Solank jou spindokters die hel uit énige spektakel kan melk

MAANDAG MET MAX

Solank jou spindokters die hel uit énige spektakel kan melk

Ná die terreuraanval by 'n rock-konsert in Rusland meen ALI VAN WYK solank jou spindokters hulle storie reg het, maak dit nie saak wie die booswigte is nie. MAX DU PREEZ vertel hoekom hy in Suid-Afrika wil doodgaan. En dan is daar weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 25 Maart 2024
  • Daagliks
  • 5 min om te lees

Goeiedag!

1. Die Nigeriese weermag het gister talle van die studente en personeellede bevry wat vroeër vandeesmaand deur gewapende mans by 'n skool in die land se noorde ontvoer is, het Reuters berig. Die spertyd vir die betaling van 'n losprys sou glo binne dae verstryk het. 'n Woordvoerder het gesê 137 gyselaars is in die vroeë oggendure in die deelstaat Zamfara gered nadat hulle op 7 Maart in die dorpie Kuriga in die noordwestelike deelstaat Kaduna ontvoer is.

2. Pres. Cyril Ramaphosa het by 'n ANC-saamtrek in Gqeberha gesê “baie word gedoen” om die oplewing in geweldsmisdaad in Nelson Mandelabaai te beveg. 'n Mexikaanse owerheid het Gqeberha onlangs as Suid-Afrika se gevaarlikste stad aangewys, en Ramaphosa het in antwoord op 'n vraag hieroor volgens News24 gesê: “We now need to descend to the metro level to ensure that our people feel safe. Young people, women, and all South Africans need to feel safe in their environments where they are, but a lot is being done."

3. Die kabinet gaan Woensdag 'n verslag bespreek oor die groot getal ministers wat nie betyds antwoord op vrae wat in die parlement aan hulle gevra word nie, het Netwerk24 berig. Bheki Cele is glo die grootste sondaar, met minstens 16 onbeantwoorde vrae.

4. Die Suid-Afrikaner Brad Binder (Red Bull KTM) het gister 'n vierde plek in die Portugese MotoGP behaal ten spyte daarvan dat hy in die tiende plek weggespring het. Dit beteken Binder is nou in die tweede plek op die kampioenskapsranglys.

5. Die polisie se blitspatrollie het Sondagoggend 'n beplande rooftog op 'n koeriervoertuig in Sandton gefnuik nadat 'n wenk ontvang is. Ses verdagtes is in hegtenis geneem en beslag is op verskeie vuurwapens asook ammunisie gelê.

6. Simon Harris (37) gaan waarskynlik Ierland se volgende premier word nadat hy gister onbestrede verkies is om Leo Varadkar as leier van die regerende Fine Gael-party op te volg. Harris sal nou na verwagting op 9 April met die volgende parlementsitting Ierland se jongste premier tot nog toe word danksy die steun van Fine Gael se koalisievennote.

7. ’n Sweedse appèlhof het beslis dat ’n meteoriet van sowat 14 kg behoort aan die eienaar van die eiendom waar dit geval het. Die meteoriet is aanvanklik deur twee geoloë gevind en aan die Sweedse museum van natuurgeskiedenis geskenk, maar moet nou aan die grondeienaar teruggegee word, het AP berig.


Daar is 'n waarskuwing vir swaar reën met moontlike vloede in dele van Mpumalanga. Limpopo en KwaZulu-Natal. Die res van die land kan ook buie en donderbuie deur die loop van die dag verwag. Dis ook vandag meestal koel.

Kliek hier vir meer inligting.

Maksimum temperature: Pretoria 26°C • Johannesburg 24°C • Mahikeng 27°C • Mbombela 22°C • Kaapstad 24°C • Durban 27°C • Kimberley 31°C • Bloemfontein 30°C • Polokwane 25°C • Upington 34°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 29°C.


Ali van Wyk | Moet nooit ’n goeie krisis verlore laat gaan nie

Soms verlang mens terug na ’n wêreld waarin die slegte ouens die bomme geplant het, die gewone ouens hulle inligting oor ’n terreuraanval ’n halwe dag later in ’n koerant of deur televisie-nuus gekry het, en die goeie ouens die slegte ouens heel voorspelbaar ná ’n paar weke aangekeer het.

’n Asembenemende 143 mense sterf Vrydagaand in ’n brutale aanval op weerlose konsertgangers deur 11 terroriste met outomatiese wapens in die Crocus-stadsaal in Moskou. Die Sowjetera-rockgroep Piknik sou optree en die hoogtepunt sou hulle treffer “Afraid of Nothing" wees.

Binne minute ná die aanval, lank voor enige sogenaamde legacy media- nuuskantoor die feite oor die aanval netjies kon verpak en die wêreld instuur, spat selfoonvideo's oor die voorval soos water uit ’n gebarste hoëdrukpyp regoor die wêreld en sosiale medianetwerke sing soos plaastelefoonlyne soos wat bespiegel word.

’n Vertakking van Isis in die Khorosan-provinsie in Afganistan neem verantwoordelikheid, maar dit word skepties ontvang omdat Rusland genoeg vyande het om uit verskeie oorde aangeval te word. Ook omdat Isis opportunisties genoeg en kapabel is om verantwoordelikheid vir enige terreuraanval te aanvaar.

Die Kremlin wys byna dadelik die vinger na Oekraïne. Oekraïense kommentators op netwerke soos X laat nie op hulle wag nie en beskuldig Vladimir Putin heel voorspelbaar daarvan dat sy bloedhonde self die slagting georkestreer het … wel, om Oekraïne te kan blameer.

En Amerika laat ook nie toe dat die energie wat deur ’n goeie krisis opgewek word, in die dun lug verdamp nie. Die woordvoerder van die Amerikaanse nasionale veiligheidsraad, Adrienne Watson, sê in ’n verklaring dat Amerika en verskeie ander Westerse lande hulle eie burgers in Moskou én die Russe reeds op 8 Maart gewaarsku het dat hulle ’n slagting deur ekstreme magte by ’n konsert te wagte kan wees.

Putin het die Amerikaners se waarskuwing voor die aanval as “blatante afpersing en pogings om die gemeenskap te destabiliseer” beskryf. Nietemin het Putin ná die aanval ontken dat die Russe enige waarskuwing van Amerika ontvang het.

Dit wil voorkom of dit nie meer regtig saak maak wie die booswigte is wat die bomme plant nie. Al wat saak maak is dat jou spindokters reg staan om die hel uit énige spektakel te melk.


Gly-of-bly: dís hoekom ek hiér wil oud word

“Ons is klaar met Suid-Afrika. Hier is vir ons kinders geen toekoms meer nie. Ons gaan die pad vat.”

Dit is die onverwagse boodskap wat ek gister van 'n nabye familielid kry. Hy is 'n empatiese en mededeelsame mens en 'n goeie landsburger, nie 'n rassis of reaksionêr nie. En hy is 'n knap entrepreneur.

En daar spook die ou-ou draaiboek van gly-of-bly weer in my gedagtes. Is die suidpunt van Afrika 'n plek vir blekes soos ek, mense van meestal Europese herkoms? Ek is lief vir my land, maar is my land nog lief vir my? En: is Suid-Afrika onafwendbaar op die afdraandepad na 'n mislukte staat en raskonflik?

Lees die volle brief hier.


Politikus met masker

Lees sy lippe nie meer, net
sy oë, wat joune miskyk,
net jou besware aankeer
na sy hoekie vir eensame
komplotte en met hierdie
nuwe gemompel jou eie
gesluierde woorde een
vir een laat swig voor
sy geheime mond wat
hulle insluk sonder om
ooit vir jou tande te wys

– Hans Pienaar

Uit: Versindaba

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.