Plan vir elektriese voertuie gee ’n slag hoop

WOENSDAG MET WILLEM

Plan vir elektriese voertuie gee ’n slag hoop

WILLEM KEMPEN wonder of ons die ANC nog 'n rukkie moet duld en is optimisties oor Ebrahim Patel se nuutste planne. Soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 06 Desember 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Vanjaar se Blue Drop-verslag wys dat slegs 26 van die land se watervoorsieningstelsels vir dié sertifisering gekwalifiseer het. Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, het by die bekendmaking van die verslag ontken dat daar 'n waterkrisis in die land is. Tog wys die verslag dat slegs 46% van die water wat by munisipaliteite oral in die land getoets is, mikrobiologies veilig was om te drink.

2. Die Suid-Afrikaanse ekonomie het in die derde kwartaal effens gekrimp, hoofsaaklik weens die druk op die land se vervaardigings- en mynbousektore, sowel as landbou. Die bruto binnelandse produk het in die drie maande tot einde September met 0,2% gedaal, het Stats SA gister gesê. Terselfdertyd is die tweede kwartaal se BBP-groei afwaarts hersien van 0,6% tot 0,5%.

3. Ezulweni Investments het die ANC tot vandag gegee om uitstaande skuld van R102 miljoen te betaal of die gevaar van 'n likwidasie-aansoek te loop. Die ANC, wat gister ontken het dat hy bankrot is, is vasbeslote om nie te betaal nie en wil hê die Konstitusionele Hof moet daaroor beslis. As die ANC gelikwideer word, sal hy nie aan verkiesings mag deelneem nie.

4. Nasionale en provinsiale regeringsdepartemente se swak interne beheermaatreëls, gebrek aan interne kapasiteit en begrotingsbeperkings het meegebring dat meer as R11 biljoen se uitstaande fakture aan diensverskaffers van Julie tot September vanjaar laat of glad nie betaal is nie. Dié syfers blyk uit die Staatsdienskommissie (PSC) se kwartaallikse bulletin, The Pulse of the Public Service, wat gister uitgereik is.

5. Die Republikein Liz Cheney, 'n uitgesproke kritikus van oudpres. Donald Trump en medevoorsitter van die Kongres se ondersoek na die aanval op 6 Januarie 2021 op die Capitol, oorweeg dit om onder die vaandel van 'n derde party aan volgende jaar se presidentsverkiesing deel te neem, het Reuters berig.

6. Tieners se wiskunde- en leesvaardighede is in tientalle lande in 'n ongekende afname, wys die OECD se nuutste opname oor internasionale skoolstandaarde. Sluitings weens Covid-inperkings is slegs gedeeltelik hiervoor te blameer, het die organisasie gister gesê. Dit dui op die skerpste dalings in prestasie sedert 2000, toe die OECD met dié gewoonlik driejaarlikse toetsing van 15-jariges se lees-, wiskunde- en wetenskapvaardighede begin het.

7. Die Amerikaanse YouTuber Trevor Jacob is tot ses maande tronkstraf gevonnis vir die vernietiging van die wrak van sy ligte vliegtuig nadat hy dit opsetlik in Santa Barbara, Kalifornië, laat neerstort het met die doel om kykers te lok, het HuffPost berig.


Daar is 'n waarskuwing vir swaar donderbuie oor dele van Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Gauteng en die Vrystaat, skadelike wind oor dele van die Noord-Kaap en 'n hoë brandgevaar oor dele van Limpopo en die Noord- en Wes-Kaap. Meeste van die binneland kan buie en donderbuie verwag asook dele van die Oos-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 30°C • Johannesburg 28°C • Mahikeng 24°C • Mbombela 22°C • Bloemfontein 31°C • Polokwane 26°C • Kimberley 34°C • Upington 38°C • Kaapstad 30°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 22°C • Durban 23°C.


Willem Kempen | Kom ons kry dié elektriese koek in die oond

Niks wat die regering in hierdie tye doen behoort sonder 'n verkiesingsbril op bekyk te word nie, maar daar is heelwat om oor optimisties te wees as dit kom by die planne om plaaslik elektriese voertuie (EV's) vir die uitvoermark te vervaardig. Dis lekker om 'n slag die indruk te kry dat daar ook vorentoe gekyk word en nie net heeltyd vure doodgeslaan moet word nie.

Die vure is nogtans baie, en dit lyk ambisieus van minister Ebrahim Patel van die departement van handel, nywerheid en mededinging (DTIC) om te sê die eerste karre sal so gou as 2026 vir die uitvoermark gereed wees.

Tog is die staat se bestaande ontwikkelingsprogram vir motorvervaardiging 'n sukses, en dit ten spyte van Eskom en 'n klomp ander faktore wat dit moeilik maak om 'n internasionaal mededingende bedryf te vestig en te laat floreer. Vervaardigers soos BMW en Volkswagen maak al lank hier voertuie wat minstens net so goed is as dié wat in die beste Duitse tegniese tradisie aanmekaargesit word.

Maar as ons wil aanhou om karre uit te voer, sal baie daarvan elektries moet wees. Europa gaan oor die volgende bietjie meer as 'n dekade voertuie met binnebrandenjins heeltemal uitfaseer; die Amerikaanse en ander markte gaan nie ver agter wees nie. En Patel sê China se sukses met die vervaardiging van elektriese motors was 'n voorbeeld vir hoe Suid-Afrika dit kan aanpak.

Die Chinese voorbeeld wys dat só iets 'n gesamentlike projek van die staat, buitelandse motorvervaardigers, binnelandse komponentvervaardigers, die res van die waardeketting sowel as georganiseerde arbeid en sakelui moet wees. Nie een van dié kan dit op hulle eie laat gebeur nie, en Patel besef hopelik dat sy regering dikwels die vennoot is wat nie sy deel van die sosiale kontrak nakom nie. Sukkelende hawens en onbetroubare elektrisiteit kan die hele projek kelder nog voor dit van die grond af kom.

As ons dit regkry, beteken dit ekonomiese groei, 'n opwindende nuwe bedryf en werk wat geskep word, en daarmee saam 'n klomp ander dinge wat 'n nuwe geesdrif in die land kan laat opvlam.

Maar asseblief, kan ons vir 'n verandering eers seker maak die koek word wel gebak voor ons begin stry oor hoe dit verdeel moet word?


Dalk moet ons die ANC maar vir nog ’n klompie jare duld

Hierdie deel van VWB se daaglikse inhoud is veronderstel om 'n bietjie ligter in trant te wees, so vergewe my maar as ek daarvan afwyk. Die ding is, ek kan nie help om te wonder of dit regtig beter kan gaan die dag as die ANC nie meer alleen die land regeer nie – dis nou as daardie dag hoegenaamd 'n werklikheid word.

Ek weet nie eens of dinge selfs net sal ophou om verder agteruit te gaan as die ANC ná volgende jaar se verkiesing nie meer nasionaal in beheer is nie. Ek weet nie of die vrot in ons wortels nog vlak genoeg lê om uitgesny te kan word nie.

Dalk is daar 'n bietjie meer hoop daar in die suide van die land, maar hier in die noorde is die kans goed dat die ANC ook op plaaslike vlak deur 'n selfs vrotter spul vervang gaan word.

Met “vrotter" bedoel ek 'n party wat selfs minder omgee vir die groot gros van die land se mense wat elke dag in desperaatheid voortploeter.

Met “vrotter" bedoel ek 'n party vir wie dit selfs minder belangrik is as vir die ANC dat bekwame mense aangestel word wat organisasies kan bestuur, wat infrastruktuur in stand kan hou, wat begrotings kan laat klop, wat selfdienende vakbonde in die bek kan ruk, wat met slim nuwe maniere vorendag kan kom om oplossings te soek.

Met “vrotter" bedoel ek 'n groep wat nóg minder as die ANC omgee vir die verskil tussen ware regstellende aksie en die blote uitdeel van lonende poste aan partylojaliste.

Waar gaan 'n nuwe nasionale regering begin met die proses om van almal ontslae te raak wat nié al hierdie dinge kan of wil doen nie? Hoe gaan so 'n party ontslae begin raak van die munisipale bestuurders of tesouriers of direksielede of boekhouers of generaals of rektore of al die ander wat hulle werk net het omdat hulle help kyk na die belange van iemand hoër op?

Miskien is daar tog iets te sê vir 'n soort “groot koalisie" tussen die ANC en die DA, waar die een kan shine vang en nuwe wette uitdink, en die ander een die werk doen, en waar Julius Malema iewers op die kantlyn kan aanhou om alles op te EFF wat oor sy pad kom.

Met 'n bietjie geluk sal ons dan ook nie meer hoef te sien hoe 'n Cyril Ramaphosa (of 'n Paul Mashatile) en 'n John Steenhuisen (of 'n Roger Jardine, as ons nou regtig die fantasie vrye teuels wil gee) uit hulle onderskeie helikopters vir mekaar waai wanneer hulle oor 'n Richardsbaai vlieg om te sien hoe groot die ramp is en wie daarvoor blameer kan word nie.

Van Jardine gepraat: Die goeie nuus is dat daar nou iemand op die politieke toneel opgedaag het met nog minder name recognition as die Multiparty Whatever. Ek vermoed selfs die meeste DA-lede het nie 'n clue wie hy is nie...


Thank you

Why not a meadow?
Why not a little clearing and a stream
to wade in? Why not take our pants off,
a little respite from our partners
who couldn’t see us, who’d never see us
no matter what we did? What we did was wrong,
the way we did it. It was miraculous,
it took hold long after
we trudged back to our spouses. 
So many years harboring a secret. 
Thank you for telling me 
about growing up in Queens, daddy’s 
milk truck skittering about Northern Boulevard 
looking for your favorite ice cream. 
And the darkness: how shades were drawn,
how your mother would never recover
from your father. How many of us 
have been stymied by those early dramas
until we married them? So many years, 
so many hungry years after. 
Thank you for the apricots in the mail,
thank you more for appearing at my door
with so little time left: no going back
to field our regrets. Old
as we are, you are here and now,
why not a meadow and a clearing?

- Ira Sadoff

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.