SA het weer kernkrag-planne, en Engelse vind enorme skedel-fossiel

WOENSDAG MET WILLEM

SA het weer kernkrag-planne, en Engelse vind enorme skedel-fossiel

WILLEM KEMPEN vra ChatGPT om 'n romantiese Afrikaanse kortverhaal te skryf, en hy wonder of 'n Kennedy die derde opsie vir die Yanks in hulle verkiesing gaan wees.

  • 13 Desember 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiemôre!

1. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, sê die regering gaan begin met die proses om teen 2033 altesame 2 500 MW nuwe kernkrag by die nasionale netwerk te voeg. Die regering moet glo nog besluit of hy groot reaktors soortgelyk aan dié by konvensionele kernkragstasies gaan bou, of kleiner modulêre reaktors, het News24 berig.

2. Jacob Zuma het gister sy vyfde opeenvolgende hofnederlaag gely. Die Appèlhof het Zuma se aansoek van die hand gewys om te appelleer teen 'n vroeëre ongeldigverklaring van sy private vervolging  van die staatsaanklaer Billy Downer en die News24-joernalis Karyn Maughan. Die hof het bevind dat daar geen redelike vooruitsig op ’n suksesvolle appèl is nie en dat daar geen ander dwingende rede is waarom dit aangehoor moet word nie. 

3. Huldeblyke het gister steeds ingestroom vir die veelbekroonde sangeres Bulelwa Mkutukana, wat as Zahara bekend was. Sy is Maandag in die ouderdom van 36 oorlede nadat sy twee weke gelede weens 'n lewersiekte in die hospitaal opgeneem is.

4. Glencore is ook nou gevoeg by die lys van verweerders in Richard Spoor Ingelyf se klasaksie teen 'n groep groot mynboumaatskappye waar werkers longsiektes opgedoen het, het News24 berig.

5. Die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRCS) het bevind dat 'n produk van Econo Cement nie aan die minimum vereistes van voorgeskrewe sterkte voldoen nie. Verbruikers en handelaars is gevra om deel te neem aan 'n landwye herroeping van die maatskappy se CEM V/A S-V 32.5 N-produk omdat gebruik daarvan as 'n hoë risiko beskou word.

6. Claudine Gay, president van Harvard, sal in haar pos aanbly ondanks die herrie oor haar versuim om voor 'n Kongres-komitee te sê of studente wat die volksmoord van Jode bepleit, die universiteit se gedragskode sou oortree. Harvard se raad het gister in 'n verklaring hul steun vir haar leierskap bevestig.

7. Die skedel-fossiel van 'n pliosaurus is naby die kranse van Dorset in Engeland se Jurassic Coast ontdek. Die skedel is meer as twee meter lank en is een van die volledigste voorbeelde van sy soort wat al ontdek is.


Daar is 'n hoë brandgevaar vir dele van die Noord- en Wes-Kaap. Die hele land, uitsluitend die Noord-Kaap kan steeds buie en donderbuie verwag, hoewel dit baie warm kan raak in Noordwes en Vrystaat. 

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 30°C • Johannesburg 28°C • Mahikeng 35°C • Mbombela 21°C • Bloemfontein 33°C • Polokwane 25°C • Kimberley 37°C • Upington 36°C • Kaapstad 24°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 21°C • Durban 22°C.


Willem Kempen | Trump versus Biden versus ... nogmaals ’n Kennedy?


Teen die tyd dat die Amerikaners volgende November na die stembus gaan om hul 47ste president aan te wys, sal ons eie verkiesings al agter die rug wees, maar wat aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan gebeur gaan niks minder belangrik vir Suid-Afrikaners en die res van die wêreld wees nie.

Dis meer kritiek as ooit tevore watter rigting die VSA gaan inslaan met internasionale betrekkinge en handel (insluitend strategies belangrike konflikte soos dié in Oekraïne en die Midde-Ooste), klimaatsverandering, die magtige energiebedryf, die bestuur van immigrante, aborsiewetgewing en 'n rits ander sake. En in die selfs groter prentjie ook oor beginselsake soos demokratiese waardes en die oppergesag van die reg.

Oor elkeen van dié sake is daar 'n skerp verskil tussen Joe Biden en Donald Trump, die twee waarskynlikste kandidate tensy een of albei van hulle iets oorkom voor dan (daar word sekerlik reeds naels gekou deur albei se lyfwagte en dokters).

Maar wat ook waar is, is dat die Amerikaanse politieke stelsel oor albei die groot partye heen op 'n gevaarlike plek is. Amerikaanse kiesers is meer as ooit tevore wantrouig oor of húlle belange vir politici meer tel as dié van 'n magdom lobbyists met groot geld agter hulle.

Dis feitlik 'n uitgemaakte saak dat Donald Trump die Republikeine se amptelike benoeming gaan kry, maar die party is nie naastenby so bankvas agter hom soos toe hy die eerste keer tot die Withuis verkies is nie. Dié keer is daar ook nie 'n Rupert Murdoch en 'n Fox News wat als insit om hom verkies te kry nie, en hy gaan op die beste nog heelwat tyd in die hof moet deurbring, dalk selfs in die tronk.

Dinge gaan ook nie maklik wees vir die Demokrate en Joe Biden nie. Kiesers is bekommerd oor die ekonomie (spesifiek inflasie), die vloedgolf van immigrante uit Mexiko en stygende misdaadvlakke. En oor die 81-jarige Biden se ouderdom.

Die jongste Reuters/Ipsos-peiling dui op 'n gelykopstryd tussen die twee. Trump is op 38% twee persentasiepunte voor Biden se 36%, terwyl meer as 'n kwart (26%) van respondente onseker is of hulle dalk vir iemand heel anders gaan stem. Maar enige skuldigbevinding, veral in 'n strafsaak, kan Trump 'n groot deel van sy huidige steun kos, wys die peiling, al is die sentiment onder sy steunbasis skynbaar die teenoorgestelde.

Die peiling – hoe akkuraat sulke opnames ook al later blyk te wees – wys ook op 'n paar ander interessanthede, soos dat daar geweldige apatie oor 'n tweede Trump-versus-Biden-verkiesing is, en dat bykans ses uit tien van die respondente 'n derde opsie sou wou sien.

Dié derde opsie kan dalk die onafhanklike anti-vaxxer-kandidaat Robert F. Kennedy junior wees, wat volgens die peiling soveel as 16% van die stemme kan kry ás sy naam op die stembriewe ingesluit word. Kennedy se ondersteuners probeer nou genoeg handtekeninge kry om sy naam in soveel as moontlik state op die stembrief te kry.

Dit lyk of Biden meer steun aan Kennedy sal afstaan as Trump, maar in só 'n geval gaan daar minstens nie meer veel sprake van apatie wees nie. Dan kan dinge trouens nogal rof raak. Dalk selfs rowwer as ons s'n.


Eenvoud, ’n sagte briesjie en die vergete romantiek van ’n Afrikaanse plaaslewe


Ek:
Beste ChatGPT 3.5 (Gratis, Great for Everyday Tasks), skryf 'n romantiese Afrikaanse kortverhaal van nie meer as 2 000 woorde nie.

ChatGPT se kortverhaal, paragraaf 1:

Die son sak stadig agter die berge, en 'n sagte oranje gloed begin om die lug te vul. Die hitte van die dag versag, en 'n sagte briesjie begin om deur die veld te waai. Die plaas, met sy uitgestrekte landerye en groen weivelde, is bedek met 'n sagte skemerlig wat die atmosfeer gevul het.

Paragraaf 2:

Mariné kyk oor die plaas vanaf die stoep van haar ou huisie. Haar oeë skitter in die laaste strale van die daglig, en 'n glimlag dans oor haar lippe. Sy dra 'n eenvoudige, gebloemde rok met 'n wit bloes, en haar donkerbruin hare waai sag in die wind. Sy staar oor die weivelde en neem die prag van die oomblik in. Mariné is 'n eiesoortige vrou met 'n sagte siel en 'n liefde vir die aarde.

Paragraaf 3:

Die dag was lank en vol uitdagings op die plaas, maar nou is daar 'n rustigheid wat oor die grond lê. Sy draai weg van die uitsig en gaan na die kombuis toe, waar 'n dis van tradisionele boerekos wag. Die geur van gebraaide vleis en aartappels vul die lug. Mariné is in haar element en geniet die eenvoudige vreugde van die plaaslewe.

Paragraaf 4:

Terwyl sy besig is om die aandete voor te berei [Die aandete wat reeds op haar gewag het?], hoor sy 'n sagte klop aan die deur. Sy lig haar oeë en glimlag, nie seker wie dit mag wees nie [Sy verwag nie vanaand plaasaanvallers nie]. Die deur kraak effens oop, en daar staan 'n man in 'n eenvoudige khaki broek en 'n effens vuil wit T-hemp [Dit sal jou leer om met wit klere op die plaas te werk.]. Sy herken hom dadelik – Stefan, die buurman se seun.

Paragrawe 5 tot 18:

“Goeie naand, Mariné," sê Stefan vriendelik terwyl hy sy hoed afhaal.

Mariné bloos effens en sê, “Goeie naand, Stefan. Wat bring jou hierheen?"

Hy glimlag en sê, “Ek het gehoor jy het 'n bietjie hulp nodig met die koeie vandag. Ek dink ek't 'n paar uur oor [tot wat?], en ek wou graag help."

Mariné se hart swel van dankbaarheid. Sy weet dat dit nie aldag is dat Stefan, met sy besige lewe op sy eie plaas, tyd sou maak om by haar te kom help nie. “Ek waardeer dit, Stefan. Kom binne, ek het kos [ge]maak."

Hulle sit aan die tafel, en die atmosfeer is gemaklik. Die geselskap vloei maklik tussen hulle, en hulle lag saam oor herinneringe aan hul kinderdae op die plaas. Mariné besef gou dat Stefan nie net 'n buurman is [wie se 'n pa 'n plaas het] nie, maar 'n ou vriend met 'n spesiale plek in haar hart.

Terwyl hulle die ete geniet [Ja, fok die koeie], val die nag stadig in. Die sterre begin om helder aan die hemel te blink, en die stilte van die plaas omhels hulle. Stefan kyk na Mariné met 'n ernstige blik in sy oeë en sê, “Mariné, daar is iets wat ek al lankal wou sê." [Dié dat jy met vuil klere opdaag?]

Sy lig haar oeë na hom en wag met 'n verwagting. [Nou ja toe.]

Stefan gaan op sy knieë en neem sag Mariné se hande in syne. “Mariné, ek het al van jongs af geweet dat daar iets spesiaals tussen ons is. Ek het nie net gekom om jou met die koeie te help nie. [Bietjie laat om nou nog aan die koeie te dink, ou Stefan.]. Ek wil vir altyd by jou wees."

Mariné se hart klop vinniger, en 'n traan van vreugde glinster in haar oeë. “Stefan, ek ..."

Stefan onderbreek haar saggies. “Ek het vir jou iets gebring." Hy haal 'n klein juwelierskissie uit sy sak en oop dit om 'n pragtige ring te wys. [Maar jy kon nie skoon aantrek nie?]

Mariné hou haar asem op terwyl sy na die ring kyk. Dit is 'n eenvoudige, dog elegante ring met 'n helder diamant in die middel. Sy kyk na Stefan en sê met trane in haar oeë, “Ek sou nooit gedink het dat hierdie dag sou kom nie."

Stefan glimlag breed. “Ek het al lankal gewag om dit te doen. Mariné, wil jy my vrou wees?"

Die antwoord is in Mariné se oë, en sy knik terwyl sy sê, “Ja, Stefan. Ja!"

Hulle omhels mekaar, en die vreugde van daardie oomblik vul die kamer. Die ring glinster in die sagte lig van die kersligte, en die lug is gevul met die belofte van 'n nuwe begin vir hierdie twee siele wat vir mekaar bestem is. [Koeie? Watter koeie?]

Paragraaf 21: Dit is die begin van 'n nuwe hoofstuk vir Stefan en Mariné. Hulle werk saam op die plaas, deel die hoogtes en laagtes van die lewe, en bou aan 'n toekoms saam. Die liefde tussen hulle groei met elke dag wat verbygaan, en hulle leer om mekaar te ondersteun en te waardeer.

Slotparagaaf: Die son kom elke dag weer op oor die uitgestrekte landerye van die plaas, maar vir Stefan en Mariné bring dit 'n nuwe lig. 'n Lig van liefde, vriendskap, en die belofte van 'n lewe saam op die plaas wat hulle albei so liefhet. En so gaan die verhaal voort, van die romantiese liefdesverhaal wat ontspring het uit die eenvoudige skoonheid van die plaaslewe in Afrikaans.


Uit Lewis Carroll

Ek loop langs sy tuin en sien uit die hoek
van my oog Tier en Uil eet saam aan 'n koek;
Tier verorber die baksel, versielsel en kersie
en Uil kry die koekbord as deel van sy porsie.
Toe die koek opgeëet is, word Uil toegelaat
om die lepel vir homself te neem as 'n baat.
En Tier kry die vurk en gryp die mes beet
en beëindig die fees deur vir Uil ...

- Barend J. Toerien

Uit: Die huisapteek

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.