Gulhartige geskenke dié Kersfees

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Gulhartige geskenke dié Kersfees

Van luukshede wat jy nooit vir jouself sou koop nie tot geskenke uit die hart. ANNELIESE BURGESS deel haar Kersfees geskenk-idees, 'n gedig, 'n resep en 'n stuk musiek wat haar oombliklik in 'n goeie stemming kry.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Ek hou daarvan om geskenke te gee.

Ek hou van verrassings. Ek hou van gulhartigheid en bedagsaamheid. Ek hou van verjaardaggeskenke en Kersgeskenke en geskenke vir geen rede. Om 'n perfekte geskenk te kies is nie moeilik nie, maar dis 'n kuns. Dit verg oplettendheid en 'n bietjie moeite. Soos dat jy onthou dat iemand wat hou van roadtrips jou eenkeer vertel het hy hou van bergpasse, of die vriend wat 'n musiekboffin is wat ook mal is oor Russiese geskiedenis (ek het die perfekte boek vir beide!).

Die beste geskenke is 'n gebaar van omgee. En hope geld is nie 'n voorvereiste vir 'n fantastiese geskenk nie – trouens in my ervaring kom die swakste presente soms van mense wat die meeste geld het om daarop uit te gee (random bottel parfuum?).

Luukses klein en groot

Maar ek moet ook erken dat 'n duur geskenk, wat met hart en insig uitgekies is - soos die Breville-koffiemasjien wat ek verlede jaar by my mense gekry het - 'n fantastiese verrassing was. Ek weet van min mense wat nie sou hou van 'n goed-uitgesoekte klein (of groot, luukse) ene wat hulle nie vir hulself sou koop nie. Soos Clarins se lieflike lip-olies (R450) of 'n sagte Angora tjalie (R1250 by Karoo Ranching).


Hartsgeskenk

Die beste geskenke het egter niks met geld uit te waai nie.

Een van my beste geskenke ooit was 'n vrag hout wat my broer vir my verjaarsdag van die plaas af gebring het.

My drie boeties kry die jaar elkeen 'n miniatuur skildery van my ma en pa. My kunstenaarvriendin, Emma Rankin, het die afgelope paar jaar vir my 'n skilderytjie gemaak vir my verjaarsdag en ek hou van die rowwe onvolmaatheid daarvan. (Dit kos R400 by @emmarankin.artist op Instagram.)

Emma se skilderye. Bo, links: My pa op die plaas. Regs: Filacudi, die eiland waar ek myself weer begin vind het. Onder, links: 'n Gunsteling-kerkie op pad Indwe toe. Regs: Die uitsig van my gunsteling-plek op Bannockburn.
Emma se skilderye. Bo, links: My pa op die plaas. Regs: Filacudi, die eiland waar ek myself weer begin vind het. Onder, links: 'n Gunsteling-kerkie op pad Indwe toe. Regs: Die uitsig van my gunsteling-plek op Bannockburn.

Geskenk-idees vir kokke

Ek was verbaas om op 'n kilogram-pak Pul Biber chilli-vlokkies by die Turkish Bazaar in Waalstraat in Kaapstad af te kom. Ek het die soeterige, vrugterige, rokerige wonder-bestanddeel in mooi glashouertjies verpak as geskenke.

Die Bazaar se Zataar-spesery is ook fantasties (gedroogde tiemie, sesam, anys, koljander, sumak, komyn en karwy-saad). Met olyfolie maak dit 'n heerlike braaisous vir vleis en groente. En dan het ek ook 'n paar pakkies gerookte Karoobossiesout wat ek op my laaste trippie by Doornkraalpadstal naby De Rust gekry het, maar mens kan al hulle produkte aanlyn bestel.

My een skoonsus kry 'n lieflike blou blommevaas van Pep Home. Ek is mal oor die 1960's kurwes (R70!). En die ander kry 'n sagte geruite kombersie ook van Pep Home. 'n Perfekte piekniek of oor-die-bene- kombers. Daar is verskillende kleure, maar die bloue voel en lyk net eenvoudig soveel meer stylvol en luuks as sy R279-prys.

Ek sal hierdie komende week skryf oor my 10 beste kookboeke van die jaar, maar 'n onverwagse gunsteling is New Feast wat ek verlede week op die lughawe gekry het (R299). Greg Malouf is een van Australië se voorste kenners van Midde-Oosterse cuisine en Petersham Nurseries Café in London het 'n Michelin-ster gekry toe hy hulle sjef was. Emma het gisteraand kom eet, en ons het die “shaved zucchini with grana, burrata & basil" gemaak as voorgereg. En die “Lebanese spiced chickpeas & eggplant with pita" as hoofgereg. Albei was ongelooflik lekker. Die boek het so 'n effens outydse vibe, maar is 'n totale wenner in terme van inspirerende idees!


Nog 'n paar idees

'n Betekenisvolle foto of gedig in 'n raam. 'n Hopie vuuraanstekers (Simple Truth eco-lighters van Checkers kos R44 vir 8). Shweshwe notaboekies (R99 elk). 'n Swart T-hemp van uitstekende kwaliteit (Johnsson Workwear s'n is fantasties). En ek ken niemand (behalwe kollega Piet 😁) wat nie sou mal wees oor 'n bottel (of 'n blik of boks) goeie kwaliteit olyfolie nie. Olyfolie is ook 'n goeie geskenk om saam te neem as jy uitgenooi word vir ete die feesseisoen.

Soylites maak wonderlike kerse. My dogter is mal oor die produkte want dit bevat nie petroleum nie, word amptelik onderskryf deur Beauty Without Cruelty en is vegan-vriendelik. As jy kan bak, is 'n groot blik tuisgemaakte beskuit 'n wenner-geskenk vir enigiemand behalwe die banters. En as jy weet hoe om te meet en roer maak hierdie krakerige grondboontjie chillicrisp, of slaan een van my spesery-mengels aanmekaar.

Verpakking is belangrik vir tuisgemaakte geskenke. 'n Mooi glashouer en 'n etiket verhef dit van snaakse konkoksie tot begeerlik. En hou dit eenvoudig. Geen strikkies en stukkies materiaal en ander fieterjasies nie. Gepraat van verpakking - ek en my dogter is mal oor die sneespapier van Mr Price Home (R29 vir 'n pakkie met 10 velle).

Bo: Sneespapier van Mr Price Home. Onder: 'n Prettige Bialetti-fles.
Bo: Sneespapier van Mr Price Home. Onder: 'n Prettige Bialetti-fles.

En wat sit ek vir myself onder die Kersboom?

'n Rooi termosfles van Bialetti (ek het myne gekry by Ambeans Coffee in Somerset-Wes). Die fles is lig en pas perfek in my stap-rugsak. En die kleur, met die prettige Bialetti-mannetjie (of is dit 'n towenaar?) en die zig-zag patrone maak my sommer net gelukkig!

Daarmee groet ek. Gaan maak iemand happy met 'n geskenk wat 'n gedagte is.

Salige Sondag.

Anneliese

Ns: Ek hou my aanbevelings kort die week aangesien my hele brief een lang lys aanbevelings is.


Make Love to Me Like We've Never
Known Violence

Like every leaving wasn't a country
that seceded from your body

Like every lover wasn't crossing
your wrists in trouble's rolling light

Make love to me like your people were never
stolen, like your blood has never been a question

of belonging. And I will make
love to you like a river unbraiding

our countries, like the mind of the ocean
remembering your name.

Uit The American Poetry Review Vol. 52 No. 1 Jan/Feb 2023.
@poetryisnotaluxury op Instagram


Kook

Hierdie is 'n asemrowende dis. Die Amerikaanse sjef Gregory Gourdet se “Whole roasted Jerk Cauliflower" is een van Bon Appétit se top 10 restaurant-disse van 2023. En dis super-maklik om in jou kombuis te maak. Ek het dit twee keer gemaak die week.

Kyk


Luister

Ek daag jou uit om na hierdie ou gunsteling van Amy MacDonald te luister en nie te wil saam sing en dans nie. 

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.