Wat was, kan nie net weggewas word nie

O, DIE PYNGEDAGTE

Wat was, kan nie net weggewas word nie

Hier kort voor Krismis moet mens seker nie praat van pyn en lyding nie, maar uit die verlies van ’n ander vrou het ANASTASIA DE VRIES opnuut ’n lewensles geleer.

TIS the season to be jolly. Is tog festive, is dit nie. Hêppie, hêppie. The silly season, seker nie die regte tyd vir praatjies oor pyn en smart en veral nie die dood nie. Maar hier is hulle nou, drie mense verwese oor wat kon gewees het. Wat sê mens dan, vra die vrou wat die tyding kom bring het: Wat was, is weggewas.

Sy’t hulle op die trappe gekry sit. Pa en dogter, haar aanneempa en -suster. Gister het sy hulle nog liefkosend oupa J en antie B genoem; vandag het hulle nuwe name. Amper-oupa, amper-antie. Die sak tussen hulle met die prentjies op van tuimelende babas met ougat kuiltjies in die wangetjies en knietjies en laggende pruilmondjies, ’n stille getuienis. So amper-amper, huil hy. Sy’t langs haar sustervriendin op die trap neergesyg, willoos, woordeloos gevolg toe hy uiteindelik sê hulle moet seker maar nou huis kry. Toe loop hulle, weg van ’n kamer iewers agter die dik hospitaalmure waar sy ander dogter soos hy sê, amper-ma en hy amper-oupa geword het, verby die winkelsentrums wat laatmiddag nog rysmier van vroeë Krismiskopers, verby die ou oom wat hulle gewoonlik jare se kykplesier gee met sy akkeltjies op ghoemamusiek, verby die taxistaanplek en bushaltes. Hulle loop, lang pad om, uitstel-uitstel, soos kinders wat te bang is om by die huis uit te kom.

Iemand sal die amper-pa in andermansland moet bel. Hulle’t hom nie laat weet toe die ambulans sy vrou kom haal het nie. Vals alarm, het sy gesê toe die krampe begin. Dis te vroeg, ’n maand te vroeg. Die geboorte word eers op Oukersdag verwag; haar man se vlug middel Desember. Hulle sal oukei wees, sy en die baba, sy het gekyk, daar’s nie bloed nie, net hierdie droë krampe. Toe word dit al hoe erger. Sy is hospitaal toe. Sy onthou nie veel nie, net dat sy op ’n bed gelig is en later ’n stem wat sê dat sy in kraam is. Sy verbeel haar dat sy geprotesteer het, dat dit nog te vroeg is, dat die kind eers oor ’n maand gebore word. Sy onthou niks verder nie, net die stilte. ’n Doodste doodse stilte. “Waar is my hart? Dit klop dan nie, is ek dood?” het sy gevra toe hulle die klein lyfie op haar neerlê. Was dit eeue later? Sy het dit getel. Tien klein vingers. Tien toontjies. Perfek. Haar ogies was toe, die mondjie halfoop. Daar was ’n rooi merk teen haar slaap asof iemand te hard gedruk het. Hulle het die kleintjie weggeraap toe sy haar aan die bors wou sit. Sy was te moeg om haar kind te gryp...

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.