SAL-transaksie val plat; massa-ontvoering in Nigerië

DONDERDAG MET MERCY

SAL-transaksie val plat; massa-ontvoering in Nigerië

MERCY KANNEMEYER skop vas teen R5 000 se omkoopgeld vir haar rybewys. WILLEM KEMPEN sal nie verbaas wees as leefstyl-oudits vir ministers wéér vertraag word nie, en daar is soos gewoonlik sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 14 Maart 2024
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Gewapende mans wat verlede week 286 studente en personeellede van 'n skool in die noorde van Nigerië ontvoer het, eis 'n totaal van 1 biljoen naira (sowat R12 miljoen) vir hulle vrylating, het 'n woordvoerder vir die families van die gyselaars en 'n plaaslike raadslid aan Reuters gesê. Dis die eerste massa-ontvoering in die land sedert 2021.

2. Die verkoop van 51% van die SAL aan die Takatso-konsortium is van die baan, het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gister ná 'n kabinetsvergadering aangekondig. “Weens verskeie faktore het ons by die punt gekom waar daardie onderhandelinge nie meer sal voortgaan nie," het hy gesê.

3. 'n Uitgebreide ondersoek na die privaat hospitaalgroep Mediclinic deur die regsfirma ENSafrica en Discovery Health het bevind daar was geen opsetlike manipulasie van fakturering of kodering op hospitaal- of groepvlak by sy filiaal in Suider-Afrika nie, het Business Day berig. Mediclinic word deur die JSE-genoteerde Remgro besit en het hospitale in Suider-Afrika, Switserland en die Midde-Ooste.

4. Rand Water ondersoek waarom 'n enkele klep (ook bekend as 'n kraan), waardeur water aan meer as 20 Johannesburgse woonbuurte verskaf word, toe was tydens die onderbreking wat duisende inwoners vir minstens 11 dae hoog en droog gelaat het.

5. Die Gautengse hooggeregshof in Pretoria het die polisie beveel om bewys te lewer dat die meer as 50 000 vuurwapens wat tydens amnestietydperke aan hulle oorhandig is of gekonfiskeer is, eers getoets is dat dit nie met enige misdaad verbind kan word voordat dit vernietig is nie.

6. Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers het met 'n oorweldigende meerderheid 'n wetsontwerp goedgekeur wat TikTok se Chinese eienaar ByteDance ongeveer ses maande gee om dié bate in die VSA te verkoop, of die gevaar te loop om verbied te word om verder daar sake te doen. TikTok het ongeveer 170 miljoen Amerikaanse gebruikers. Dis onseker of die wetsontwerp ook deur die Senaat goedgekeur gaan word.

7. Die groeiende breuk tussen Joe Biden en Benjamin Netanyahu oor die oorlog in Gaza kan beteken dat die VSA militêre hulp aan Israel beperk as die grondoffensief in die suide van die enklawe soos tans voortgaan, het Reuters berig.


Daar is weer 'n waarskuwing oor swaar donderbuie met moontlike hael oor dele van Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal, asook 'n uiters hoë brandgevaar oor dele van Noordwes en die Vrystaat. Die binneland is steeds baie warm, hoewel buie en donderbuie in die meeste dele verwag word, ook in die Oos-Kaap. Dit is deels bewolk en baie warm in die Wes-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 34°C • Johannesburg 32°C • Mahikeng 36°C • Mbombela 29°C • Kaapstad 25°C • Durban 22°C • Kimberley 31°C • Bloemfontein 29°C • Polokwane 29°C • Upington 32°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 23°C.


Willem Kempen | Nuwe Hoop, vol. 349

Die belofte van leefstyl-oudits van sy ministers was in 2018 se staatsrede een van die tekens dat Cyril Ramaphosa ernstig was oor die “New Dawn", die nuwe begin ná die strooptog onder Jacob Zuma. 'n Nuwe ANC, 'n nuwe regering en 'n nuwe president.

Ses jaar later, noudat Zuma besig is met 'n nuwe begin van sy eie en Ramaphosa se son begin water trek, lyk dit of daardie oudits uiteindelik gedoen gaan word. Dis nou as daar nie vir die soveelste keer 'n tegniese, burokratiese of wetlike vertraging opduik nie. 

Maar ja, dalk is dit nog nie te laat om hier en daar 'n minister te identifiseer wat korrup is nie, en dalk sou van die voriges sonder sulke oudits in elk geval uitgevang gewees het. Dit gaan veral interessant wees om te sien wat die implikasies van 'n leefstyl-oudit op adj.pres. Paul Mashatile en sy vriendskappe met tenderpreneurs uit die staatskaping-era, soos Edwin Sodi, gaan wees. 

Of gaan dit alles eers ná die verkiesing gebeur?


Image: ANGELA TUCK

Korrupsie, die movie (op repeat)

’n Mens weet korrupsie en onderduimshede is oral rondom ons hier in South Africa Our Land. Sodra dit jou vierkantig in die gesig tref, slaan dit dieper en word die werklikhede van hoe diep ons in Kakstraat is ’n tasbare realiteit.

Dinsdagoggend vroeg is ek na ’n lisensiërings- en leerlingtoetsdepartement in ’n vooraanstaande woonbuurt in Johannesburg. Senuweeagtig alreeds, want ek is nie die grootste aanhanger van enige regeringsplek of amptelike instansie waar ’n mens met die owerhede te make het nie. En nog verder senuweeagtig, want om in Gauteng te leer bestuur en dan die toets te moet slaag is ’n ekstreme sport op sy eie. Dis slaggate so groot soos swembaddens, dis taxi’s wat bestuur asof daar geen ander karre op die pad is behalwe hulle nie, dis mense wat oor die strate stap soos bokke sonder ’n diere-aanjaer, o, en laat ons nou net nie vergeet van al die verkeersligte wat nie werk nie. (Johannesburg, ek is jammer, baie lief vir jou, maar ons moet eerlik wees oor onsself, dis al manier wat ons gaan groei). So. Ekstreme sport.

Julle. Sal die mense by die liksenskantoor my nie vra vir ’n R5 000 nie?! R5 000 dan kry ek my papiere sonder dat ek selfs in die kar hoef te klim om die bestuurstoets te doen. Hier is hoe die gesprek verloop het. Lees die volgende met jou teaterstem.

Karakters:

Mercy

Persoon A – persoon agter die toonbank

Persoon B – ander persoon agter die toonbank

Persoon C – ander ander persoon agter dieselfde toonbank.

Mercy kom vinnig-vinnig ingetrippel. (Sy is vyf minute laat, want haar Uber op pad na die liksenskantoor het die vreemdste draaie gemaak).

Mercy: Good morning, how are you?

Persoon A: Good. What are you here for?

Mercy: My licence.

Persoon A verdwyn. Mercy staan stil by toonbank. Hier kom Persoon B.

Persoon B: You’re late.

Mercy: I am so so sorry about that. My Uber did verdwaal.

Persoon B: So what must we do now?

Mercy: What do you mean?

Persoon B verdwyn. Persoon A kom terug met ’n vorm. Persoon A kom staan ongemaklik naby aan Mercy.

Persoon A: Fill this in, it’s R5 000.

Mercy lag kliphard. Hierdie is duidelik ’n grap. Persoon A kyk vir Mercy aan sonder om te lag.

Mercy: Sorry?

Persoon A: R5 000 then you get the papers. No need to get in the car.

Mercy is domverstom.

Mercy: I am sorry, but no. I can’t do that.

Persoon A stap weg. Hier kom Persoon C.

Persoon C: Ma’am, what seems to be the issue?

Nou kyk, leser, op dié stadium veroorsaak die skok en die verstommendheid van die situasie dat my Engels opdroog. Ek verduidelik toe maar nou ewe lomp vir Persoon C wat die geval is, en hulle gee nie een 'n direkte antwoord nie. Nie een van die fokkers agter die toonbank kon vir my sê hoekom hulle doen wat hulle doen nie. Ek het probeer om hulle name te kry. Onsuksesvol.

Ek gaan buitentoe en sien ’n wetstoepassingsvoertuig. Probeer vir hulle verduidelik wat gebeur het, hulle gee nie om nie. Sien ’n sekuriteitsman en probeer met hom gesels, hy sê vir my “Ma’am I cannot guarantee your safety.” Was dit ’n dreigement?!

Hoe is meer as 10 mense by een liksensdepartement so kop-in-een-mus dat oop-en-blote korrupsie soos in hierdie geval toegelaat word om te seëvier???!!! R5 000 tussen tien mense is R500 elk, maar dan moet ons nou die ongenaakbare realiteit in gedagte hou dat daar per dag seker iets soos 20 mense is wat R5 000 betaal. ’n Hele aantal van my Uber-drywers wat veral immigrante in Suid-Afrika is, het al vir my vertel hoe hulle hul liksense gekoop het.

As jy weier om te betaal, druip jy net elke keer die toets. Al ry jy so goed soos Lewis Hamilton, as jy nie opdok nie sal jy nie ophou dop nie. Die waarheid skuil openlik. In die lig. Hierdie mense gaan aan die pen ry. Geduld.


Vuursalamander

die vuursalamander is water en asem
hy soek 'n gaatjie in verrotte hout
kielie die grond met sy aspersielyf
hy trek die swaelreuk in sy lawalonge in
eiers van reuse-pouoogmotte bot
in die kompos kraak dooie duisendpote
gooi jy die stomp op die vuur verskyn
hy soos 'n verdwaasde lampgees
die klein draak skarrel na die skadu
sluk sy stert in voetjie vir voetjie

- Fourie Botha

Uit: Donkerkamer 

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.