Oor die mense en dinge wat gebly het

TERUG OP DIE STASIE

Oor die mense en dinge wat gebly het

Daar is iets vreesaanjaends en tog opwindends aan terugkeer na 'n plek waarvan jy eens deel was, sê ANASTASIA DE VRIES.

DIS vandag meer as vier jaar gelede dat jy hier was. Op hierdie plek. In hierdie plek. Voor jy saam met die res van die land in, was dit Maart 2020? na binne-toe gemigreer het. Toegrendel. Nou, bietjie vrees. Bietjie opwinding. Jy wil dat alles dieselfde gebly het, en tog, alles moet verander, dit weet jy al, alles gaan verby en die lewe stroom maar deur.

Dit help dat jy hier is met 'n doel. Dis feestyd in die Klein-Karoo, die strate van Oudtshoorn nog in Kersliggies getooi. Dit bly sommer aan, vir high days en holidays, sê iemand. Daar is iets gerusstellends daaraan. Aan die baie lewens wat op verhoë voor jou afspeel, wat jou bevange hou, jou dwing om in te kyk op die Suid-Afrika's wat jy nie van jou voorstoep af kan of wil sien nie. Jy ryg hulle in soos blink krale. Jy is 'n kraai. Jy leef sonder voorbedagte rade, sonder vooropgestelde idees, jou land met sy kwinte en kwale ver agter jou, jy gaan waar die wind jou waai, of die feesprogram. Jy beleef. Soms. Intens. Leef mee. Of nie. Soms laat die opvoering van pyn en verlies jou koud, dis te klinies, te afstandelik, die binnewerke vaag, die spel met woorde meesterlik. Gaap. Soms kyk jy net en jy wonder.

Is dit 'n man? 'n Vrou? Eintlik maak dit nie saak nie. Uiteindelik maak dit nie saak nie. Nie hier nie, nie nou nie. Woord en klank het nie afgebakende kategorieë van identiteit nodig nie. Jy sweef op die wieke van die nostalgie. Jy herken van die melodieë glad nie, verstaan nie die woorde of die emosies nie, maar daar is iets vreemd bekend aan die samesyn, die meelewing van die gehoor. Die verhoog verdwyn, in jou kop speel ander songs, op 'n ander plek, en jy hoor die crooning van mansstemme op 'n Sondagmiddag iewers op 'n jaart in Ravensmead, terwyl die trane oor hul wange loop. Hulle verlang, het jou pa altyd gesê, nou sing hulle maar. Waarna, het hy nie gesê nie. Jy het ook nooit probeer verstaan hoekom julle kinders so saam kon sit en verlang na en huil oor die dinge van die grootmense nie. Maar jy het nooit nader aan enige mens gevoel as toe nie of die geluksaligheid ervaar dat jy iets met iemand kon deel wat jy net met jou hart hoef te verstaan. Nou sit jy hier tussen vreemde mense sit en luister na hul verlangliedjies, wil nie staar na 'n hand wat ongemerk oor 'n gesig probeer vee of troostend oor 'n rug of arm nie en dit word Sondagmiddag op 'n jaart in Ravensmead en jy dink hoe eenders ons is...

Slegs Vrye Weekblad-intekenare kan hierdie artikel lees.

Teken nou in vir volle toegang tot alle Vrye Weekblad-inhoud.

Reeds ’n intekenaar? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.