Brandstof duurder en eiers minder (en Cele moet askies sê)

WOENSDAG MET WILLEM

Brandstof duurder en eiers minder (en Cele moet askies sê)

WILLEM KEMPEN dink die ‘vrede’ tussen SA en die VSA laat baie vrae onbeantwoord. Hy vind ook 'n manier om Barbara Cartland by 'n skouspel in die lugruim te betrek, en daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 04 Oktober 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre


1. Die prys van alle grade brandstof is van vandag af minstens R1 per liter duurder, het die departement van minerale bronne en energie aangekondig. Die prys van 95 oktaan petrol sonder bygevoegde lood styg met R1,14 per liter, en 93 oktaan met R1,08 per liter. Diesel met 0,05% sowel as 0,005% swael word R1,96 per liter duurder. Die groothandelprys van diesel in Gauteng is nou R25,01 per liter, ’n nuwe hoogtepunt vir 2023.

2. Minstens twee supermarkkettings, Woolworths en Pick n Pay, het begin om die verkoop van eiers te rantsoeneer te midde van die land se ergste uitbraak van voëlgriep, wat voorraad beperk.

3. Die parlement se etiekkomitee het bevind dat Bheki Cele, minister van polisie, die gedragskode vir LP's oortree het toe hy – meer as 'n jaar gelede – by 'n misdaad-imbizo in Gugulethu aan Ian Cameron van Action Society geskree het om te “Shut up!". Cele moet Cameron nou om verskoning vra.

4. Die SAUK en MultiChoice kon nog nie ’n ooreenkoms bereik oor die uitsaai van krieket se Wêreldbekertoernooi nie. Dit beteken die toernooi sal voorlopig slegs op die betaalkanaal SuperSport wees.

5. Die Nieu-Seelandse publikasie The Press het besonderhede gepubliseer uit 'n brief wat Lauren Dickason uit aanhouding aan haar ondersteuners geskryf het waarin sy sê sy slaap snags met teddiebere wat van haar dogters se klere gemaak is: “I sleep with them at night, to hold them close and remember all the wonderful cuddles my girls used to give me”. Dickason word op 19 Desember gevonnis weens die moord op haar drie dogters.

6. Duisende mense het gisteroggend die strate van Accra, hoofstad van Ghana, ingevaar en opnuut geëis dat die president van die land se sentrale bank verwyder word vir wat hulle sê die wanbestuur van die ekonomie is tydens die ergste skuldkrisis in 'n generasie.

7. Minstens 37 mense, onder wie twee swanger vroue, het doodgebrand ná 'n ontploffing by 'n onwettige olieraffinadery in die suide van Nigerië, het 'n plaaslike gemeenskapsleier gister aan Reuters gesê. Onwettige raffinering is algemeen in die olieryke Niger-delta, waar arm plaaslike inwoners pypleidings tap om self brandstof te maak om teen 'n wins te kan verkoop.


Daar is waarskuwings oor 'n hoë brandgevaar oor dele van die Noord- en Oos-Kaap, Noordwes, Limpopo en KwaZulu-Natal. Die grootste deel van die binneland is warm tot baie warm, met 'n hittegolf wat oor dele van Noordwes, die Vrystaat, Gauteng en die Oos-Kaap verwag word. Buie en donderbuie word vir die suidooste van die Noord-Kaap voorspel, asook die sentrale gebiede van die Oos-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 32°C • Johannesburg 31°C • Mahikeng 33°C • Mbombela 30°C • Bloemfontein 34°C • Polokwane 31°C • Kimberley 35°C • Upington 39°C • Kaapstad 26°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 23°C • Durban 27°C.


Willem Kempen | Solank die skýn van goeie betrekkinge bewaar bly ...

Ons sal dalk nooit weet wat als agter die skerms gebeur het in die twis wat oor die Lady R tussen die VSA en Suid-Afrika ontstaan het nie, maar minstens máák albei kante of die breuk herstel is, en Agoa is vir eers nie meer in gevaar nie.

Die verklaarde rede vir die verbeterde verhouding sluit in Maandag se gesprek tussen pres. Cyril Ramaphosa se nasionale veiligheidsadviseur, Sydney Mufamadi, en sy Amerikaanse ampsgenoot, Jake Sullivan. Die mediaverklaring oor dié vergadering wemel van die diplomatieke kodetaal: Die “sterk vennootskap tussen Suid-Afrika en die VSA" is “herbevestig"; die twee lande is “opnuut verbind" daartoe om “gedeelde prioriteite" te bevorder.

Niks oor die vreemde sekerheid waarmee ambassadeur Reuben Brigety in die openbaar beweer het dat Suid-Afrika wapens aan Rusland verskaf nie, net dat Sullivan “appreciated the seriousness with which President Ramaphosa had addressed the concerns".

Dit lyk eintlik of die VSA besluit het om maar verby die Suid-Afrikaanse regering se diplomatieke rondvallery te kyk ter wille van die groter beswil. Kan dit wees dat die DA-leiers wat Washington DC oor Agoa besoek het, meer reggekry het as Suid-Afrika se wanordelike ambassade in die VSA, of Mufamadi se eie afvaardiging wat inderhaas saamgestel is om te gaan skadebeheer doen?

Dalk het die einde van die vete ook iets te doen met die druk uit die Kongres op pres. Joe Biden se administrasie oor die skuldplafon en oor besteding aan enigiets wat met Rusland en die oorlog in Oekraïne te doen het.

Die verklaring sê ook nie wat die VSA regtig deesdae dink van Suid-Afrika se “onverbonde" status nie, net dat: “With regards to Russia’s war in Ukraine, they confirmed they would continue to confer on pathways toward a just and lasting peace." 

Sjoe, “continue to confer" – dis 'n goeie een.


Nuwe hoogtes van emosionele ekstase

As ek nie geweet het hulle was waarskynlik daar nie, sou ek nie gister so oor middagete buite gestaan en opkyk het na die agt of nege sweeftuie wat hoog daar bo in die lug sirkel nie.

Daar was 'n goeie kans dat ek iets sou sien, want die nasionale sweeftuigkampioenskap vind op die oomblik hier in Potch plaas, en die vliegveld is net so 'n entjie van my huis af. Terwyl die byeenkoms  aan die gang is, hoor mens elke dag so teen laat die oggend of vroeg die middag die motore van die Cessna wat die sweeftuie met 'n kabel die lug in trek tot op 'n skaflike hoogte, dan afhaak en terugvlieg na die vliegveld om die volgende een te gaan haal.

Maar as die sweeftuie eers gelanseer is, word dit stil, want hulle het geen meganiese aandrywing nie, afgesien van die enkeles wat toegerus is met 'n enjin wat in 'n noodgeval kan uitvou sodat hulle darem weer die vliegveld kan haal as die lugstrome dalk nie gunstig is nie of iets anders skeefloop.

Ek was al 'n paar keer so gelukkig om 'n passasier in 'n sweeftuig te wees. Dis 'n besonderse ervaring; feitlik totale stilte, panoramiese uitsigte, die opwinding as 'n onsigbare lugstroom onder die lang, swiepende vlerke die energie laat opbou en die sweeftuig laat klim terwyl dit om en om boontoe kolk.

Dis net so lekker om ná 'n dag se vlieg die sweeftuigmense te hoor praat oor alles van sweef-ratio's tot by hoe lastig die afwesigheid van 'n toilet daar bo in die wolke kan wees tot by aanhalings uit Jonathan Livingston Seagull: “Instead of being enfeebled by age, the Elder had been empowered by it; He could outfly any gull in the Flock, and he had learned skills that the others were only gradually coming to know.”

Selfs Barbara Cartland het al in een van dié gesprekke opgeduik. Ja, dáái Barbara Cartland, die een wat in haar biografie van die 19de-eeuse Oostenrykse diplomaat Klemens von Metternich geskryf het: “He was a virile, experienced and satisfying lover ... Even the most sophisticated women felt as if in his arms they learnt something they had never known before. Every woman rose with him to heights of emotional ecstasy beyond the power of expression."

Maar Cartland was nie net bekend vir die ruim gebruik van smeermiddels in haar prosa nie; sy was teen die 1930's al 'n bedrewe sweeftuigvlieënier en word beskou as 'n lugvaartpionier (sy was ook 'n groot motorsportentoesias). In die Tweede Wêreldoorlog het die Royal Air Force een van haar idees ontwikkel om sweeftuie ook as troepedraers te gebruik, wat onder meer suksesvol tydens die Geallieerde inval in Normandië op D-Dag gebruik is.

'n Geval van jou passie na nuwe hoogtes neem, kan mens sê.


Breath for Metal

This a story
I’ve kept in soft
orange inside
my steel body. I’ve wanted

to wait until I’ve
cooled to hum, until
my touch wouldn’t burn.

I’ve practiced to gentle 

             not to be odd.   To remember
me a calm line transmitting        not artificial

sugar smile melts a rainy spring I do not want
to feel a tug       you wait again for what’s             
dissolved into scent for this week.

– Ching-In Chen

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.