Laat liefde dan ons erfenis wees

ONS BESTE TYE SAAM

Laat liefde dan ons erfenis wees

In hierdie Erfenismaand word sy herinner aan die klein dinge wat ons groot gemaak het, skryf ANASTASIA DE VRIES. Sy staan terug met ’n dankbare hart.

SY het pennie-polonie gaan koop, sê my kind, en ’n smoortjie gemaak. Ek lag binnetoe, met die dankbare hart van ’n ma wat weet haar meisiekind het ’n goeie mens geword. En dat die lewe vir ’n slag weer breëbek met haar kind lag. Dit gaan goed met haar kind. Pennie-polonietyd. Hul geheimtaal vir “my hart is lig, Ma, my lewe tot oorlopens vol”. Dis wanneer sy haar smoortjie maak, die kind van haar. Pennie-polonie in ywe en tamatie soos ’n worp teen die vrees vir gemak, eintlik die gemaksug van soveel goedgeit. Vir die onthou van ’n tyd toe dit armmanskos was. Teen die wete dat al hierdie goedgeit met die knip van ’n oog weer in die niet kan verdwyn.

“Onthou jy Ma, toe ’n maand langer was as die tyd wat ons geld gehou het, en ons soms nie eens pennie-polonie kon bekostig nie?” Ek onthou. Ons lag vir die onthou van ’n tyd toe “môre sal alles weer beter word” troos genoeg vir haar was. Is vandag môre? het sy keer op keer gevra wanneer daar op ’n dag weer vrugte en vleis en groente op die tafel was. Dit was ons beste tye saam, sê sy. Jy het swaargekry, sê ek. Miskien, sê sy, maar dit was ook my beste tyd. Die tyd toe ek in jou liefde leer glo het. Skryf daaroor, Ma. Oor onse erfenis. Oor liefde as erfenis. Neeeee, gil ek, praat van in my onnerrok voor die hele wêreld rondhol! Dissie probleem met hierie wêreld, sê die kind, almal wil net stêkgesig wees; jy wil net stêkgesig wees, bang vir weerloos wees, sentimenteel wees, vir onthou van die klein dinge wat ons groot gemaak het. Iewers tussen daai woorde van my oupatroon en die res verloor ek my gehoor. Ek vang net die stertkant: “Liefde, Ma, laat liefde dan ons erfenis wees.”

Ja, sê haar huismaat. Liefde. Vir hom in die onthou van die bebloede woltrui van sy ma in ’n kommetjie koue water. Sesuur in die oggend. Sy het die houe vir hom gevat. Hy was sewe of agt, sy pa ’n man met ’n onverskillige hand. Hy sou ’n man van hom maak, dié seunskind van hom met die fynbesnaarde aard. En sy ma tussenin voor die houe kon val. Tot dié aand. Hy onthou nie meer hoe dit geklink het toe haar neusbeen breek nie. Kamer toe, het sy ma gesê toe die bloed begin stroom. Die volgende oggend het haar liefde vir hom in ’n kom koue bloedwater in ’n skemer kombuis gelê. Liefde as erfenis, herhaal die kind. Die liefde van ’n ma of ’n pa wat eendag onse memories, onse erfenis word...

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.