Kopers skarrel vir aandele in Trump se mediagroep

WOENSDAG MET WILLEM

Kopers skarrel vir aandele in Trump se mediagroep

WILLEM KEMPEN skryf oor 'n seldsame hofsege vir Jacob Zuma, en vertel van 'n motorongeluk waarin die staat in sy afwesigheid geskitter het. Daar is ook sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 27 Maart 2024
  • Daagliks
  • 6 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die WikiLeaks-stigter Julian Assange se uitlewering aan die VSA mag nie voortgaan totdat die Britse hooggeregshof in Londen 'n versekering gekry het dat die doodstraf nie aan hom opgelê sal word nie. Assange sal in die VSA teregstaan op 18 aanklagte, met een uitsondering na ingevolge die Amerikaanse Espionage Act.

2. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ingestem dat Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering, nie aangekla sal word voordat die Gautengse hooggeregshof volgende week beslis het oor die regmatigheid van haar inhegtenisname nie. Mapisa-Nqakula word daarvan beskuldig dat sy meer as R2 miljoen se omkoopgeld van 'n kontrakteur ontvang het terwyl sy nog minister van verdediging was.

3. Formele indiensneming in Suid-Afrika het in die vierde kwartaal van verlede jaar met 194 000 poste (1,8%) afgeneem vergeleke met die vorige kwartaal, wys Statistieke SA se jongste syfers wat gister bekendgemaak is. Die afname is grootliks gedryf deur 'n afname van 13,5% in deeltydse indiensneming, veral in gemeenskapsdienste, waar 203 000 werksgeleenthede verlore gegaan het.

4. Die Gautengse hooggeregshof in Johannesburg het die afdanking bekragtig van Judith van Schalkwyk, hooflanddros van Kempton Park, wat vroeër deur die Landdrostekommissie skuldig bevind is aan onbeskofte en dreigende gedrag, asook dat sy geld van 'n prokureur ontvang het om 'n konferensie van regters in die VSA by te woon. 

5. Die ANC in die Wes-Kaap wil hê die DA moet al sy boekstawing van aanstellings in die provinsie van so lank terug as 2009 openbaar maak, in 'n omgekeerde weergawe van 'n soortgelyke aansoek wat die DA vroeër suksesvol teen die ANC gebring het. Cameron Dugmore, leier van die ANC se provinsiale koukus, het gesê dit word gedoen om die “fundamentele skynheiligheid” in die DA se siening van kader-ontplooiing uit te wys.

6. Minstens ses mense word nog vermis nadat die Dali, ’n vragskip van byna 300 meter, ’n brug getref het terwyl dit besig was om die hawe in Baltimore  in Maryland te verlaat. Die voorval word as 'n ongeluk hanteer en daar is nie sprake van terrorisme, soos vroeër bespiegel is nie.

7. Die aandeelprys van Trump Media & Technology Group (kortkode DJT) het gister op die eerste dag van verhandeling op die Nasdaq met meer as 36% gestyg. Die prys van $68,28 per aandeel  beteken DJT het 'n markkapitalisasie van $9,25 biljoen. Die prys het só vinnig gestyg dat verhandeling kort ná die openingsklok tydelik gestaak is. Donald Trump se meerderheidsaandeel in TMTG is ongeveer $5,38 biljoen werd, maar dit sal nie sy kontantvloeiprobleme oplos nie omdat hy nie binne ses maande enige aandele mag verkoop of geld daarteen mag leen nie.


Daar is 'n waarskuwing oor swaar donderbuie met moontlike vloede oor dele van die Kaap-provinsies en KwaZulu-Natal vandag. Dit is effens warm oor die binneland, hoewel buie en donderbuie steeds oor meeste gebiede verwag word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 26°C • Johannesburg 25°C • Mahikeng 28°C • Mbombela 26°C • Bloemfontein 26°C • Polokwane 29°C • Kimberley 24°C • Upington 29°C • Kaapstad 24°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 22°C • Durban 28°C.


Willem Kempen | ’n Onafhanklike regbank se oorwinning, nie MK of die ANC s’n

Dit sukkel om nie minstens so 'n bietjie te glimlag by die gedagte dat Jacob Zuma onder sy nuwe party se vaandel nou al meer sukses in die hof behaal het as in al die jare wat hy in die ANC was nie.

Die Verkiesingshof het gister die ANC se aansoek van die hand gewys dat Zuma se uMkhonto we Sizwe (MK Party) van die stembrief verwyder word vir 29 Mei se verkiesing. Die hof het gesê die ANC het “only itself to blame” dat hulle by twee geleenthede verlede jaar nagelaat het om teen die MK Party se registrasie beswaar te maak. Die uitspraak bevestig die onafhanklikheid van die regbank, en wys dat die beweringe oor 'n kamstige vertraging sodat die hofuitspraak in die ANC se guns bekook kon word, niks meer as 'n ongegronde samesweringsteorie was nie. 

Vir Zuma se party is dit boonop net 'n halwe oorwinning; die hooggeregshof in Pietermaritzburg sal vandag die ANC se aansoek aanhoor dat die MK Party nie die naam en logo van uMkhonto we Sizwe mag gebruik nie. Die kans is beter dat die hof in dié saak in die ANC se guns sal besluit, wat mens weer laat wonder oor Bonginkosi Khanyile, jeugleier van die MK Party, se onlangse dreigement dat “hell will break loose” as hulle nie hulle sin kry nie.

En Julius Malema wonder seker by homself hoe iemand anders dit reggekry het om binne enkele maande die EFF se styl en strategie net so oor te neem en hulle eie te maak.


Hier rond is selfs motorongelukke nou al heeltemal geprivatiseer

Een aand 'n paar weke gelede bel 'n vriend van ons om te vra of ek hom en sy meisie kan kom oplaai; hulle was in 'n botsing en sy kar is onkapabel. Sy het haar kop gestamp en hy sy knie, maar andersins is daar nie beserings nie. Die ou in die ander kar is ook oukei, sê hulle.

Op pad na die toneel kan ek al van ver af die flitsende ligte van verskeie noodvoertuie sien. Rooies, wittes en oranjes, maar niks bloues nie.

Ek parkeer 'n entjie weg en stap na die kruising. Die twee karre wat in die botsing was, staan nog waar hulle tot stilstand gekom het. Al die insittendes en verskeie ander mense staan tussen die karre rond. Hulle word aan drie kante van aankomende verkeer afgeskerm deur: Twee minibus-ambulanse en 'n bakkie van 'n paramediese maatskappy; twee reaksievoertuie van 'n plaaslike sekuriteitsdiens wie se kantore net 'n blok weg is; een insleepvoertuig van 'n plaaslike paneelklop-besigheid, twee spoggerige wit dubbelkajuit-bakkies met AfriForum se logo op die deure. Geen teken van die verkeerspolisie of die gewone polisie nie.

Lees die volle brief hier.


noord-namibië

duisende klippe lê rondom ons
soos nuuskierige oë
kafferbrak  sê pa deur sy baard
as ons verby ’n padstal ry

die geribde dier vreet aan ’n droë akkedis
ovambo’s kyk grootoog na ons bakkie
’n seuntjie draf angstig nader om ons uit te nooi
pa kyk stip voor hom

  pa  vra ek

       ja

die stal verdwyn agter ons
en die klippe lê tot teen die lug
eendag sal als woestyn wees
en die bakkie die brak die ovambo’s ons
sal toegewaai onder die sand lê

  het pa ooit iemand op die grens          

 nee

sy vingers trek styf om die stuur
hy kyk stip voor hom
en ons bakkie skuurpapier die landskap vol stof

die stilte groei tussen ons soos ’n gedig

- Pieter Odendaal

Uit: Versindaba

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.