Tshotsho. Jy’s ’n gwala.

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Tshotsho. Jy’s ’n gwala.

ANNELIESE BURGESS vertel van die Xhosafringlish van die Oos-Kaap. Sy deel ook ’n gedig wat oor haar pad gekom het, asook ’n paar goeters uit haar aanbeveling-spens.

  • 19 November 2023
  • Daagliks
  • 5 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Dit is 'n beeldskone dag in die Oos-Kaap. Ek lê vanoggend in die bed en kyk weer hoe nag na dag oorgaan. So 04:30 begin die horison glim met die sagte silwer van eerste lig. Gevolg deur repe pienk en pers en appelkoos. 'n Baldadige walvis spring uit die water. Drie keer. Asof hy wil seker maak ek sien hom. 'n Trein kanovaarders glip geruisloos verby in die rigting van Chintsa. Die son rys soos 'n geel pomelo. Ek drink koffie tussen my dahlias en kyk na die wêreld se hoofopskrifte op my foon – The Guardian, The New York Times, The Telegraph, die Londense Sunday Times en die Suid-Afrikaanse Sunday Times. Haaretz. Die Tageszeitung. Die Zeit.

Die verbryseling van Gaza gaan voort. Daar was 'n massiewe aardbewing in die Filippyne. En die bloed vloei steeds in Oekraïne, maar die wêreld se aandag is nou elders. En Trump gaan heel moontlik weer president word. Die wêreld is in soveel verskriklike moeilikheid.

Ek gaan nou-nou afstap Kwelera toe en dryf in die rivier. En dan my fles koffie drink op die plat klip by die jetty waar die branders lek-lek.

Ek voel so bevoorreg om die afgelope dekade hier in die wilde, woeste, mooiste, mooiste ooste van Suid-Afrika te kon gebly het. En nog meer so wanneer die wêreld so gevaarlik op 'n spits is. Want, hel, al moet ons met ons eie collapsing state cope, is daar net so baie om voor dankbaar te wees. En ek is. Elke dag.

Een van my gunstelingboeke is Dee Brown se Bury My Heart at Wounded Knee: An Indian History of the American West. Dit voel asof ek ná die afgelope 10 jaar hier op hierdie kolletjie aan die kus van Suid-Afrika se armste provinsie wil sê Bury my Heart at Sunrise-on-Sea, behalwe dat dit geheel en al nie so poëties klink nie. (Soos my dogter sê: “Who even came up with that name?")

Wat my met 'n sysprong bring na een van die baie spesiale goed oor dié deel van die wêreld: die manier waarop ons praat. En hoe die diep wortels van ons saambly hier aan die ou frontier, deur eeue van konflik en vrede, weerspieël word in die samesmelting van ons tale: Xhosafringlish.

Ek hoor nou die dag 'n 'n kind by die skool: “Where are we blomming this weekend, bru?" [blom = uithang]

Lets hang at my pozzie," antwoord sy maat. 

“Bru" kan dalk elders in Suid-Afrika zef wees. In die Oos-Kaap “bru" en “bra" en “tjommie" ons voor en agter. Of jy nou van die plaas of die Kasi kom. Ons het nie tyd vir die aansitterige social reëls van die leafy suburbs nie. En ons steur ons veral nie aan nonsens uit die Kolonie nie. Hier was after all al nege oorloë hier. Ons het geleer om ons voete (kaalvoet) op die aarde te hou. Want dis hoe ons survive.


My pa het so mooi Xhosafringlish gepraat. Ek het by sy begrafnis geluister na die boere wat met mekaar gesels, en dit was soos musiek wat net ons verstaan:

“The rooigras is looking bladdy mooi this year, but the weeds in the mielies are kwaai. We'll have to gaba the hell out of those lands." [igaba = skoffel]

In ons familie het Duits bygekom, en vandag nog, wanneer ek en my broers bymekaar is, praat ons 'n mix masala van 'n klomp tale. Dit was 'n handige geheime kode toe ons eie kinders klein was, maar hulle het intussen al die Oos-Kaapismes aangeleer.

  • “Don't be such a gwala." [igwala = lafaard]
  • “Let's climb the randjie this afternoon. And then we can make a draai to check imatien in die river." [imat = tapyt; dit verwys na 'n draad wat oor 'n rivier gespan is]
  • “I don't have much time to get supper on the table. I'm going to have to heißer Nadel it." [heißer Nadel = warm naald; dit verwys na iets vinnig doen]
  • “Hangover? Tshotsho!"

My gunsteling-Oos-Kaapisme is “tshotsho". Die Facebook-bladsy Everyday Xhosa verduidelik dit só:

Tshotsho, pronounced something like chaw-chaw (English speakers). It means “told you so” or “goed so” in Afrikaans. It’s nasty, it’s vindictive and short-sighted, but damn it feels good. It’s one of life’s little pleasures, and God knows there are so few legal ones left. What makes it even better is that the isiXhosa word for throbbing (pain) is tshotshozela. A sadistic lot we Xhosas are! So, if your head and other parts of the body ziyatshotshozela (are throbbing) this morning, ndithi (I say) Tshotsho!

Ek het Vrydag vir die vyfde laaste keer met my dogter skool toe gery. Vir haar vyfde laaste vak in die laaste skooleksamen van haar lewe. Met my dogter wat volgende jaar haar vlerke uitslaan, en albei my ouers wat so onverwags nie meer hier in die Oos-Kaap is nie, voorsien ek dat ek volgende jaar minder tyd hier sal deurbring. Maar my hart sal altyd hier begrawe bly.

Daarmee groet ek.

Salige Sondag
Anneliese


Resolution #1,003

I will love who loves me
I will love as much as I am loved
I will hate who hates me
I will feel nothing for everyone oblivious to me
I will stay indifferent to indifference
I will live hostile to hostility
I will make myself a passionate and eager lover in response to passionate and eager love

I will be nobody’s fool

- June Jordan
(uit Directed by Desire: The Complete Poems of June Jordan, 2005)


Webwerf-wenk

'n Fantastiese webwerf waarmee jy moeiteloos webartikels na jou Kindle kan stuur: KTool.

App

As Google Docs en jou sakrekenaar 'n baba sou hê, sou dit Figr wees.

FOMO-lys

Ons Vrye Tyd-redaksie se alles-wat-jy-wil-weet-lys. Van chilli crisp en ysbaddens tot die beste onderlaagroom. 

Lees

Hoe bestee jy elke dag? Hier is interessante navorsing wat onthul hoe mense wêreldwyd hulle dae deurbring: The Average Human's Day Worldwide.

The World’s Best Countries for Remote Working.

Gepraat van die Hamas-Israeli-konflik: Hierdie stuk in The Guardian het my diep laat dink: Too many taking sides in this conflict miss the true nature of Hamas – and Netanyahu


Luister

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.