Russiese ‘energiewapen’ glo rede vir Havana-sindroom

DINSDAG MET ANESCA SMITH

Russiese ‘energiewapen’ glo rede vir Havana-sindroom

ANESCA SMITH skryf oor 'n sanger se Olimpiese Spele-rol vir 'n meer verdraagsame samelewing. WILLEM KEMPEN wonder waarom die onmoontlike van die Weermag in die DRK verwag word, en dan is daar weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 02 April 2024
  • Daagliks
  • 4 min om te lees

Goeiemôre!

1. Staatsamptenare sal “voortgaan om die wettige beleid van die regering van die dag lojaal uit te voer", ongeag die uitslag van die algemene verkiesing in Mei, het Noxolo Kiviet, minister van staatsdiens en administrasie, volgens News24 gesê. Sy het benadruk dat staatsadministrasie teen politieke inmenging en misbruik beskerm sal word.

2. Die Nasionale Vergadering het die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette (Gilab) aanvaar, wat beteken dit sal nou na die Nasionale Raad van Provinsies vir oorweging gestuur word. Gilab maak voorsiening vir wysigings aan die Wet op Nasionale Strategiese Intelligensie, die Wet op Intelligensiedienste en die Wet op Toesig oor Intelligensiedienste

3. Die verbruik van staal in Suid-Afrika het oor die afgelope sewe jaar met 'n vyfde afgeneem, sê ArcelorMittal, die land se grootste vervaardiger van staal, in sy jongste jaarverslag.

4. Goud het gister opnuut teen nuwe rekordhoogtepunte verhandel. Die prys was in een stadium hoër as $2 265 per fynons, het Bloomberg berig.

5. Iran het Rusland óók gewaarsku oor die moontlikheid van 'n “groot terreur-operasie" op sy grondgebied voor die aanval op die Crocus City Hall buite Moskou op 22 Maart, het drie bronne aan Reuters gesê. Die dodetal weens dié aanval staan nou op minstens 144 mense.

6. Die geheimsinnige “Havana-sindroom" waaraan Amerikaanse diplomate en spioene al oor die wêreld heen gely het, kan moontlik gekoppel word aan energiewapens wat deur lede van 'n sabotasie-eenheid van Russiese militêre intelligensie gebruik word, het die Insider-mediagroep via Reuters berig. Dié toestand is sover bekend in 2016 vir die eerste keer deur Amerikaanse ambassade-amptenare in die Kubaanse hoofstad aangemeld. Simptome sluit in erge hoofpyn, naarheid, geheueverlies en duiseligheid.

7. Die Amerikaanse gomvervaardiger Gorilla Glue het 'n samewerkingsooreenkoms aangekondig met die klimaataktiviste Just Stop Oil, wat daarvoor bekend is dat lede hulleself aan dinge vasgom as 'n vorm van protes. (Of dalk was dit net een van gister se Gekkedag-grappe... Kyk hier vir 'n langer lys.)


Buie en donderbuie word steeds oor die meeste dele van die land verwag, met uitsondering van Limpopo en die Wes-Kaap. Laasgenoemde kan dalk ligte reën verwag, terwyl dit deels bewolk en warm in Limpopo sal wees. Dis koel tot warm in die meeste dele van die land.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 30°C • Johannesburg 28°C • Mahikeng 28°C • Mbombela 25°C • Kaapstad 23°C • Durban 28°C • Kimberley 29°C • Bloemfontein 27°C • Polokwane 27°C • Upington 32°C • Gqeberha 23°C • Oos-Londen 23°C.


Willem Kempen | ‘Gaan veg, maar ons gee nie vir julle die nodige geld en wapens nie’

Toe opposisiepartye pres. Cyril Ramaphosa in Februarie daarvan beskuldig het dat hy aanhou om Suid-Afrikaanse soldate na die DRK te stuur sonder dat hulle die geld en ander hulpbronne het om hulle werk te kan doen, het hy dit ontken en gesê: “We are not an island, we are in a community of a number of sister countries, and when one sister country faces challenges, such as security, the community takes a decision and we are expected to deploy and come to the aid of that country."

Behalwe, dis bitter moeilik om te sien hoe die Weermag besig is om tot enigiemand se hulp te kom in die DRK. Hulle kan nie eens tot hulle eie hulp kom nie. Erika Gibson het Sondag in Rapport berig dat ons troepe daar alles kortkom van behoorlike kook- en sanitêre geriewe tot by mediese ondersteuning tot by maniere om voorrade afgelewer te kry tot by kontant (in Amerikaanse dollar) om vir alles te betaal. Van behoorlike logistieke en operasionele beplanning is daar nie veel sprake nie.

Ramaphosa steur hom klaarblyklik nie aan al die generaals wat sê die Weermag kán eenvoudig nie in die DRK doen wat van hulle verwag word nie. Hoekom nie? Is dit net misplaaste trots of ydelheid of hardkoppigheid? Of wil hy net nie aan “our sister countries" erken Suid-Afrika se Weermag het 'n leë dop sonder slaankrag geword nie?



Aya Nakamura: Op pad na ’n meer verdraagsame samelwing

Dit sou niemand ontgaan het toe die Franse sokkerspan in 2022 die eindstryd van die Wêreldbekersokkertoernooi teen Argentinië gehaal het nie: die meeste lede van die span was swart, insluitend hulle beste speler, Kylian Mbappé.

Op Twitter het dit gewemel van die grappies. “Die eerste span uit Afrika wat die eindstryd haal,” is daar gespot. Trouens, toe Frankryk in 2018 die toernooi wen, het Trevor Noah al van hom laat hoor: “I get it, they have to say it's the French team. But look at those guys. You don't get that tan by hanging out in the south of France, my friends.”

In Frankryk self is daar geen bohaai gemaak oor die spelers se Afrika-agtergrond nie. Hulle was Frans en klaar. Daar was selfs 'n bietjie verontwaardiging oor Noah se soort grappies. Dit sou 'n gebrek aan waardering toon vir die vordering wat al oor die jare gemaak is met die integrasie van immigrante in Frankryk.

Lees die volle brief hier.


The inner tide —

What moon does it follow?

I wait for a poem

Diane Di Prima

 

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.