Bafana deur na laaste 16 in Afcon-stryd

DONDERDAG MET MERCY

Bafana deur na laaste 16 in Afcon-stryd

MERCY KANNEMEYER skryf oor mense wat dit in die lewe maak en dan als opfoeter. WILLEM KEMPEN wonder oor die tydsberekening van die staat se poging om geld van Jacob Zuma terug te kry, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 25 Januarie 2024
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre!

1. 'n Gelykop-uitslag van 0-0 teen Tunisië was gisteraand goed genoeg vir Bafana Bafana om die groep van 16 spanne te haal wat nog 'n kans het om die Africa Cup of Nations te wen.

2. Een van die mans wat daarvan beskuldig word dat hulle die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa vermoor het, het na bewering die sangeres Kelly Khumalo in 'n betwiste bekentenis as die opdraggewer uitgewys, het News24 berig. Die hof moet in 'n binneverhoor oor die toelaatbaarheid van dié bekentenis beslis. Meyiwa is op 26 Oktober 2014 doodgeskiet terwyl hy by Khumalo se ma se huis in Vosloorus gekuier het.

3. Drie raadslede in KwaZulu-Natal sal uit die ANC geskors word nadat hulle by die Jacob Zuma-gesteunde MK Party aangesluit het. Die ANC in die provinsie sal egter nie teen Zuma self optree nie, omdat hy sy lidmaatskap “vrywillig beëindig” het deur hom by die MK Party te skaar.

4. Begrotingsdag is vanjaar op 21 Februarie, het die nasionale tesourie gister bevestig.

5. Chinese reguleringsowerhede het konsep-regulasies oor beperkings op die publiek se besteding van tyd en geld aan videospeletjies van sy webwerf verwyder, het Reuters berig. Naspers-aandele het gevolglik gister goed gevaar op die JSE omdat sulke perke slegte nuus vir sy Chinese kontantkoei Tencent sou wees.

6. Donald Trump is glo woedend omdat Nikki Haley ten spyte van haar nederlaag in New Hampshire haar steeds nie aan die Republikeinse benoemingstryd onttrek het nie, het Reuters berig. Trump kom dus nou oor 'n maand weer teen Haley te staan, dié keer in South Carolina, die deelstaat waarvan sy eens die goewerneur was.

7. Personeellede het ongeïdentifiseerde “kommerwekkende" items in twee kamers in die manskoshuis Wilgenhof gevind wat dalk “verdere stappe" sal noodsaak, het die Universiteit Stellenbosch in 'n verklaring gesê. Die items sal ondersoek word om “die aard en konteks" daarvan te verstaan voordat besluit word of verdere stappe nodig is.


Daar is weer 'n waarskuwing vir 'n hoë brandgevaar in dele van die Noord- en Wes-Kaap. Die uiters warm toestande duur ook steeds voort in die Kaapse provinsies. Die res van die land is meestal deels bewolk tot bewolk met moontlike buie en donderbuie, insluitend in die Oos-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 32°C • Johannesburg 28°C • Mahikeng 33°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 32°C • Durban 26°C • Kimberley 37°C • Bloemfontein 33°C • Polokwane 26°C • Upington 40°C • Gqeberha 27°C • Oos-Londen 25°C.


Willem Kempen | Twenty... and eight million, nine hundred, listen carefully...

En daar kom die staat tot die ANC se redding, net toe dit begin duidelik word die party het nie 'n clue hoe om op Jacob Zuma se openlike uittarting te reageer nie. (Dis nou natuurlik as mens aanvaar dat die staat en die ANC nie dieselfde ding is nie.)

Meer as twee jaar nadat die Appèlhof in 2021 opdrag gegee het dat “alle redelike stappe" gedoen moet word om die miljoene rande te verhaal wat oor die jare aan Zuma se regskoste bestee is, het die staat nou die hooggeregshof in Pretoria genader “... to seek an order ... directing [Zuma] to repay all the costs, or that were paid by the state on his behalf, in respect of legal costs that were incurred by him in his personal capacity in the criminal prosecution instituted against him, and all related or ancillary litigation", soos Isaac Chowe van die kantoor van die staatsprokureur dit stel.

Die bedrag ter sprake het boonop aangegroei: “The total amount of R18 261 347,72, which was stated in the letter of demand, was based on the record of payments that could be traced at that stage, and after a diligent search and verification of the record of payments was conducted during the preparation of this application, it appeared that further monies were expended on Mr Zuma's behalf totalling the sum of R10 699 426,62," sê Chowe in hofstukke.

Totale bedrag: R28 960 774 en 34 sent. Met ander woorde die bedrag wat die staat sedert 2005 aan Zuma se regskoste bestee het toe hy vir die eerste keer aangekla is en nadat sy immer dodelik siek “finansiële adviseur" Schabir Shaik skuldig bevind is. Wie weet hoe akkuraat dié bedrag is?

Die kans is in elk geval min of meer nul dat Zuma ooit 'n sent daarvan aan die staat sal terugbetaal, maar dit kan hom dalk twee keer laat dink oor sy houding teenoor sommige leiers van die party waarvan hy nog net op papier 'n lid is. (As Donald Trump na sommige van sy partygenote as RINO's kan verwys – Republicans in Name Only – dan kan Gwede Mantashe nou seker na Zuma as 'n CINO verwys, 'n Comrade In Name Only?)

Niemand sal dankbaarder wees as Mantashe dat die staat juis nou vir Zuma weer effens op die agtervoet sit nie. Terwyl hy as minister heeltyd moet verduidelik waarom sy departement se administrasie so sukkel, moet hy ook nog as voorsitter van die ANC instaan vir Fikile Mbalula, ingeval die sekretaris-generaal weer in 'n onvoorsiene nugter oomblik iets gaan staan en erken wat moes gebly het.

Mantashe het in 'n soms bisarre onderhoud met Clement Manyathela van 702 (volledig hieronder) gesê: “You see, I don't know what people expect us to do [about Zuma campaigning for a different party]."

Met nog 'n klomp woorde daarna wat eintlik ook maar net beteken hulle gaan niks doen nie, want hulle kán niks doen nie. Of liewer, niks wat hulle nie te veel kosbare stemme gaan kos nie.


Image: ANGELA TUCK

As jy dit maak, don’t fuck it up

Wat het Mamokgethi Phakeng, Claudine Gay en Thabi Leoka in gemeen? Hulle is aan die wêreld voorgehou as sterk, swart vroue wat saam met die groot honde in hulle onderskeie kringe kan blaf. Sterk is hulle heel waarskynlik, en swart is hulle vir seker. Maar wow, was hulle nou ’n teleurstelling vir die #BlackExcellence-gemeenskap?!

Daar heers geweldige omstredenheid in esoteriese kringe oor die terme “black excellence” of “coloured excellence”, want dit is nommer een te vreemd en nommer twee te veel verantwoordelikheid om op iemand te plaas bloot oor die kleur van hulle vel. Ons moet mense aanspreeklik hou op grond van hulle vermoë om hulle werk goed te doen. Rocket science is dít hoegenaamd nie. Daarmee saam is dit maar net voor-die-hand-liggend dat jy jou werk eerlik ook moet doen, nie waar nie?

Hoeveel van ons se Google-soektogte van verlede week sal verklap dat ons vir die masjien gevra het “Who is Thabi Leoka?” Indien jy een van diegene is wat nié die vraag die kuberruim ingestuur het nie, knap gedaan! Groepsdruk het jou nie in sy greep nie! Leoka is onder meer ’n bekende kommentator op ekonomiese gebied. Sy het glo gejok oor die feit dat sy ’n PhD het (ek sê maar “glo”, want sy hou vol sy het die kwalifikasies en die papiere). Nadat dit op die lappe gekom het dat Leoka nie die waarheid praat oor haar kwalifikasies nie, het dit nadelige persoonlike én professionele gevolge vir haar ingehou.

Aan Phakeng hoef ek julle nie te herinner nie (lees my rubriek oor haar hier). Ek is uitgepraat oor haar. Haar vlag het geval. Kortliks: Hoe vreemd dat sy nou met gewere op sosiale media pronk?! Watter boodskap is dit veronderstel om uit te stuur na diegene wat haar glo leed aangedoen het? Sy het ook glo heelwat werk in die pyplyn, sy plaas die ongelooflikste vakansiefoto’s en is meer aktief op X as die meeste millenniërs. X is nie die regte wêreld nie, Phakeng!

En dan is daar die voormalige Harvard-president Claudine Gay. Tweede vrou in dié gesogte pos. Eerste swart vrou in dié pos aan hierdie spoguniversiteit. Gay raak ’n interessante ding kwyt in haar stuk in The New York Times: “It is not lost on me that I make an ideal canvas for projecting every anxiety about the generational and demographic changes unfolding on American campuses: a Black woman selected to lead a storied institution."

Wat bedoel Gay wanneer sy meen dat sy die ideale “canvas” is vir die dinge wat sy in haar meningstuk noem? En hoekom reken sy dat sy die skuld kry omdat sy swart is? Ek het soveel vrae rondom daardie debakel, want vir iemand wat nie soos Leoka lieg oor haar kwalifikasies nie, is Gay se argumente maar geweldig voorgraads.

Nee, man! Wat ’n aaklige tyd om ’n bruin vrou in die akademie te wees! Hier kan van julle nou dalk van my verskil. Dit is geweldige harde werk om spasies te moet navigeer wat voorheen nie tot jou beskikking was nie. Hier praat ek nie nou van myself nie, want #BornFree. Alhoewel ek al so oud is soos ons land se demokrasie, is ek net een stap verwyderd van mense wat nie die tipe vryhede geniet het wat ek tans geniet nie. Dit is my plig om mense te verteenwoordig soos van my familielede en van die mense by wie ek onderrig ontvang het en wat nié hulle drome kon verwesenlik nie.

Alles in ag genome wakker die aanstelling van persone vanuit sogenaamde voorheen benadeelde groepe (oeg, mag ons dit nog sê? Gen Z? Ek luister by die draadloos [dis ’n radio, fyi]) verdere vrae rondom regstellende aksie, BBBEE en #representation aan.

Is daar nog plek in ons post-post-moderne tye vir regstellende aksie? Vir seker. Maar is die persone aan die stuur van die regstellende aksie die regte mense om daai calls te maak? Vir seker nie. En ek vee die geskiedkundige gebeure in Suid-Afrika wat ’n ekonomiese, maatskaplike en sosiale agterstand in 'n menigte swart en bruin mense se lewens meegebring het, glad nie van die tafel af nie. Maar as jy dit tot by ’n hoë posisie maak – don’t fuck it up.


Ma

Jy kry altyd so koud:
somers in en winters uit.
Verlangend, vér van jou Wellingtonse
suiker teen 'n trippens die pond.
Altyd het jy sente vir dadels omgedraai,
gespaar vir later, jou bekommer oor eendag.
Min geweet hoe ons amandels sou breek.
Nou verwarm ek jou in hierdie gedig,
in die amperherfs van my lewe
met 'n durende verlossing
uit dáárdie gedoemde Wellington.

- Joan Hambidge

Uit: Konfessies, kaarte en konterfeitsels

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.