In-die-Kohli, hof sê nee vir Rwanda-plan, en ander dinge om te weet

DONDERDAG MET MERCY

In-die-Kohli, hof sê nee vir Rwanda-plan, en ander dinge om te weet

Meneer die President, ons sien jou, sê MERCY KANNEMEYER, terwyl WILLEM KEMPEN nuwe hoogtepunte in Britse satire ontdek. Plus sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 16 November 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre!

1. Bemiddelaars van Qatar het gister ’n ooreenkoms tussen Hamas en Israel probeer beklink wat die vrylating van sowat 50 burgerlike gyselaars van Gaza insluit in ruil vir ’n drie dae lange skietstaking. Ingevolge die ooreenkoms sal Israel ook Palestynse vroue en kinders uit Israelse tronke vrylaat en meer humanitêre hulp in Gaza toelaat. Hamas het toegestem tot die breë trekke, maar Israel het nog nie en onderhandel nog oor die besonderhede.

2. Israeliese soldate het gister Gaza se grootste hospitaal, die Al Shifa-hospitaal, se kamers en kelderverdieping gefynkam vir Hamas-militante en wapens, het ooggetuies gesê. Israel sê die “hartklop” van Hamas-vegters se bedrywighede is geleë in hulle hoofkwartier in tonnels onder die hospitaal. Hulle sê hulle het wapens gevind. Hamas ontken dit.

3. Die Springbok-embleem bly vir eers behoue. Dit was die antwoord van die adjunkminister van sport, kuns en kultuur, Nocawe Mafu, op die vraag van ’n EFF-LP, Eugene Mthethwa, in die Nasionale Vergadering oor of die regering enige plan het om die embleem te vervang, berig Netwerk24. Sy het gesê as die regering praat van nasiebou en maatskaplike samehorigheid, neem dit aan dat alle Suid-Afrikaners, swart en wit, deel van die land is.

4. Franse regters het lasbriewe uitgereik vir die arres van Sirië se pres. Bashar al-Assad, sy broer Maher al-Assad en nog twee senior amptenare weens die gebruik van verbode chemiese wapens teen burgerlikes in Sirië toe meer as 1 000 mense in Douma en Oos-Ghouta in 2013 gesterf het. In die lasbriewe word verwys na aandadigheid aan misdade teen die mensdom en oorlogsmisdade.

5. Thembisile Majola het ná ’n jaar en agt maande van haar driejaarkontrak bedank as direkteur-generaal van die Staatsekuriteitsagentskap (SSA). Voor dit was die SSA sonder ’n direkteur-generaal sedert 2018, toe Arthur Fraser weg is, en die SSA was onstabiel sedert Jacob Zuma se presidensie.

6. Japie Claassens (59), ’n lusernboer van Vioolsdrif in die Noord-Kaap, het R5 000 borgtog in die Springbok-distrikshof gekry nadat hy van moord aangekla is op twee vriende twee weke gelede. Hulle het aan hul beserings beswyk nadat hulle geskiet is.

7. Virat Kohli van Indië het sy 50ste honderdtal in internasionale eendagkrieket behaal (117 lopies altesame) en Mohammed Shami het sewe paaltjies geneem toe Indië gister in die Wêreldbeker-eindstryd Nieu-Seeland met 70 lopies geklop het. Die Kiwi’s kon net 327 lopies behaal ondanks Daryl Mitchell se 134, sy hoogste telling op hierdie vlak. Indië het tot dusver al 10 hulle wedstryde in die toernooi gewen in hulle poging om ’n derde Wêreldbeker te verower. Hulle sal Sondag teen Australië of Suid-Afrika te staan kom in die eindstryd in Ahmedabad.


Daar is 'n waarskuwing oor swaar donderbuie met moontlike hael oor dele van die Vrystaat, Noord- en Oos-Kaap, Noordwes en KwaZulu-Natal. Daar is ook 'n waarskuwing oor 'n hoë brandgevaar oor dele van die Noord- en Wes-Kaap. Donderbuie kan in Mpumalanga verwag word, maar dis net deels bewolk in Gauteng en Limpopo.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 25°C • Mahikeng 29°C • Mbombela 23°C • Kaapstad 25°C • Durban 28°C • Kimberley 29°C • Bloemfontein 27°C • Polokwane 26°C • Upington 34°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 29°C.


Willem Kempen | Met ’n swaai van sy staf is Rwanda veilig vir vlugtelinge

Die goeie nuus is dat die Britse Monster Raving Looney Party nog bestaan. Die slegte nuus is dat hulle meer as ooit tevore sukkel om hulle van die sogenaamde ernstige partye te onderskei.

Premier Rishi Sunak, wat nie eens die meerderheid steun in sy eie koukus het nie, wat nog te sê onder kiesers in 'n algemene verkiesing, moes gister die Konserwatiewes se soveelste verleentheid sluk toe die Britse hooggeregshof beslis het dat die regering se bisarre (en lawwe) plan om asielsoekers via Rwanda uit die pad te kry, onwettig is. Want, het die hof gesê, die Britse regering mag nie vlugtelinge stuur na 'n plek waar daar 'n risiko is dat hulle weer teruggestuur kan word na dieselfde land waaruit hulle in die eerste plek gevlug het nie. Anders gestel: Rwanda is nie 'n veilige plek vir vlugtelinge nie.

Enkele ure later het Sunak hierdie Pythoneske juweeltjie kwytgeraak:

“Following today’s ruling, I’m taking the extraordinary step of introducing emergency legislation to confirm Rwanda is safe. I will not allow a foreign court, like the European Court of Human Rights, to block these flights."

Is dit nie 'n pragtige ironie nie: Die eertydse grootste koloniale moondheid van hulle almal se eerste premier van Asiatiese afkoms, wie se ouers uit vandag se Kenia en Tanzanië na Brittanje geëmigreer het, wil namens 'n Tory-regering noodmaatreëls uitvaardig om te “bevestig" dat 'n land met 'n bloedige koloniale geskiedenis soos Rwanda wel “veilig" is sodat die Britte al die onwettige vlugtelinge soontoe kan stuur wat in klein bootjies oor die Engelse kanaal daar aankom. Dieselfde premier Sunak wat vir koning Charles moes vra om David Cameron 'n lid van die House of Lords te maak sodat hy vandeesweek die nuwe minister van buitelandse sake kon word. Dieselfde Cameron wat die rampspoedige fout gemaak het om die referendum oor Brexit moontlik te maak. Dieselfde Brexit waarsonder Boris Johnson nie premier sou kon word nie. Dieselfde Boris Johnson sonder wie Lizz Truss (onthou jy nog?) nie premier sou kon geword het nie. Dieselfde Lizz Truss sonder wie Rishi Sunak nie premier sou kon geword het nie.

Dit alles laat mens noodwendig dink aan daardie tydlose politieke insig van die Brits-Ierse filosoof, staatsman en Goonioloog Terence Alan “Spike" Milligan (KBE):

On the Ning Nang Nong Where the Cows go Bong! And the Monkeys all say Boo!"


Image: ANGELA TUCK

Meneer die President, ons sien wat jy doen

Gelykheid, of “op gelyke voet” se woordeboekdefinisie (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, 6de Uitgawe) is “sonder dat die een die mindere of die meerdere van die ander is”.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) is die gemiddelde salaris in Suid-Afrika R25 304. BusinessTech berig vroeër vanjaar dat ’n studie gedoen deur ’n strategiese bemarkingsdepartement aan die Universiteit van Kaapstad bevind het dat die gemiddelde inkomste wat ’n huishouding benodig om as middelklas gesien te word, R22 000 per maand is. Luidens ’n artikel in IOL in Julie vanjaar verdien iemand ’n lae inkomste wanneer hulle salaris gemiddeld R7 880 per maand is, en verdien iemand ’n hoë inkomste wanneer hulle gemiddeld R139 000 per maand huis toe vat. (Ek ken nie enige mense wat R139 000 per maand verdien nie, ken jy so iemand?)

Luidens die Wêreldbank se verslag van Maart 2022 is Suid-Afrika steeds die ongelykste land ter wêreld. Hoewel die land volgens Stats SA nou die agtste agtereenvolgende kwartaal ’n toename in werkgeleenthede beleef het, met 399 000 méér mense in die land (altesame 16,7 miljoen) wat werk het – en waar meer mense nou werk het as voordat Covid toegeslaan het – is die werkloosheidskoers steeds hoër as in die eerste kwartaal van 2020. Dit beteken werkskepping hou nie by met die getal mense wat tot die arbeidsmag toetree nie.

Die Investec-ekonoon Lara Hodes het in hierdie artikel gesê jeug tussen die ouderdom van 15 en 24 is die mees benadeelde segment van die ekonomie wanneer dit kom by volhoubare indiensneming, met baie wat nie die nodige vaardighede en ervaring het nie.

Capitec, by wie ongeveer ’n derde van die land se mense bank, sê mense se salarisse word nie by inflasie aangepas nie en dus word hulle armer. Al koop hulle kliënte goedkoper produkte, bestee hulle 8% meer aan kruideniersware. Petrol kos 16% meer as die vorige jaar, en weens die hoër rentekoers werk lenings 20% duurder uit en is afbetalings op motors 15% hoër.

Nagenoeg 19 miljoen Suid-Afrikaners oorleef op maatskaplike toelaes, met gemiddeld 8,5 miljoen mense wat ook voordeel trek uit die maandelikse Covid-19-toelaes van R350, en daar is ongeveer 27 miljoen maandelikse begunstigdes van Sassa-toelaes.

Teen die bostaande breë agtergrond van hoe droef dit in ons land gaan, maak dit my befok om Sondag in Rapport van die lekker tye op die presidensiële straler, Inkwazi, te lees. Erika Gibson skryf Sondag dat die baie belangrike persone wat verlede jaar saam met Ramaphosa na koningin Elizabeth die tweede se begrafnis toe is, eet- en drinkgoed ter waarde van sowat R24 000 per persoon gekry het. Die spyskaart is ook nie sommer van hier rond nie, hoor. Duur drank, driegang-maaltye (vir ’n vlug van ongeveer 10 ure!), biltong, droëwors, neute, vis, ribbetjies en garnale. Verbeel jou.

Die gemiddelde Suid-Afrikaner verdien nie eens per maand dit wat per kop aan spyseniering voorsien word op Inkwazi nie. Vergeet die gemiddelde Suid-Afrikaner, die mééste Suid-Afrikaners verdien nie eens soveel nie! Die presidensiële woordvoerders en Ramaphosa-gatekeepers ontken natuurlik dat die luukshede op die vlug versoeke van die president is. Hulle dink seker ons is onnosel.

Meneer die President, ons sien jou. En ons sien wat jy doen. Nog sulke skokbewerings en die opposisie mag dalk net inglip en die verkiesing wen (hahahahahaha, oukei wag nee, ek glo nie eens dit wat ek so pas hier geskryf het nie). Die ANC gaan heel waarskynlik weer die verkiesing wen, en Ramaphosa gaan heel waarskynlik weer president wees (as hy hom nie doodvreet aan al die ribbetjies en garnale nie).

Nog sulke skokbewerings en hopelik kom daar by volgende jaar se stembus ’n revolusie. Die revolusie wat ek graag wil sien, is in die vorm van jongmense wat registreer om te stem, opdaag om te gaan stem, en hierdie baie belangrike persone hulle gatte laat sien. Die hoop beskaam ongelukkig, en dit moet ons almal bang maak. Ramaphosa en sy baie belangrike persone dryf hierdie land vir ’n geruime tyd al die afgrond in met hulle buitensporige lewens wat soos dag en nag van my en jou lewe verskil.

Ons, ek, jy, die ou op straat, die baas by jou werk, is ongelukkig nie op gelyke voet, van dieselfde stoffasie, as ons land se president en die baie belangrike persone wat hulle aan luukshede op ’n private straler kan vergryp nie. Dis ’n magtelose, hartseer, hartseer, hartseer gevoel. Kan iemand net ’n sprankie hoop bring, asseblief?!


Injury Room

Through my
little window, I
see one day
the entire bird, 
the next just 
a leeward wing, 
the next
only a painful
call, which, without
the body, makes
beautiful attachments
by even
attaching at
all.

- Katie Ford

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.