Inkomstediens bekommerd oor versnellende emigrasie

WOENSDAG MET WILLEM

Inkomstediens bekommerd oor versnellende emigrasie

WILLEM KEMPEN wonder oor BBP-beskerming vir Joburg se raadslede, en oor die betekenis van aanvallige vroue op 'n almanak vir regse Amerikaners. Daar is ook weer sewe goed om te weet.

  • 03 April 2024
  • Daagliks
  • 5 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die Inkomstediens (SARS) het in die belastingjaar tot einde Maart byna R10 biljoen meer ingesamel as wat in Februarie se hersiene begrotingsraming voorsien is. Die werklike ingesamelde bedrag was R1,741 triljoen, terwyl die voorsiende bedrag R1,731 triljoen was. SARS het terselfdertyd gesê die aantal Suid-Afrikaners wat emigreer, neem “kommerwekkend vinnig" toe.

2. Visvin Reddy van die MK Party sal vandag in die landdroshof in Chatsworth verskyn nadat hy in die openbaar met geweld gedreig het as die OVK en die howe tot beslissings kom wat Jacob Zuma nie pas nie. Bronne het aan News24 bevestig dat Reddy van aanhitsing tot geweld aangekla sal word in terme van die Wet op Oproerige Byeenkomste (17 van 1956).

3. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering, sal haar dalk vandag reeds aan die polisie oorgee om weens beweerde korrupsie en omkopery in hegtenis geneem te word. Die hooggeregshof in Pretoria het gister haar aansoek om haar inhegtenisname te keer met kostes van die hand gewys en gesê dit was “onredelik” en “spekulatief”.

4. Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het 'n boete van R216 miljoen opgelê aan Coenraad “Coenie" Botha en sy vrou, Charlotte Murove, wat oor jare die publiek aangemoedig het om in hulle sogenaamde kripto-produkte te belê. Hulle het glo onder meer aan mense gesê dit sou gebruik kon word “om die eindtye te oorleef". Botha mag ook vir die volgende dekade geen finansiële produkte verkoop nie. Botha en Murove is onlangs in hegtenis geneem en het in 'n Namibiese hof verskyn op aanklagte van bedrog, geldwassery en die onwettige bedryf van 'n bank.

5. Die departement van minerale hulpbronne en energie het die sperdatum vir bodvoorleggings vir die sewende ronde van die verkrygingsprogram vir onafhanklike hernubare energie (REIPPPP) van 30 April tot 30 Mei uitgestel, het Business Day berig.

6. Benjamin Netanyahu het gister gesê die Israeliese lugaanval waarin sewe mense dood is wat vir die liefdadigheidsorganisasie World Central Kitchen (WCK) in Gaza gewerk het, was ­“onbedoeld en tragies", en dat 'n onafhanklike ondersoek na die voorval gedoen sal word, het Reuters berig.

7. Iran het gister wraak belowe vir 'n Israeliese lugaanval waarin twee van sy generaals en vyf militêre adviseurs by sy ambassade-kompleks in Damaskus in Sirië dood is. Kenners vrees dat dit die konflik in die Midde-Ooste verder kan laat eskaleer.


Dit word vandag warm met moontlike buie en donderbuie in die meeste dele van die land. Daar is oggendmiskolle oor dele van KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga, Vrystaat asook die Noord- en Oos-Kaap. Dit kan ook baie warm word in dele van die Wes- en Noord-Kaap vandag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 26°C • Mahikeng 28°C • Mbombela 26°C • Bloemfontein 26°C • Polokwane 25°C • Kimberley 26°C • Upington 30°C • Kaapstad 24°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 24°C • Durban 26°C.


Willem Kempen | Reëls en begroting eerste

Niemand kan stry dat dit lewensgevaarlik is om 'n lid van die Johannesburgse metroraad te wees nie. Raadslede is dubbel versigtig sedert Teboho Joala van Rand Water en sy lyfwag op 29 Januarie ten aanskoue van skoolkinders in Zakariyya Park koelbloedig doodgeskiet is. Sithembiso Zungu, hoofsweep van die raad, is in dieselfde voorval gewond.

Maar die manier waarop sekere lede van die raad kortpaaie probeer vat het om vir hulleself BBP-beskerming te reël, is 'n verdere knou vir die bietjie geloofwaardigheid wat hulle dalk nog gehad het. Voor hulle agteraf wysiging van 'n beleidsvoorstel sou elkeen van die 270 raadslede én ander komiteelede twee BBP-sekuriteitswagte kon kry sonder 'n risiko-evaluering deur die polisie. Elkeen van dié wagte sou die raad net minder as R55 000 per maand gekos het.

Dan was daar die res van die gekonkel: 'n Vergadering wat vir die publiek gesluit was; 'n poging om by wetlike bepalings verby te kom; wysigings wat eers kort voor 'n raadsvergadering aan lede gewys is. En dit terwyl daar nogmaals geen water uit die krane in groot dele van die stad kom nie.

G'n wonder Johannesburgers dink aan die metroraad as 'n klomp selfdienende politici met geen respek vir die publiek se geld nie.


Konserwatiewe Amerikaners gaan rooi sien in November

Ek het bitter lanklaas die geleentheid gehad om die woord “almanak" te gebruik, maar hier is dit nou, met vergunning van die Culture Wars in Amerika.

Hier by ons was almanakke ook eens kultuurgoedere en 'n geleentheid om jou identiteit te verkondig, daarom dat mens selde vir jouself een hoef te gekoop het – tussen die Moedergemeente en Oom Tollie se Slaghuis het hulle oor mekaar geval om minstens vir 'n jaar lank daardie waardevolle stukkie real estate aan die kant van jou koelkas hulle eie te maak, hetsy om beloftes van varsheid en gehalte of die ewige lewe en die tye van die eredienste te bemark.

Op minder beleefde plekke, soos teen die gaatjiesbord waaraan die plaaslike garage se mechanics hulle spanners en ander goeters hang, sou dit 'n Battery Centre of 'n Castrol GTX wees wat meeding om 'n jaar van jou aandag. Hulle reps sou vroeg elke Desember die volgende jaar se almanak kom uitdeel; van die soort waarna die manne reikhalsend kon uitsien. Op die tipiese almanak van 'n besigheid wat karbatterye verkoop het, sou daar min ruimte vir visuele dubbelsinnigheid wees, selfs al het dit by geleentheid gelyk of albei die betrokke model se pole positief gelaai was. 

Tussen die algemene toeganklikheid van Photoshop en die wondere van moderne snykunde is daardie dae van bipolêre insigte vir altyd verby, nog meer so in die VSA, waar polarisasie van 'n heel ander soort deesdae hoogty vier.

Lees die volle brief hier.


Tarzan the Ape Man in die laerskoolsaal

Saterdagaand, 20c en 'n papierkoppie
OROS later en Johnny Weissmuller,
in 'n tierveldeurtrekker, sketter sy kreet
vol van diefalarm, bietjie jodel,
bietjie paringsroep terwyl hy
soos 'n trapeesarties aan 'n bobbejaantou
deur 'n naamlose Afrika-oerwoud swaai.
Sy Jane – femme (selde) fatale – is deur boewe
opgesluit in 'n wildvanghok en gil iewers
in die verte. Dewald fluister “Fok, hy’s gebou
om te hou!” in my oor en ek knik stom
“Ja!” nét voor die swart-en-wit
filmprojeksie skielik bruin begin borrel
op die doek, die klankbaan gedoof word
met 'n “hoe-ooôp…” en die aapman
se bisepsbiltonge, LEGO-blokkiesmaag
en boomstompbene saam met Dewald
se BRUT-en-sweetlyfwalm in die pikdonker
in my geestesoog begin projekteer.

- Franco Colin

Van: Versindaba

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.