Israel woedend oor VSA nie resolusie oor Gaza-skietstilstand veto nie

DINSDAG MET ANESCA SMITH

Israel woedend oor VSA nie resolusie oor Gaza-skietstilstand veto nie

ANESCA SMITH raai Catherine aan om nie ‘Prinses Perfek' te probeer wees nie. WILLEM KEMPEN wonder of misdaad bo, onder of in die middel eerste beveg moet word, en daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 26 Maart 2024
  • Daagliks
  • 5 min om te lees

Goeiemôre!

1. Israel het 'n beplande besoek van 'n hoëvlak-afvaardiging aan Washington DC gekanselleer nadat die VSA nie sy vetoreg in die VN se Veiligheidsraad uitgeoefen het nie. Die VSA het gister buite stemming gebly oor 'n resolusie wat aandring op 'n onmiddellike skietstilstand tussen Israel en die Palestynse militantegroep Hamas, asook die vrylating van alle gyselaars. Die resolusie is gevolglik aanvaar toe die ander 14 lidlande van die Veiligheidsraad almal ten gunste daarvan gestem het.

2. Die Verkiesingshof sal na verwagting vanoggend in die Gautengse hooggeregshof in Johannesburg uitspraak lewer oor of Jacob Zuma se MK Party aan die komende verkiesing mag deelneem. Die hof sou gister die uitspraak lewer, maar dit is later na vandag geskuif.

3. Die Duitse sagtewaremaatskappy SAP het ingestem om binne sewe dae 'n boete van R500 miljoen aan die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) te betaal weens korrupte kontrakte by Eskom. Dit spruit uit twee “ongeldige” kontrakte wat SAP tussen 2013 en 2016 met Eskom aangegaan het. Miljoene rande is aan 'n Gupta-onderneming genaamd CAD House betaal sodat SAP die kontrakte kon bekom, het News24 berig.

4. Honderde duisende studente aan Damelin, CityVarsity, Icesa City Campus en Lyceum College se verdere studies is in die gedrang nadat die departement van hoër onderwys hulle registrasie in verlede Vrydag se Staatskoerant gekanselleer het. Die kolleges behoort almal aan Educor, wat glo versuim het om betyds geouditeerde finansiële state vir die 2021- en 2022-boekjare in te dien.

5. Die Pretoriase Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof het borgtog van R150 000 toegestaan aan Stephanus Johannes (Stéhan) Grobler, 'n voormalige direkteur van Steinhoff en beweerde medepligtige van Markus Jooste. Grobler staan tereg op aanklagte van rampokkery, drie aanklagte van bedrog ter waarde van R21 biljoen, manipulasie van finansiële state asook versuim om bedrieglike aktiwiteite aan te meld. Die Nasionale Vervolgingsgesag het borgtog teengestaan.

6. Die proses om die National Transmission Company of SA (NTCSA) in bedryf te stel, het een van die laaste struikelblokke oorkom deurdat Eskom toestemming van die laaste van agt geaffekteerde effekte-eienaars gekry het om voort te gaan. Eskom het voorheen gesê hy verwag dat die NTCSA vanaf 1 April in bedryf sal kan wees, het Business Day berig.

7. 'n New Yorkse appèlhof het gister ter elfder ure tot Donald Trump se redding gekom deur aan hom uitstel van 10 dae te gee voordat die deelstaat se prokureur-generaal op van sy eiendomme beslag mag lê. Die vyf appèlregters het beslis dat Letitia James nog nie die vonnisbevel van $464 miljoen teen Trump mag afdwing nie, solank hy met waarborge vir 'n veel laer $175 miljoen vorendag kan kom.


Daar is 'n waarskuwing oor swaar donderbuie met moontlike vloede oor dele van die Noord- en Wes-Kaap. Dis meestal koel oor die res van die land, met moontlike buie en donderbuie. Dit word baie warm in dele van Noordwes.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 24°C • Johannesburg 23°C • Mahikeng 26°C • Mbombela 25°C • Kaapstad 24°C • Durban 28°C • Kimberley 30°C • Bloemfontein 29°C • Polokwane 25°C • Upington 32°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 24°C.


Willem Kempen | Kry misdaad bo, onder of in die middel eerste die polisie se aandag?

Die president het Saterdag by 'n ANC-verkiesingsaamtrek in Gqeberha gesê 'n terugkeer na gespesialiseerde eenhede in die polisie is een van die maniere waarop die regering misdaad beveg, en dat dit reeds resultate wys. Hy het ook gesê: “We now need to descend to the metro level to ensure that our people feel safe." En dat die getal polisiebeamptes in die land die afgelope drie jaar met 30 000 toegeneem het.

Ure voordat Ramaphosa gepraat het, is 'n plaaslike sakeman van Gqeberha deur sy ontvoerders vrygelaat nadat hy vir meer as twee weke aangehou is. Hulle wou aanvanklik 'n losprys van $1,4miljoen hê. Dit was minstens die vierde hoëprofiel-ontvoering in Gqeberha vanjaar. 

Gister het Kyle Cowan van News24 berig dat die polisie steeds nie 'n sleutelgetuie in die sluipmoord helder oordag op die pa-en-seun-ondersoekers Cloete en Thomas Murray op 18 Maart verlede jaar op die N1 tussen Johannesburg en Pretoria ondervra het nie.

Vyf maande ná die Murrays is lt.kol. Frans Mathipa van die Valke verder noord by Hammanskraal op dieselfde snelweg doodgeskiet terwyl hy die beweerde betrokkenheid van spesmag-lede van die Weermag by 'n ontvoering ondersoek het. Die ondersoek na die moord op Mathipa het oënskynlik nog glad nie gevorder nie.

Tussen al dié dinge deur is dit moeilik om agter te kom watter soort misdade die polisie op nasionale vlak as 'n prioriteit beskou. Dalk sal die minister van polisie ons kan sê, dis nou sodra hy verduidelik het waarom sy naam so prominent pryk op die lys van ministers wat die afgelope kwartaal nagelaat het om LP's se vrae in die parlement te beantwoord.



Prinses Catherine, los die strewe na eksie-perfeksie

Byna met ’n perverse genot het ons – van die media tot die gewone volk – mekaar die naweek sleggesê oor hoe ons “jag gemaak het” op die Britse prinses, Catherine, in die aanloop tot die aankondiging oor haar siekte. Die wilde gerugte oor waarom sy skielik uit die openbare oog verdwyn het. Ons moet ons koppe in skaamte laat hang.

(En moet haar in hemelsnaam asseblief nie Kate Middleton noem soos vóór sy met prins William getrou het nie, herinner aanhangers van die koninklike familie ons gereeld. Sy is Catherine, Prinses van Wallis.)

Ek wens Catherine veel sterkte toe vir die stryd teen kanker wat sy tans voer. Al het ek nie deelgeneem aan die gerug-verspreiding nie, is ek natuurlik ’n nuusverbruiker, soms selfs van die geelpers, hoewel ek dit grootliks probeer vermy – behalwe wanneer ek my oë wil rol oor hulle absurditeite.

Lees die volle brief hier.


Little Things

Little things I’ll give to you—
Till your fingers learn to press 
Gently 
On a loveliness;

Little things and new —
Till your fingers learn to hold
Love that’s fragile,
Love that’s old.

- Marion Strobel

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.