Stakings dreig weer in staatsdiens; Motsepe loer glo na MultiChoice

DONDERDAG MET MERCY

Stakings dreig weer in staatsdiens; Motsepe loer glo na MultiChoice

MERCY KANNEMEYER worstel met morele dilemmas soos om jou toonnaels in die wolke te knip. MAX DU PREEZ sê net omdat jy dink iemand kan op water loop, beteken dit nie jy moet 'n peperduur Bybel by hom koop nie. Daar is ook weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 28 Maart 2024
  • Daagliks
  • 6 min om te lees

Goeiemôre!

1. Verskeie staatsdiensvakbonde dreig om te staak oor die regering se onlangse implementering van die tweede en laaste deel van 'n loonooreenkoms wat in 2023 by die bedingingsraad bereik is, het Business Day berig. Die departement van staatsdiens en administrasie het aangekondig dat staatsamptenare op 1 April 'n loonverhoging van 4,7% sal kry. Nehawu, Popcru, Denosa en Sapu is onder die vakbonde wat nie die ooreenkoms onderteken het nie.

2. Die Reserwebank het rentekoerse soos verwag gister onveranderd gehou en gesê inflasie sal waarskynlik nou eers aan die einde van 2025 die teiken van 4,5% of minder bereik. Dit is later as wat voorheen verwag is, wat beteken dat die eerste rentekoersverlaging van die huidige siklus ook eers later sal kan wees.

3. 'n Voormalige vlootbestuurder by Volkswagen Suid-Afrika is vroeër vandeesweek in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Gqeberha skuldig bevind op 595 aanklagte van bedrog. Christo de Jager het glo oor sewe jaar 'n bedrieglike skema bedryf waarvolgens Volkswagen te veel betaal het aan 'n besigheid wat gereeld herstelwerk aan motors se bakwerk gedoen het. Hy is nog nie gevonnis nie, het News24 berig.

4. Die joernalis en skrywer Tony Heard is gisteroggend ná 'n kort siekte in die ouderdom van 86 oorlede. Heard sal veral onthou word vanweë sy afdanking as redakteur van die Cape Times nadat hy in 1985 in weerwil van sensuurwette ’n onderhoud met Oliver Tambo in ballingskap gevoer en gepubliseer het. Heard het ná 1994 lank as 'n spesiale raadgewer in die presidensie gedien.

5. Patrice Motsepe voer gesprekke met die Franse mediareus Vivendi se filiaal Canal+ om deel te word van 'n oornamebod vir die MultiChoice-groep, het bronne wat vertroud is met die saak aan News24 gesê. 'n Belang vir Motsepe sal dit vir Canal+ makliker maak om aan Suid-Afrikaanse vereistes vir swart aandeelhouding te voldoen. Canal+ het reeds 'n belang van meer as 35% in MultiChoice, maar wil die res ook koop.

6. Verskerpte bomaanvalle op Rafah het nuwe vrese laat ontstaan dat Israel op die punt staan om 'n grond-offensief op dié suidelike deel van Gaza te begin, het Reuters berig. Dit is ondanks 'n resolusie van die VN se Veiligheidsraad waarin 'n onmiddellike skietstilstand geëis word, asook die Amerikaanse regering se teenkanting.

7. Die Sweedse vervaardiger Volvo het sy laaste kar met 'n dieselenjin gebou. Die spesifieke model, 'n blou XC90 wat in die maatskappy se aanleg in Torslanda gemonteer is, sal nie verkoop word nie, maar in die Volvo-museum in Gothenburg uitgestal word, het Motor1.com berig.


Die binneland is vandag meestal warm, hoewel buie en donderbuie in elke provinsie behalwe die Wes-Kaap verwag word. Daar sal dit meestal deels bewolk wees, met ligte reën wat voorspel word. Dit kan baie warm word in dele van die Noord-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 25°C • Mahikeng 27°C • Mbombela 28°C • Kaapstad 24°C • Durban 27°C • Kimberley 29°C • Bloemfontein 26°C • Polokwane 28°C • Upington 32°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 22°C.


Max du Preez | Winskopie: ’n Trump-Bybel vir net R1 140! Koop sommer twee!

Donald Trump, wat hoop om in November as president van Amerika herkies te word, verkoop nou Bybels: die God Bless the USA Bible.

Trump het op Truth Social, sy weergawe van Twitter, aan sy volgelinge laat weet: “Happy Holy Week! Let’s Make America Pray Again. As we lead into Good Friday and Easter, I encourage you to get a copy of the God Bless the USA Bible.” Dit kos $59,99.

Jy sal natuurlik heelwat ekstra net vir die MAGA-etiket betaal. Biblesatcost.com verkoop Bybels vir $5,95 in Amerika, aflewering ingesluit. (“If there are any Bibles or Christian resources you are ordering from another supplier, we would appreciate the opportunity to win your business,” verklaar die maatskappy op sy webwerf.)

Die berig van Associated Press waar ek van Trump se aanbod gelees het, maak dit nie duidelik of Trump die Bybels gaan onderteken soos outeurs gewoonlik op die eerste bladsy doen nie.

Trump se eie lewenstyl, sy uitsprake en sy bewese onkunde van wat in die Goeie Boek staan, noop 'n mens om te vermoed dat hy nie sendingwerk wil doen nie, maar geld wil maak. Hy is juis ernstig in die knyp met hofsake wat hom honderde miljoene dollar kan kos.

Sy grootste gros getroue volgelinge, die regse en ekstreem-regse wit Christene, die Evangelicals, gaan waarskynlik sy Bybels koop. Hy kan in hulle oë niks verkeerd doen nie en hy sleep hulle ál verder in die absurde in.

Een van sy ywerigste aanhangers en 'n leidende Baptis, Charlie Kirk van Turning Point USA, het onlangs op televisie gesê as jy vir die Demokrate stem, kan jy jouself nie langer 'n Christen noem nie.

Nog 'n prominente Evangelical en 'n voorste Republikein van Noord-Carolina, Michele Morrow, het op sosiale media verklaar dat oudpres. Barack Obama deur 'n vuurpeloton van kant gemaak moet word en gesê sy droom daarvan om pres. Joe Biden te vermoor.

Wat van 'n Bybelversie vir broer Charlie of suster Michele?

Jeremia 14:14: “En die Here het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle 'n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart.”



Image: ANGELA TUCK

Vlieg bied (soms) rus vir die siel

Van die grootste morele debatte van ons tyd speel af in vliegtuie. ’n Vliegtuig bied die ideale broeikas vir misverstande, konflik, self-twyfel en, natuurlik, ongemak. Myns insiens is vlieg selde ’n aangename ervaring. Jy sit so naby aan vreemdelinge. Geen oop venster vir suurstof nie.

My ergste vliegtuig-ervaring was toe ’n man skuins voor my gesit en … wag daarvoor … sy toonnaels geknip het!!! Wie de fok sit en knip hulle naels op ’n vliegtuig en los dit net so dat die naels oral val? Ek was op ’n kol so naar ek het amper die kaptein loop vra om die vliegtuig om te draai.

Op ’n ander vlug sit ek langs ’n vrou. Met die intrapslag lyk niggie toe sommer al so bleek. Die lugwaardinne is skaars klaar met hulle toertjies met die suurstof, life jacket en handgebare, of daar beval ’n angsaanval vir niggie soos nog nooit vantevore gesien nie. Ek het nie geweet of ek moes roep om hulp of beginne bid nie. Danksy my drama-opleiding ken ek darem so ’n ding of drie van asemhalingstegnieke, wat help met die nerwe. En ek begelei die bleek enetjie daar in ry 17 deur ’n asemhalingsoefening sodat haar bloed net weer deur haar liggaam kan vloei.

So het menige van ons seker ’n vliegstorie. Behalwe vir ’n paar lastige gevalle, bied vlieg darem genoeg kans vir besinning.

Lees die volle brief hier.


Solstice in Truro

Teaching term done, I keep my laptop shut
A chill in the air runs under weak June sun
Chickadee warbler catbird waxwing—
Morning migrant songs drowned by bulldozer next door
The backing up beeping a constant one note feed
From far off, boundless tides crest onto restless sand
How my grandfather made his way, a refugee from Kyiv
How the new war gathers and opens his voice in me

– Joshua Weiner

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.