Só teken jy in op Vrye Weekblad

VRY, MAAR AMPER NIE MEER GRATIS

Só teken jy in op Vrye Weekblad

Van Vrydag af is Vrye Weekblad se oorlewing in jóú hande, skryf MAX DU PREEZ, en dis nie eens duur nie. WILLEM KEMPEN hoop iemand kom tot Charl Kinnear se gesin se redding, en daar is soos gewoonlik ook sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 30 Januarie 2024
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die regering se voorneme om 2 500 MW se kernkrag by die land se netwerk te voeg, is Vrydag amptelik gemaak met 'n kennisgewing ingevolge die Wet op Elektrisiteitsregulering (ERA) wat in die Staatskoerant gepubliseer is. Daarvolgens sal Eskom die aankoper van die elektrisiteit wees, en die konstruksie van 'n (moontlike) aanleg sal deur die departement van minerale bronne en energie (DMRE) “bestuur" word.

2. Sithembiso Zungu, hoofsweep van die Johannesburgse metroraad, is gewond en twee ander ongeïdentifiseerde mense dood in 'n skietery gister by 'n Rand Water-geleentheid in Zakariyya Park. Volgens 'n polisiewoordvoerder het “verskeie verdagtes" die saal binnegekom en begin skiet voordat hulle weer gevlug het. Twee mense is op die toneel dood verklaar, terwyl drie ander met skietwonde hospitaal toe geneem is. Die motief was teen gisteraand nog onbekend.

3. Die DA het 'n uitdaging aan pres. Cyril Ramaphosa gerig om adj.pres. Paul Mashatile af te dank oor die reeks ernstige aantygings van korrupsie en onreëlmatige begunstiging wat blyk uit News24 se reeks Mashatile Unmasked-onthullings.

4. Die prokureurs van Noxolo Nqwazi, geskorste stadsbestuurder van die Nelson Mandelabaai-metroraad, sê die optrede teen haar is strydig met die dissiplinêre regulasies vir dié pos. Nqwazi is in Oktober verlede jaar geskors, maar het verlede Woensdag onverwags teruggekeer om haar werk te hervat. Haar skorsing is sedertdien met 90 dae verleng nadat nog bewerings teen haar opgeduik het.

5. Jacob Zuma is oplaas uit die ANC geskors, maar steeds nie summier uitgeskop nie, het die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gister aangekondig. Zuma se skorsing is onmiddellik van krag, maar hy mag (en sal waarskynlik) appelleer.

6. 'n Hof in Hongkong het opdrag gegee dat die skuldbelaaide eiendomsontwikkelaar China Evergrande Group gelikwideer word, wat die krisis in China se eiendomsektor verder sal laat verdiep. Evergrande se totale aanspreeklikheid beloop meer as $300 biljoen

7. Die VSA sal “all necessary actions" neem in reaksie op Sondag se hommeltuig-aanval deur Iran-gesteunde militante in Jordanië waarin drie Amerikaanse soldate dood en nog dosyne gewond is, het Lloyd Austin, Amerikaanse minister van verdediging, gister gesê. Dit was die eerste dodelike aanval op Amerikaanse magte in die Midde-Ooste sedert Hamas se aanval op Israel op 7 Oktober, en dui op 'n moontlike eskalasie van die konflik in die streek.


Die Weerdiens waarsku oor 'n hoë brandgevaar in dele van Limpopo, asook in die Noord- en Oos-Kaap. Buie en donderbuie word weer oor die grootste deel van die land verwag en dis warm tot uiters warm in Noordwes, die Vrystaat en die Kaapprovinsies.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 32°C • Johannesburg 28°C • Mahikeng 32°C • Mbombela 27°C • Bloemfontein 33°C • Polokwane 27°C • Kimberley 36°C • Upington 36°C • Kaapstad 26°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 25°C • Durban 29°C.


Willem Kempen | Wie is die volgende Frans Mathipa of Charl Kinnear?

Die ergste van die sluipmoord op die Kaapse bende-speurder lt.kol. Charl Kinnear op 18 September 2020 in die oprit van sy huis in Bishop Lavis is dat dit so voorspelbaar was. Kinnear het op invloedryke tone getrap, het voortdurend doodsdreigemente gekry en het duidelik onder sy eie kollegas ook gevaarlike vyande gehad.

'n Dag ná Kinnear se dood het Bheki Cele, die man wat vir duistere redes nog steeds die minister van polisie is, gesê: This officer was one of the good guys, but was taken away by ruthless criminals that were feeling the heat through his investigations… From the report I have received, this officer has been under threat for some time. He was provided with police protection but that was withdrawn at some point, now I want to know what informed that decision."

Nie net het geen koppe tot vandag toe daaroor gerol soos wat Cele belowe het nie, maar dit het nou pas wéér gebeur, met die vermoorde speurbaas se weduwee, Nicky Kinnear. Haar lyfwagte is teruggeroep net 'n dag voordat die saak teen die verdagtes in haar man se moordverhoor gister in Kaapstad begin het. Presies net soos sy twee weke gelede al voorspel het gaan gebeur.

Sy en haar twee seuns is duidelik in doodsgevaar, maar weer is daar geen grootkop in die polisie of in Cele se departement wat wil of kan ingryp voor dit te laat is nie.

Gaan die minister weer wag tot iemand klaar dood is voor hy sy volgende rits beloftes maak?


Max du Preez | Op julle merke, gereed, kliek!

Ná 16 maande se gratis lees, gaan Vrye Weekblad van komende Vrydag af agter 'n betaalmuur moet inskuif. Jy gaan net ons uitgawe van 2 Februarie volledig kan lees as jy ingeteken is.

Dit was 'n groot belegging wat ons tot nou toe gratis gehou het, maar nou moet ons dit begin verhaal.

Vrye Weekblad se langtermyn-oorlewing is nou in jou hande. 'n Klein bedraggie elke maand gaan beteken ons gaan gesond en lewenskragtig bly en net beter en beter word.

En ek bedoel klein. R75 vir vier uitgawes, dus R18,75 vir 'n hele naweek se leesgenot, bruikbare inligting en waardevolle idees en menings. (Dit is meer as die helfte minder as wat jy vir jou Sondagkoerant betaal.)

Maar ons spring weg met 'n baie spesiale aanbod: teken vir ses maande in en betaal net R275, dus R11,45 per uitgawe, amper R4 minder as vir 'n brood.

Soos ons laas week verduidelik het, wil Vrye Weekblad sy verbintenis tot 'n beter samelewing ook op 'n praktiese vlak dien, en gaan ons jou vra of jy bereid is om R5 per maand ekstra te betaal wat ons dan aan Ladles of Love en Gift of the Givers gee vir noodleniging aan behoeftiges of om honger en ondervoede kinders kos te gee.

As jy ja sê vir die R5, betaal jy dus R80 per maand. Die R5 is reeds ingereken in die spesiale aanbod van R275 vir ses maande.

En dan is daar ons Staatmakers, lesers wat al aangedui het hulle wil graag meer as die minimum bedrag betaal om ons gesonde oorlewing te verseker. Staatmakers kry 'n hele paar byvoordele:

  • Hulle kan kies of hulle 5 artikels per maand wil stuur aan vriende en kennisse wat nie intekenare is nie; en of hulle iemand wil borg wat nie kan bekostig om in te teken nie.
  • Staatmakers word deel van 'n WhatsApp-groep en kry elke week 'n vars video van my en kollega Anneliese Burgess, plus ander binne-inligting en insae.
  • Staatmakers kan al ons boeke- en ander feeste gratis bywoon.
  • Staatmakers kry 'n wapentjie langs hulle name wat hulle status reflekteer as hulle in ons kommentaarseksie kommentaar lewer.
  • Staatmakers word uitgenooi om ons via die WhatsApp-groep te laat weet watter soort artikels of onderhoude hulle graag sou wou sien.

Die Staatmaker-tarief is R180 per maand, wat die maandelikse R5 vir honger kinders insluit.

En, les bes, as jy regtig nie R75 per maand kan bekostig nie, maar tóg elke week wil lees wat ons aanbied, vra ons jou om 'n boodskap aan Theuns Venter by theuns@vryeweekblad.com te stuur. Ons sal dit hoogs vertroulik hanteer en sal jou via die Staatmakers se bydraes borg.

'n Laaste woord aan my vriende wat dit breër het as die meeste van ons: julle kan gerus vir 'n jaar lank inteken vir R960, of R2 160 in die geval van Staatmakers.

Ja, jy kan per EFT betaal as jy nie jou kredietkaart of debietorder wil gebruik nie.

Dit is baie maklik en eenvoudig om in te teken, maar as jy enige vrae het of êrens in die proses vasbrand, WhatsApp vir Theuns by 071 170 8927 of stuur 'n e-pos na theuns@vryeweekblad.com. Theuns is 'n gawe en geduldige man, hy sal graag help.

Daar gaat ons. Is jy in?

Kliek hier om in te teken.


bure

die bure word al hoe meer
kom al hoe nader
raak al hoe luidrugtiger
in al hoe vreemder tale
gedra hulle al slegter
gluur al brutaler

na waar ons blaamloos
kristalwynglas in die hand
sit op ons werf

nou hoe't ons dan gedink

– Corné Coetzee

Uit: nou hier

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.