SA sal boet vir steun aan Putin

MAANDAG MET MAX

SA sal boet vir steun aan Putin

Die ANC versmaai die krediet wat Suid-Afrika met die Israel-hofsaak verdien het deur sy steun vir Vladimir Putin, skryf MAX DU PREEZ. Eerwaarde Max predik ook oor die liefde, en soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

Goeiedag!

1. Vandag is die spertyd wat die konstitusionele hof aan die ANC gestel het om al die rekords van dié party se kaderontplooiingskomitee aan die DA te oorhandig. Die DA het 'n ANC-versoek om uitstel geweier en het nou aangedui dat hulle die hof sal versoek om die ANC-leierskorps weens minagting van die hof skuldig te bevind as hulle nie die spertyd respekteer nie.

2. Die aantal Palestyne wat in Gaza dood is, het die naweek die vlak van 29 000 verbygesteek. Sowat 69 000 mense is gewond of beseer en 7 000 word vermis en is waarskynlik onder die puin begrawe. Minstens 13 000 van die dooies is kinders.

3. Akademici en alumni van die Universteit  Stellenbosch het in 'n kort tyd meer as R70 000 plus kos en komberse ingesamel vir studente wat by hulle aankoms by die universiteit ingelig is dat hulle nie blyplek het nie en nie kan registreer nie.

4. Terwyl pres. Cyril Ramaphosa nog “soek na 'n pen” om die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering te onderteken, is die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging en meer as een maatskappy in die gesondheidbedryf besig om hofstukke voor te berei om die instelling van die stelsel te keer.

5. Die sakeman en ontleder Moeletsi Mbeki, broer van Thabo, het in 'n onderhoud met Chris Makhaye van Daily Maverick die vyf “doodsondes” van die ANC uitgespel as: “adopting Broad-Based Black Economic Empowerment (BBBEE) as a government policy; growing the black middle class through affirmative action as an employment policy in the public service and state; retaining inherited state-owned enterprises instead of privatising them; foreign policy failures in Zimbabwe and Mozambique; and removing the military’s control of South Africa’s land borders.”

6. 'n Vrou wat saam met die oud-Springbokafrigter, Peter de Villiers, vir die Good-party gewerk het, het in 'n onderhoud met Rapport vertel dat hy haar teen haar sin hardhandig op 'n bed neergegooi het en wou soen. Hy het glo tevore aan haar gesê: “Oe, as ek saam met jou praat dan dink ek net aan seks.” Good het De Villiers vroeër van alle partybedrywighede geskors. Die vrou het 'n strafregtelike klagte gelê en die saak word nou deur die polisie ondersoek.

7. Alexei Navalny, wat Vrydag in 'n Russiese tronk in die noorde van die land dood is, se ma, Lyudmila, sê op Facebook toe sy haar seun laas op 12 Februarie gesien het, was hy “lewendig, gesond en gelukkig”. Haar versoek dat sy lyk aan haar oorhandig word, is deur die owerhede geweier. Volgens die gevangenisowerheid het hy Vrydagoggend tydens 'n kort stappie ineengestort. Russia Today beweer sy dood is aan 'n bloedklont te wyte. Navalny is in Desember 2020 in Rusland met 'n senumiddel, Novichok, vergiftig, maar het ná mediese behandeling in Duitsland die jaar daarop na Rusland teruggekeer, waar hy dadelik in hegtenis geneem is.


Daar is 'n waarskuwing vir toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou vir dele van Noordwes, die Vrystaat en die Noord- en Wes-Kaap. Die hittegolf duur ook voort oor die bogenoemde provinsies, uitsluitend die Wes-Kaap. Groot dele van die binneland, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap is vandag deels bewolk tot bewolk, met moontlike buie en donderbuie.

Kliek hier vir meer inligting.

Maksimum temperature: Pretoria 32°C • Johannesburg 29°C • Mahikeng 34°C • Mbombela 28°C • Kaapstad 36°C • Durban 26°C • Kimberley 39°C • Bloemfontein 36°C • Polokwane 29°C • Upington 41°C • Gqeberha 27°C • Oos-Londen 26°C.


Max du Preez | Fixfokol Mbalula en kie soen Putin se voete

Die ANC is vinnig besig om al die krediet wat Suid-Afrika internasionaal vir sy saak teen Israel in die Wêreldhof verdien het, te versmaai.

Dié saak was op die beginsel van die gelyke waarde van die menslike lewe, álle menslike lewens, geskoei. Dit het 'n paar Westerse moondhede geïrriteer dat Suid-Afrika die saak aangevoer het, maar almal gee stilletjies toe dat dit geregverdig was en dat dit Suid-Afrika se posisie as voorstander van 'n multipolêre internasionale bestel versterk het.

Baie kritici, ek inkluis, het toe wel op die regering se dubbele standaarde gewys: Julle kap Israel se oorlog in Gaza, maar nie Rusland s’n in Oekraïne nie. En daarop het die regering, deels met reg, daarop gewys dat Pretoria darem reg van die begin af Rusland se oorlog in Oekraïne as 'n verbreking van die internasionale reg beskryf het – net baie saggies. En wat in Oekraïne gebeur is dalk verkeerd, maar dit is nie volksmoord nie.

Maar nou het die regerende party in Suid-Afrika 'n afvaardiging met sy sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, en lede van die kabinet Moskou toe gestuur om die “Forum of Supporters of the Struggle Against Modern Practices of Neocolonialism – For the Freedom of Nations” by te woon. Dit is deur Vladimir Putin se party, Verenigde Rusland, gereël.

Die teksboek-definisie van moderne kolonialisme is waar 'n magtiger staat 'n minder magtige een domineer, aan sy wil onderwerp en/of beset.

Dit is presies die beskrywing van Rusland se optrede in Oekraïne, 'n soewereine staat, 'n VN-lidland en 'n demokrasie.

Net Putin-napraters glo in sy fiksie dat Oekraïne eintlik nie regtig 'n soewereine staat en nasie is nie, dat dit eintlik nog altyd aan Rusland behoort het.

Mbalula en kie was nog in Moskou toe bekend gemaak is dat 'n voorste opposisieleier, Alexei Navalny, in 'n strafkamp in die noorde dood is. Hy was maar 47 en die hele wêreld het hom die vorige dag op televisie gesien waar hy, duidelik blakend gesond, grappies in die hof gemaak het.

Dit is nie Westerse propaganda dat Putin sy teenstanders laat vermoor nie. Dit is 'n saak van openbare rekord en daar is 'n lang lys van sulke mense.

Die jongste, voor Navalny, was Yevgeny Prigozhin, militêre leier wat Putin se gesag in Junie verlede jaar uitgedaag het. Mense het wêreldwys gegis oor hoe lank hy sou oorleef en gou die antwoord gekry: twee maande. Prigozhin se vliegtuig is in Augustus verlede jaar in Rusland afgeskiet.

Gister is berig dat sowat 500 mense wat teen die vermeende moord op Navalny geprotesteer het, reeds in hegtenis geneem is.

Onder Putin het Rusland 'n outoritêre, fascistiese diktatuur geword.

Die redakteur van City Press, Mondli Makhanya, het gister geskryf: “Among those willing to trade their souls for caviar and vodka is the ANC. Once an organisation led by cerebral men and women, and populated by a membership that could think and comprehend, it is now as excitable as children on a trampoline.”

Makhanya sê die hoofstroom van die ANC klou steeds vas aan die Koue Oorlog-dictum dat jy óf vir die Weste óf vir die Ooste is. “The West, where Mbalula buys bright yellow jumpsuits and his other circus-clown attire, is bad. The East – namely China and Russia – is the future. In the process, they are merely exchanging one set of masters for another. At the opposite end there are those that are adopting the same Cold War posture and prostrating themselves before Western nations.

“Powerful nations will always strive to make poorer nations fall in step with their own interests. In today’s tense geopolitical set-up, the stakes are so much higher. It is up to individual countries to have the smarts to protect and advance their own interests.

“By cravenly embracing a chauvinistic Russia and buying its anti-colonialism narrative just because we want to somehow express our sovereignty, we are actually doing the same thing that client states of the US are doing.”

As Suid-Afrika se geldelike weldoeners in die Weste ons wel gaan straf, gaan dit nie primêr weens die volksmoordsaak wees nie, maar weens die ANC se steun vir 'n moorddadige, imperialistiese Vladimir Putin.

Intussen het die kantoor van die minister van internasionale betrekkinge, Naledi Pandor, bevestig dat sy volgende maand 'n afvaardiging na Washington gaan lei om teen die nuwe sterk anti-Suid-Afrikaanse sentiment in die Amerikaanse kongres wal te gooi.


Die grootste hiervan is die liefde

Hier is 'n transkripsie van vanoggend se diens deur eerw. Max, leraar van die Kerk van die Afvalliges, Dwarstrekkers en Randeiers, ook bekend as die Kaderkerk:

Goeiemôre geliefde broers en susters.

Die mees treffende vers in die Bybel is 1 Korintiërs 13:13. As ons almal dit werklik ter harte neem, sal die wêreld 'n veel beter plek wees: “En nou bly geloofhoopliefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”

Dit is 'n teks wat eintlik in alle gelowe se heilige boeke hoort; die Torah en Talmoed, die Koran, die Hindoes se Veda-boeke, die Boeddhiste se Tipitaka, die Sikhs se Guru Granth Sahib, die Zoroastrianiste se Avesta.

Geloof. In die oorspronklike Grieks is “geloof” πίστη, of pisti. 'n Gelowige is 'n πιστός, pistos.

Dit sê natuurlik absoluut niks vir ons nie, maar ek het by ander dominees en teoloë geleer dat dit die indruk van gravitas skep as jy die Griekse of Hebreeuse wortel van 'n woord aanhaal. Dit help die pistos om te dink die prediker weet waarvan hy praat.

Ek het ook gevoel die Grieks het 'n plek hier, want die woorde van ons diens vanoggend kom uit die apostel Paulus se brief aan die Korintiërs, 'n spul donnerse Grieke in 'n stad van erge sonde.

(Terloops, hier by die Kaderkerk is dit aanvaarbaar vir geestelike leiers om vryelik van Google gebruik te maak, selfs van ChatGPT. Ons is nie dogmaties nie.)

Ons moet die pisti behou, sê Paulus aan die Korintiërs.

Hiermee sê hy meer as wat 'n mens dink; hy bedoel meer as net blinde geloof in die goddelikheid wat jy aanhang.

Paulus bedoel ons moet méér probeer wees as net mense wat werk toe gaan, huis toe kom om televisie te kyk, te eet en te slaap. Daar is meer aan die lewe as rekeninge betaal, jou teleurstelling in jou kinders, die Bulls wat maar net nie op dreef kan kom nie en die feit dat jy te oud is of te min geld het om Nieu-Seeland toe te emigreer.

Paulus wil eintlik sê ons moet altyd bedag wees op ons πνευματικότητα, ons pnevmatikótita. Ons spiritualiteit.

In die praktyk beteken dit jy mag maar Huisgenoot lees, solank jy Vrydae en naweke ook Vrye Weekblad lees. Dit is geen sonde om Deon Meyer aan te hang nie, maar jy moet darem ook 'n Antjie Krog in jou boekrak hê.

Vir elke tien episodes van die Real Housewives of Pretoria moet jy na minstens een Netflix-dokumentêr kyk.

Jy mag maar na Kurt Darren luister, maar sit so een maal 'n maand Mozart se “Elvira Madigan” of Schubert se “Death and the Maiden” op jou Spotify. Of die Baardskeersbos Orkes.

Black Label en Klipdrift kan jou geestesingesteldheid momenteel verbeter, maar dit is goed vir die siel vir om so nou en dan aan 'n bottel Rust en Vrede cabernet sauvignon te teug  – of ten minste bo-op jou drankkas in die sitkamer te sit sodat jou vriende dit kan raaksien.

Tweede is Hoop, Ελπίζω, Elpízo. In Sotho: Tshepo. Ithemba in Zoeloe. Nadeyat'sya in Russies (soos in: ek hoop nie Vladimir gaan my ná my laaste Facebook-inskrywing laat vermoor nie).

Ek vind swartgalligheid baie verlammend. Dit bring 'n groot moegheid na die gebeente. Dit maak jou aura sommer pikswart.

In Suid-Afrika het die swartgalliges ook heilige geskrifte: die kommentaarseksie onderaan Netwerk24, Maroela en Politicsweb se artikels, en Facebook.

As genetiese Calvinis glo ek dit is goed om jouself so nou en dan te pynig, vir suiweringsdoeleindes. Ek doen dit deur so nou en dan te lees wat dié basket of deplorables daar kwytraak. Dit ondermyn skoon my pnevmatikótita.

Daar is net mooi niks wat dié lot hoop gee nie. Ons is maar net in ons moer hier aan die suidpunt, veral ons blekes. Almal haat ons. Life is short and then you die. Niks wat enigiemand links van die Bittereinders sê of doen, hou enige goed in nie. (Behalwe Helen Zille.)

Ek onthou die storietjie uit my Kinderkransdae van die dooie hond wat langs die straat gelê en stink het. Verbygangers het hulle neuse opgetrek, draaie om die karkas geloop en sies! gesê. En toe stap Jesus van Nasaret verby, staan stil en sê: “Kyk hoe pragtig pêrelwit is die liewe brakkie se tande.”

#WhatWouldJesusDo

Ja, beurtkrag, slaggate, die lang toue by binnelandse sake, die konstante gestelery van die ANC se fat cats en die stront wat Julius Malema en Fikile Mbalula gedurig kwytraak, kan 'n mens se gemoedstemming negatief beïnvloed.

Maar dan kan jy met jou hond in die park gaan stap en na die voëltjies luister, of jy kan 'n paar skaaptjops uit die Karoo op die vuur sit, of jou verwonder aan jou vrou of man se mooi glimlag.

Jy kan na die mense van Suid-Afrika kyk – nié na hulle politieke leiers nie – en lekker voel dat jy so geseënd is om deel van dié energieke basternasie te wees.

As Cyril Ramaphosa se lamsakkigheid en dubbelpraatjies jou moedeloos maak, dink daaraan dat die Amerikaners aan die einde van die jaar weer vir Donald Trump as president gaan hê.

Daar is áltyd hoop. (Ok, dalk nie as jy vandag in Gaza woon nie.)

En dan is daar Liefde, die grootste van die drie. Αγάπη, of agápi. Uthando in Xhosa. In Mandaryns: 爱, of Ài. (In China hoef jy nie te sê ai, bokkie, ek is lief vir jou nie, jy sê net Ai, en sy sal verstaan.)

My probleem met die Bybelse opdrag dat jy jou naaste so lief moet hê soos jouself, is dat die meeste mense nie juis lief is vir hulleself nie. Dís die mense wat sukkel om ander lief te hê, of selfs te verdra.

Haat en onverdraagsaamheid – boosheid – is die afwesigheid van liefde.

Die toets vir liefde is as jy 'n hardegat Sionistiese Israeli is en jy kan 'n Palestyn se waarde as mens dieselfde as joune skat, en dieselfde vir 'n onderdrukte Palestyn wat na sulke Israeli’s kyk.

Jy kan haat wat hulle aan jou doen of wil doen, of dit waarvoor hulle staan, maar as jy hulle as mense haat, is jou pisti en jou elpizo, jou hele pnevmatikótita in hulle moer (Grieks vir in sy moer: καταστράφηκε από, katastráfike apó).

Liefde is meer as net verdraagsaamheid, dit is aanvaarding van verskille, dit is omgee vir die skepsels hier op aarde. En “liefde vir geld” tel nie as liefde nie.

Gaan dan heen, broeders en susters, en glo, hoop en wees lief. Dit sal van jou ’n veel gelukkiger mens maak.

Gemeente, as die orreliste gereed is, kom ons sing nou saam uit Lied 12 van die Kaderkerk se sangbundel, geskryf deur pastoor John Lennon.

Imagine there's no heaven

It's easy if you try

No hell below us

Above us, only sky

Imagine all the people

Livin' for today

Imagine there's no countries

It isn't hard to do

Nothing to kill or die for

And no religion, too

Imagine all the people

Livin' life in peace

You may say I'm a dreamer

But I'm not the only one

I hope someday you'll join us

And the world will be as one

Imagine no possessions

I wonder if you can

No need for greed or hunger

A brotherhood of man

Imagine all the people

Sharing all the world

You may say I'm a dreamer

But I'm not the only one

I hope someday you'll join us

And the world will live as one

 

Khotso!

Eerw. Max


Testament

(Lees saam met Soldier’s Things van Tom Waits)

Bokse, koeverte, albums, leggers –
op jou instruksies hier laat aflaai.
Maak oop, pak uit, sorteer.
Ons wat met 'n lewe se skrapnel
honger waters bootsmanloos navigeer
(ekskuseer die rym en melodrama, vriend).

Jy’s twee of drie op die strand,
Violet of Anna hou dop,
jou in die een oog,
in die ander die see.
Skoolrapporte. Beste vordering, selde afwesig.
Ja, sure. In liggaam. Anders in gees.
Nou afwesig, vir altyd, vir goed.
Jikwit tennisspan, jy voor in die middel,
septer 'n raket.
Tweede rugbyspan, melkbaarde hou aan balle vas.
Pro Patria-medalje, ongebeitsde stewels, baret,
pelotonfoto in Langa of Khayelitsha,
skote uit Ondangwa, pips, boshoed.
Ou identiteitsboek, nommer wat uitmond in 00 0,
staatsdiensgroen, pienk stempel, dié oorblufte portret
het in die 92-referendum gestem.
Varsitydas. Koshuispet.
T-hemp met the doors of culture and learning
wat somewhere over the rainbow sou oopgrendel.
Gradeplegtigheid in Bat Man-mondering.
Sjampanjeprop, spyskaart van een of ander dinee,
draft vir 'n liefdesbrief, dalk 'n poging tot liriek of gedig.
Verseëlde maar verstreke government issue kondoom.
Vriende, óns, Marius, dis óns en jy
wat vir Vic Falls se sproei so lag,
oë wat op wha’ever by Voëlvry wag.

Dít alles, Marius, het jy vir ons nagelaat
en instruksies om dit ter aarde te bestel
by hierdie genommerde erf langs ander Van Wyks,
brandwagsipresse buite Wellington, Wes-Kaap, Afrika.
Wat de fok moet ons beitel in graniet,
“Hier rust Marius van Wyk niet”?
Anyway, jou testament beweer
jy’t vooruit vir die gat betaal.

Iemand laat uit Brisbane weet
die ooswind het jou as kom haal.

– Andries Bezuidenhout

Van: Versindaba

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.