onderhandeling met my gedagtes aan en sê: / só, só, wees nou gerus – die gras, die duiwe en die kerke weet van jou.” Gisela Ullyat (self ook al verreis) skryf vir ’n vroeggebore kind: “op die agste dag / besluit jy oplaas hierdie wêreld / was nooit jou woning nie.”

Die bundel bestaan uit 100 gedigte. Van den Heever, ’n geïnspireerde vertolker van digkuns, se insig en instink is trefseker: Dis besonderse gedigte wat in enige bloemlesing kon staanplek kry. Die tema van verlies was verreweg nie die enigste kwalifikasie vir insluiting nie.

Dis ’n verruklike versameling wat ook by nabaat troos oor almal wat my lank reeds ontval het. Dis hardeband, met ’n plekhouerlintjie. ’n Lieflike geskenk anderkant woorde.


Dis wat die dood doen

die dood vou jou op en pak jou weg
die dood sny jou oop
en maak jou in warm olie gaar
die dood breek jou op en gooi jou weg
die dood maak 'n gat en spit jou toe
die dood is die ding wat wegraak
die ding wat jy van vergeet het
en skielik onthou

– Ronelda S. Kamfer
(Uit: Hammie)

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.