Verfoenkfaai dat dit ’n naarheid is

MIX MASALA

Verfoenkfaai dat dit ’n naarheid is

Die man wat aartappels aan die Engelse gegee het, vyf goed om dadelik te begin ignoreer, en ander lappe en plakke.

  • 08 Desember 2023
  • Vrye Denker
  • 3 min om te lees
  • artikel 7 van 30

Hierdie week in die geskiedenis


3 Desember 1586:
Sir Thomas Herriot stel aartappels uit Colombia aan Engeland bekend.

4 Desember 1791: Brittanje se The Observer word vir die eerste keer gepubliseer. Dit is die oudste oorlewende Sondagkoerant ter wêreld.

2 Desember 1804:
Napoleon en Joséphine word in die Notre-Dame de Paris as keiser en keiserin van die Franse gekroon.

2 Desember 1859: Die Abolitionist John Brown word in Charles Town, Virginia, gehang weens moord, hoogverraad en sameswering om slawe aan te moedig om in opstand te kom. Die beroemde woorde “John Brown's body" word onder deur Joan Baez gesing as deel van “The Battle Hymn of the Republic":


Read this article in English:


1 Desember 1955: Rosa Parks word in hegtenis geneem vir die verontagsaming van 'n Alabama-wet wat vereis dat swart passasiers hul sitplek aan wit passasiers moet afstaan as die bus vol is. Swart mense moes ook agter in die bus sit.

4 Desember 1961: Die voorbehoedpil vir vroue word vir die eerste keer deur Brittanje se nasionale gesondheidsdiens (NHS) beskikbaar gestel.

5 dinge wat jy dadelik kan begin ignoreer


1. Kennisgewings oor hoeveel plek jy nog op iCloud beskikbaar het.
2. Kennisgewings oor hoeveel plek jy op Google Docs beskikbaar het.
3. Kennisgewings oor hoeveel plek jy op Dropbox beskikbaar het.
4. Dropbox in die algemeen.
5. Pakkamers in die nie-digitale wêreld.

Marmer Mia!

Die meer as twee eeue oue twis tussen Griekeland en Brittanje oor die sogenaamde Elgin Marbles het weer opgevlam. Die Grieke was veral woedend toe premier Rishi Sunak van Brittanje 'n beplande gesprek daaroor met Kyriakos Mitsotakis, sy Griekse ampsgenoot, gekanselleer het. Hier is die voorblad-reaksie van die Griekse koerant Eleftheri Ora:

Die Elgin Marbles is 'n versameling antieke Griekse beeldhouwerke uit die Parthenon en ander dele van die Akropolis in Athene wat van 1801 tot 1812 uit Ottomaanse Griekeland verwyder is deur Thomas Bruce, 7de graaf van Elgin, en word nou in die Britse Museum in Londen gehuisves. Elgin het destyds beweer hy het die toestemming van Ottomaanse amptenare gehad om die marmerwerke te verwyder, maar dit word sterk betwis.

Sunak is nou bereid om die werke aan 'n Griekse museum “te leen", maar net as Britse eienaarskap daarvan erken word – iets wat die Grieke nie maklik gaan doen nie.

Wie speel tweede viool?

Toe Albert Einstein in 1931, toe hy nog 'n Duitse burger was, deur die VSA getoer het, was Charlie Chaplin glo die enigste Hollywood-ster wat hy wou ontmoet. Hulle eerste gesprek het só verloop:

Einstein: “What I most admire about your art, is your universality. You don't say a word, yet the world understands you!"

Chaplin: “True. But your glory is even greater! The whole world admires you, even though they don't understand a word of what you say."

Die twee het groot vriende geword, en hulle het nog iets gemeen: albei was bedrewe violiste.

Afrikaans soos sy vanmelewe gebesig is

Uit die WAT:

♦ malmokkie
Sleepmis; ook soms motreën. As die mis so toetrek, sê die delwersgemeenskap dat dit weer vreeslik malmokkie is (Opgeteken in Alexanderbaai). Die weer is vreeslik malmokkie (Alexanderbaai). Dis weer vanoggend malmokkie (Vredendal).

♦ “Die dweperig-dekadente doedoeliedjies (is) v’r die Afrikaanse taal en letterkunde gn knip wêrd nie." – Brandwag, 15 Julie 1910 (WAT-sitaatversameling).

♦ Hier is mense wat die taal kan verfoenkfaai dat dit ’n naarheid is en dan lag ons uit onse mage vir dit wat NIE gesê word nie. – Afrikaans Forum (WAT-sitaatversameling).

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.