Dit kan tog nog ’n mooi Oktober word

OORLOG IN DIE STRATE

Dit kan tog nog ’n mooi Oktober word

Ná die vernietiging van ’n verlengde winter tot in September en die geweld in die samelewing wat maar net nie wil ophou nie, plaas ANASTASIA DE VRIES haar hoop op die mooiste, mooiste maand.

DALK was dit van die vrees van die laaste tyd, die gewag vir iets om te gebeur, onheil soos gewoonlik, maar die hemel weet sy is moeg tot in haar rugstring, sê die vrou toe sy haar met die inklimslag opkrul, kop teen die motorvenster. Sy moet net nog ’n bietjie skuinslê. Die pad is lank en die maand nog jonk. Kyk, Oktober kan maar kom, solank hy net daar sit, sy bek hou en aan niks raak nie, sê sy. Sy verwag net mooi niks van hierdie maand nie. Sy’t haar les met September en sy betrekskootwinter geleer. Dis heerlike lente, die winter’s verby, het hulle gesê en toe? Toe overstay niggie haar welcome en kap amper die hele Kaap aan flenters. En nou staan haar huis vol meubels met kromgetrekte pote asof hulle oornag jig gekry het en haar hande is so grof soos ’n gebouman s’n van sukkel om die taai modder van vloere en mure af te skrop. Oktober die mooiste, mooiste maand? Sy soek haar skoolgeld terug.

Sy is moeg van wag vir beter dae, steun sy. Vat nou Saterdag. Kap sy man, kind en hond in hul muwwe huis toe teen die dreigende geweld. Die bloed gaan vloei, het die gerug al ’n week lank deur hul plek gestroom. Weerwraak. Twee begrafnisse, twee gangsters dood. Die vorige week is hulle afgemaai; wie die skieters was, weet niemand nie. Die een van bende X is agter die stuurwiel gekry van die kar wat hy in sy lewe nooit bestuur het nie; opgebom, skietwond in die voorkop. Bestuur kon hy nie, het die hele dorp geweet, is altyd deur een of ander manskap rondgekarwei. Die ander, bende Y, is op ’n oop stuk veld in die stinkwater opgetel, lyf vol gate, en soos ’n mudsak oor die skouer van ’n trawant huis toe gedra. Toe soos ’n mudsak net daar in die straat gelaat val toe die sirenes begin loei. Daar lê al weer ’n lyk op die veldjie, het iemand die polisie laat weet. Een gangster minder.

Hulle dood sal met bloed gewreek word, het die dreigement van hul Big Bosses in die Kaap gekom, Saterdag wanneer hulle by hulle braddes se begrafnisse optrek. Dood van ’n betrekskoot? Nee wat. Toe tronk sy en haar gesin maar in hulle eie huis. Kom Saterdag en hul stukkende strate is vol blink karre met Kaapse registrasies. Sy hou asem op tot haar ribbe pyn, sien riviere van bloed, lyke langs twee grafte. En toe. Niks. Omsingel deur ’n swerm polisievoertuie is daai gangsterkarre na die begraafplaas begelei en daarna die dorp uit. Sy was lam toe sy uiteindelik haar vrees saam met haar asem kon uitblaas, moes skoons met ’n asynlap op haar voorkop loop lê...

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.