’n Kaapse Kersverhaal vir die mense wat ons kan wees

VOLG SY STER

’n Kaapse Kersverhaal vir die mense wat ons kan wees

As sy soos gewoonlik teen dié tyd tot vodde in haar land geleef is, lees ANASTASIA DE VRIES die soort stories wat die onsigbares soos mense voor haar laat staan, soos D.J. Opperman se “Kersliedjie” of haar pa se geliefde verhaal deur Henry van Dyke oor ’n vierde wyse man uit die Ooste, ’n verhaal waarin ’n haas vergete medemenslikheid herroep word. Vanjaar maak sy ’n Kersverhaal op uit ’n dieper as diep behoefte aan die “gulheid van stories”, soos Antjie Krog vroeër gesê het by die ontvangs van die Hertzogprys vir haar digbundel Plunder.’

OUS Bet se Noenoe, haar seunskind met die helm gebore, het die boodskap gebring: vannag in die Kaap wat op sand gebou is, sal ’n kindjie gebore word, een wat onse menswees voor onse voete staan sal maak. Iewers in die Bontas of die Tjatjies sal hy gebore word, in die Ravensmead of die Lavis, in Kriefgat of Louw-se-bos, op ’n plek waar ’n klop aan die deur dikwels ’n noodkreet is vir ’n koppie suiker, ’n teesakkie of ’n snytjie brood, waar dié wat het, gee en gee al maak dit seer. Daar sal die kind gebore word, het die engel in hy wat Noenoes is se oor gefluister.

Jy sal sy ster aan die naghemel sien, helderder as die son oordag, ’n ster vir ’n koning der konings, het Noenoes vir sy pastoor gaan sê. Volg dit net, sy ster, vir die priesters, die dominees, die straatpredikante, die kerkmense, die juigende jubelendes in huiskerke en tente, vir dies wat volgens hom behoort te glo. Die meeste mense het hom uitgelag. Hoekom sou hulle hom glo, die Noenoes wat nie kan lees en skryf nie, wat nog ’n kruisie in die plek van sy naam moet trek? ’n Kind met ’n ster vir ’n koning der konings nogals hier gebore, iewers nogals, iewers tussen êrens en nêrens in die gopse nogals, aan die gatkant nogals van ’n hele Kaap wat op klip gebou is?

Dit was donkernag toe dit gebeur, aan die kant van die Kaap op sand gebou, nie ’n straatlig of Kersliggie brand nie, in vensters flikker kerslig of die vlam van ’n vetlamp, hier en daar die kunsmatige wit lig van LED-gloeilampe. Oor die Kaap het ’n helder lig verskyn, die lig van ’n enkele ster tussen die dowwe flonkering van miljoene der miljoene. Mense het uit hulle huise gestroom, die strate in, al agter dié ster aan. Volg net die ster, het Noenoe in die woorde van die engel gesê. Sy boodskap het die hele wêreld deurgetrek, van die Kaap tot doer anderkant die Swartberge. Hulle het die ster gesien, en dit gevolg, sou die mense agterna vertel...

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.