Woorde in ’n tyd van mismoerrageit

GLAD MET DIE BEK

Woorde in ’n tyd van mismoerrageit

ANASTASIA DE VRIES skryf oor ’n dag, ’n hele dag, waarop sy onbeskaamd morsig net kon lag.

DIE probleem met vandag se kinners is, die goed lees nie. Praat jy wat tanne sny, sê sy vrou. Ons skree soos ons lag. Hom het ons nog nooit met ’n boek in die hand gesien nie, laat staan nog ’n pen. Of nee, tog wel wanneer ons toets of eksamen geskryf het, dan het hy gou ’n pen kom “leen”. Van die intelligentste mense wat ek ken, ken nie die gevoelte van ’n boek nie, sê ek. Moet my nie herinner nie, lag sy vrou. Haar ken ek van skooldae af, hom van die dag toe hy my soos ’n straatkat laat sis het. Hoekom my ma op my eerste dag van universiteit my vlegsel met ’n rooi lint opgebind het, sal net die gode weet. Maar daar sit dit toe, reg bo-op my kop. En hy, bulderend van die lag, in sy stem soos donderweer: hei spierangboudjies, weet djou ma djy’s hie? Eff off, het ek gesê. En my vriendin van skooldae af: fokkof, jou slungel.

Dik tjommas was ons van toe af, en sy later sy vrou. Hulle het ek op die strand raakgeloop. Ek moes net uitkom, ontslae raak van die klompe slim, horingdroë woorde in my kop. Die wêreld is mismoedig genoeg sonder my klein bietjie vrees vir klink soos die ooms en anties in die stapels artikels en boeke wat ek in elk geval myself sit en voer. Vreugdeloos. Mismoerag. Toe loop loop ek op die strand, vas in daai se stem. Hei spierangboudjies! Elke oog op daai se strand, julle weet waar. Déjà vu. Hier kom k*k, dink ek nog soos Philida in A.P. Brink se boek toe ek te pletter geduik en my rok tot duskante my blaaie opgetrek word. “Nee, nee, nee vrou, so kan jy darem nie met so ’n lange rok op die beach kom rondslons nie, a nee a! Kom!”, sleep sy my terstond onder haar arm daar weg. Soos toe ons kinders was.

Kyk, niemand, maar niemand het my al so in moeilikheid ingesleep soos sy nie. Haar naam was geskryf op elke poets wat ooit in onse skool gebak is, maar óns is gestraf, want ek kom saam met haar. En agterna het ons op die gruis onder die rugbypale gaan sit en lag oorlat die grootmense dan nou so kwaad is. Hulle ken min jokes, het sy altyd gelag terwyl sy die stof van my skoolrok met haar plathand uitklop. Sorgeloos. Nou sit ek hier op ’n streepkombers in die kakelbont toppie van ’n ander vrou wat soos ’n jong tentrokkie aan my sit, min gespin oor wat hang uit. Die hele strand het tog al my hele beskaamte en wat nog aanskou. En ek baai in die gloed van mense uit wie daar steeds ’n lewenslus en sorgloosheid straal, al sukkel hulle sekerlik ook met die daaglikse dingetjies wat vir my kopkrampe gee en see toe dryf.   ..

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.