Tshwane-staking verby, en Musk ‘wil help’ in Israel

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Tshwane-staking verby, en Musk ‘wil help’ in Israel

DEBORAH STEINMAIR dink die sandjies het vanjaar laat waai deur die uurglas, WILLEM KEMPEN hoop iemand luister na Volkswagen se pleidooie, en soos altyd is daar sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 28 November 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Verteenwoordigers van die sakesektor en professionele gesondheidswerkers het 'n dringende beroep op die voorsittende beamptes van die Nasionale Raad van Provinsies sowel as adj.pres. Paul Mashatile as hoof van regeringsake gedoen om te keer dat die wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering môre ongewysig goedgekeur word. Business Unity SA (Busa), Business for SA (B4SA) en verteenwoordigers van die mediese sektor sê in 'n brief dat die wetsontwerp in sy huidige vorm erge gevolge sal hê, het Carol Paton van News24 berig.

2. Die vier maande lange onwettige “staking" van werknemers van die Tshwane-metroraad is verby. Gesprekke oor 'n loonverhoging duur voort, maar vakbondlede het besluit om terug te keer werk toe, het Business Day berig.

3. ’n Proporsionele ANC-raadslid in die Oos-Kaap, Mzwamandla Nyembezi, word deur die Valke ondersoek omdat hy na bewering voordeel getrek het uit R3,5 miljoen se munisipale tenders, het GroundUp berig. Nyembezi is die hoof van bestuurs- en spesiale programme in Matatiele se plaaslike munisipaliteit.

4. Die Gautengse hooggeregshof in Johannesburg het aan die Stad  Johannesburg verlof geweier om te appelleer teen 'n uitspraak wat die aanstelling van Floyd Brink as stadsbestuurder onwettig verklaar het.

5. Werner de Jager, wewenaar van die vermoorde NG predikant Liezel de Jager, het gister in die landdroshof in Amanzimtoti verskyn op aanklagte wat met haar dood verband hou. Die aktivistegroep Action Society het onlangs die howe gevra om die polisie te beveel om die moord behoorlik te ondersoek. 

6. 'n Ondersoek deur die BBC wys dat die Verenigde Arabiese Emirate hul rol as gasheer van die VN se Cop28-klimaatsberaad wou gebruik om olie- en gastransaksies te beklink. Dit word van die gasheerland verwag om sonder vooroordeel of in eiebelang op te tree, het die VN bevestig. Die beraad begin Donderdag.

7. Elon Musk het gister tydens 'n besoek aan Israel die land se veldtog teen Hamas ondersteun en gesê dis 'n kritieke uitdaging om die soort propaganda te keer wat tot die aanvalle van 7 Oktober gelei het. Hy het onder andere met premier Benjamin Netanyahu gepraat en gesê hy “wil ook graag help", het Reuters berig. Hulle sou ook gesels oor maniere om anti-Semitisme aanlyn te beperk.


Hittegolftoestande word verwag oor dele van die Noord- en Oos-Kaap, Limpopo, die Vrystaat en Noordwes. Daar is 'n waarskuwing oor 'n hoë brandgevaar in die Kaapprovinsies, asook Limpopo, Mpumalanga, die Vrystaat en Noordwes. En daar is 'n waarskuwing oor swaar donderbuie oor Gauteng, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Noordwes en die Vrystaat.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 34°C • Johannesburg 31°C • Mahikeng 37°C • Mbombela 35°C • Kaapstad 24°C • Durban 30°C • Kimberley 40°C • Bloemfontein 39°C • Polokwane 34°C • Upington 42°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 25°C.


Willem Kempen | Wie gaan wil investeer as dít die regering se houding is?

Minister Khumbudzo Ntshavheni se bisarre beskuldiging verlede week dat die privaat sektor die regering en die ekonomie tot 'n val wil bring, was in sommige opsigte 'n bedekte seën. Dit het 'n hele paar sakeleiers sover gebring om hard en duidelik en in die openbaar hulle verbintenis tot die land te bevestig, selfs dié wat dinge gewoonlik anders doen.

Sim Tshabalala, uitvoerende hoof van Standard Bank, moes uit sommige kringe aanhoor dat sy bank “verraad" gepleeg het deur deel te wees van 'n internasionale kartel wat die ruilwaarde van die rand gemanipuleer het, iets waarvoor daar net mooi geen bewyse is nie. 

Tshabalala het in 'n reaksie-artikel op News24 waarskynlik namens die meeste Suid-Afrikaanse besighede gepraat toe hy gesê het: “We [Standard Bank] put a lot of time and resources into promoting more investment and faster growth in South Africa. Standard Bank’s long-term performance depends on the success of the economy and on the economic wellbeing of our clients."

Dis 'n sentiment wat mens selfs by buitelandse besighede sien. Verlede week het Thomas Schaefer, 'n lid van Volkswagen AG se direksie en uitvoerende hoof van die maatskappy se internasionale passasiersmotor-afdeling, gewaarsku hoe moeilik dit raak om volgehoue investering in Volkswagen se aanleg in Kariega in die Oos-Kaap te regverdig terwyl beurtkrag en die logistieke opeenhopings by die hawens chaos saai: “Eventually you have to say, ‘Why are we building cars in a less competitive factory somewhere far away from the real market where the consumption is?’ I’m very worried about it ... We’re not in the business of charity.”

Schaefer sê Volkswagen se onttrekking aan Suid-Afrika “won't happen on my watch”, maar terselfdertyd is dit baie duidelik dat hy die boodskap wil tuisbring dat die regering dit as 'n absolute prioriteit moet stel om die krisis te beëindig.

Schaefer sien ook 'n duidelike rol vir Suid-Afrika in die ontwikkeling van 'n groter motorvervaardigingsbedryf in Afrika, maar net as die regering strategies slim kan dink oor dinge soos beleid en subsidies en aansporingsmaatreëls. Dan moet mens wonder, gaan énige besigheid, plaaslik of in die buiteland, gretig wees om hier te investeer as hulle weet hulle gaan met die Ntshavheni-tipe mentaliteit te doen kry? 


Image: ANGELA TUCK

Jou ruimteskip gaan disintegreer

Like sand through the hourglass, so are the days of our lives.

Dit was die dramatiese inleiding van ’n sepie wat ek en my kind gekyk het toe sy ’n kleuter was. Daar was baie ure in die dag.

In ’n slapelose nag in Pretoria se warmste November lê ek en wonder of die sandjies vinniger deurloop wanneer daar minder in die uurglas oor is – dit voel vir my asof daar dan minder korrels is om uit die pad te druk, asof die laaste sand minder gehinderd en blitsiger deur die nek val – só voel dit in die speletjie 30 Seconds.

Dit is glo nie waar nie; ek het dit gegoogle:

The speed of sand flow in an hourglass does not depend on the amount of sand in the upper glass. The sand flow through an hourglass is determined by grain size and shape (and material), and the immediate geometry around the hole (predominantly the size). Therefore, the sand in an hourglass does not run faster when there is less left. The sand-flow rate is constant throughout the hourglass.

Daar het jy dit. En tog voel dit asof die dae langer was toe ek ’n kind was en korter nou. Asof Januarie eindeloos is, November ’n oogwink en Desember, soos Mary Chapin Carpenter sing: a blur on the driver’s side.

Tyd het ’n emosionele element. Kunstenaars en versiendes weet van altyd af dat dit elasties is. Dit kan rek soos kougom. Dink aan Salvador Dalí se horlosies wat buig en druip soos pannekoeke.

Tyd is relatief, het Einstein gesê. Dit volg nie ’n universele, tik-tok-ritme nie. Die tempo waarteen tyd verloop, hang af van jou verwysingsraamwerk, waar jy staan. ’n Ruimtevaarder wat blitsig beweeg in verhouding tot die aarde sal die sekondes wat verbytik stadiger meet as die waarnemer op aarde. Tyd verstadig vir die ruimtevaarder; dit word genoem time dilation. Soos pupille. Moeilik om klein te kry.

Algemene relativisme verstaan ek beter, omdat dit poëties is. Met ’n metafoor kan ek werk: Planete buig ruimte en tyd soos ’n rolbal ’n trampolien buig.

Ek lees nou The Watchmaker’s Hand deur Jeffery Deaver. The Watchmaker is ’n psigopatiese skurk en Lincoln Rhyme se ou nemesis. Hy is geobsedeer met die binnegoed van horlosies, wat glo nie ratjies genoem word nie, maar wieletjies. Hy smag na perfeksie, maar besef dat meting onbetroubaar is:

Even when working perfectly, mechanical and electric clocks’re affected by temperature, solar flares, magnetic fields, altitude changes. The highest level – nearly faultless – are ones that measure time according to the resonant frequency of atoms ... They lose or gain one second every three million years ... Outer space? A timing error of a billionth of a second can mean nearly a twelve-inch positioning error on re-entry. And your spaceship disintegrates.

Die uurglas van hierdie jaar, wat vir my, van waar ek staan, beter was as die voorafgaande drie, is besig om leeg te loop. Voor ons ons kan oorgee aan see en son en saffier (dié van ons wat dit kan bekostig) is daar ’n duisend take om af te handel. Die sandkorrels stamp mekaar uit die pad om deur die nek te glip.

Ons het soveel dae gepluk en nou wil ons biologiese horlosie net smelt en druip soos Dalí s’n. Ons wil buite tyd op ’n lui deining onder die onmoontlike blou lug dryf. Binnekort!


monding

iewers 'n amberagtige rivier; ek onthou
my otterse ingly, een-alleen en rypgeel
onder die groot son drywend, arms gestrek, so ver
as 'n mens dit kan waag voor die see jou gryp

en die terughardloop, die weer ingly, die glip
in die goud, oewerloos ryk soos croesus
en steeds nog mens; dit moet iets te doen hê

met gevaar, en viswees, weer,
en kantel waar
die lig jou vang, en vinniger as lig
verflik

- Petra Müller

Uit: om die gedagte van geel

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.